Bome sneuwel by nuwe VSA ambassade
Bome sneuwel by nuwe VSA ambassade

Bome sneuwel by nuwe VSA ambassade

Die meeste van die inheemse bome kon glo nie verskuif word nie weens die vlak wortelstelsels in die rotse.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die meeste van die inheemse bome op die bouterrein van die nuwe Amerikaanse ambassade in Klein Windhoek het tydens die ontwikkeling in die slag gebly.

Volgens die Namib Trees-kwekery was daar onder meer 145 oumabome, 248 witgatbome, 31 aalwyne, 17 kanniedood, asook verskeie sambokbossies en gemsbokhoring op die terrein.

Die nuwe Amerikaanse ambassade-kompleks se ontwikkeling vind tans op die ses hektaar grond op die hoek van Metjestraat en Nelson Mandelarylaan plaas.

Namib Trees het Donderdag op hul Facebook-blad geskryf dat hulle in 2019 'n opname oor al die inheemse bome op die erf vir die Amerikaanse ambassade gedoen het en hulle wil weet waarheen is al die inheemse flora nou.

Namibiërs het op die blad hul woede oor die voortdurende, volskaalse uitwissing van Namibiese natuurlike hulpbronne deur buitelanders uitgespreek.

Namib Trees het glo verskeie kere vir die ambassade gesê hulle sal help om die plante te verskuif voor hulle met konstruksie begin.

“Die terrein sal die Windhoek­-omgewing se inheemse plantegroei weerspieël. Beskermde plantspesies sal op die perseel verskuif of aan die Botaniese Vereniging van Namibië geskenk word,” het die Amerikaanse ambassade in September 2019 aan Republikein gesê.

Namib Trees het die inheemse plante wat ten alle koste bewaar moes word met rooi linte gemerk.

Volgens die kontrak sal die Amerikaanse kontrakteur, B.L. Harbert International van Birmingham in Alabama, verantwoordelik vir die skade van enige beskermde flora op die bouterrein wees.

Die Amerikaanse ambassade het Vrydag op navraag van Republikein ‘n mediaverklaring uitgereik waarin aangedui word meeste van die inheemse bome kon nie verskuif word nie.

“Ongelukkig kon die meeste van die bome weens die vlak wortelstelsels in die rotse nie herplant word nie,” het die woordvoerder van die Amerikaanse ambassade, mnr. Walter Parrs, gesê.

Die aalwyne kan herplant word.

“Die kontrakteur het al die nodige permitte en toestemming van die regering om die werk te doen. Die kontrakteur sal nuwe bome in die plek van die oues aan Namibië skenk,” sê Parrs.

Die direkteur van bosbou, mnr. Joseph Hailwa, het Vrydag aan Republikein gesê die munisipaliteit van Windhoek moes goedkeuring gee oor watter plante moes bly of verwyder kan word.

"Gewoonlik nader hulle die direktoraat van bosbou as daar navrae is, maar hulle het nie in hierdie geval nie," het Hailwa gesê."

As 'n kontrakteur bome moet verwyder, is dit aanvaarbaar as nuwe bome in hul plek gekoop en aangeplant word," het hy bevestig.

"Omgewingsvolhoubaarheid is die hoeksteen van die ontwerpproses van die nuwe ambassade. Ons gee om vir Namibië se natuurlike hulpbronne en ons is toegewyd om alle plante en bome wat bewaar kan word, te beskerm," het Parrs beklemtoon.

Hy sê ’n plaaslike landskapfirma sal ná die voltooiing van die geboue slegs inheemse bome- en plantspesies aanplant. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!