Booys-verhoor: Borgtog geweier
Booys-verhoor: Borgtog geweier

Booys-verhoor: Borgtog geweier

'n Beskuldigde wat op twee klagte van verkragting en twee van bloedskande tereg staan, se borgtog is Dinsdag in die landdroshof op Okahandja van die hand gewys.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die voormalige parlementariër en Okahandja-streekraadslid, mnr. Steve (Biko) Booys, wat daarvan beskuldig word dat hy sy dogter verkrag het, se borgtogaansoek is Dinsdag in die landdroshof op Okahandja van die hand gewys.

Hoewel Booys se verdediging beweer het dat hy, indien hy op borgtog vrygelaat sou word, nie met ondersoeke sou inmeng, die land sou verlaat of van die hof sou wegbly nie, het landdros Khaepriums Swartz beslis dat Booys nie daarin geslaag het om die hof hiervan te oortuig nie.

“Die applikant het versuim om te bewys dat hy nie by die getuies sal inmeng nie en dat sy vrylating in openbare belang of in die belang van regspleging sou wees en daarom is hierdie aansoek van die hand gewys,” het Swartz in sy uitspraak gesê.

Booys bly in aanhouding by die ­Seeis-polisieselle tot sy volgende hofverskyning.

Hy staan tereg op twee klagte van verkragting en twee van bloedskande. Die staat voer aan dat hy sy 20-jarige dogter op 16 Januarie en ook op 17 Januarie vanjaar by sy huis op Okahandja verkrag het.

Sy dogter beweer hy het haar verkrag nadat hy haar dronk gemaak het. Booys ontken dit.

Booys beweer hy is 'n “agbare lid van die samelewing en doen goeie dade vir die gemeenskap, veral in informele nedersettings.”

Hy het tydens die verhoor aangedui hy wil 'n regverdige verhoor hê om sy goeie aansien te herstel.



STAAT SE STERK SAAK

Die staatsaanklaer Bernadine ­Bertolini het aangevoer die erns van die oortreding en die vrees dat die beskuldigde met die ondersoek en staatsgetuies sal inmeng, is redes waarom borgtog teengestaan moet word.

Bertolini het verder beweer dat die staat 'n sterk saak teen die beskuldigde het en, indien hy skuldig bevind word, moontlik 'n lang vonnis opgelê sal word.

Die staat het as bewys dat die oor­treding wel plaasgevind het verskeie beweerde selfoonboodskappe tussen die beskuldigde en sy dogter aan die hof voorgelê.

Twee van die boodskappe wat Booys na bewering aan sy dogter gestuur het, lui: “Ons was al twee dronk en dalk het ons 'n fout gemaak . . .,” en “Jy gaan my lewe en loopbaan hiermee vernietig.”

Staatsgetuies sluit in die beskuldigde se huishulp, ma, suster en die dogter as klaer.

Die staat het aangevoer dat Booys se vrylating nie in openbare belang is nie, omdat die saak baie mediadekking geniet en mense het tydens sy eerste verskyning teen sy vrylating betoog.

Booys word deur mnr. Vernon ­Lutibezi verteenwoordig.

Swartz het die saak tot 14 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!