Boran is ideaal aangepas vir Namibië

Die Boran is ‘n kleiner, kompakte beesras wat die antwoord vir Namibiese ekstensiewe toestande kan wees.
Ronelle Rademeyer
Elleni Strauss, Adelson Boranstoet – Namibië is ‘n droë land met beperkte weiveld en onvoorspelbare reën.

Boonop skep klimaatverandering onsekerheid oor weerstoestande. Dit vereis dat ons as boere moet aanpas by die veranderende omgewing.

‘n Struikelblok dalk, maar vir die boer wat aanpasbaar is lê die antwoord moontlik in ‘n kleiner “pakkie” – die Boran. ‘n Goeie, tong-in-die-kies beskrywing van die Boran is die volgende: “As jy na dié bees kyk, sien jy ‘n 15 kg suiker wat in ‘n 10 kg-sak verpak is”. Ek noem dit sommer die klein pakkie met die groot gif.

Die Boran is ‘n mediumraam beesras met sy oorsprong vanuit Oos-Afrika. Die aanvanklike plek van oorsprong was die Borana-plato in suidelike Ethiopië. Dit was die spesifieke punt waardeur al die verskillende beesrasse na hul verskeie bestemmings in Afrika migreer het.

Die Boran het ontwikkel tot die oorheersende ras van Oos-Afrika – veral in Kenia, waar die Keniaanse Boran Beestelersgenootskap (BCBS) sedert die begin van die eeu die “verbeterde Boran” geteel het.

“Terwyl die Boran-telers die vleiskonformasie van hulle diere aansienlik verbeter het, het hulle nooit die belangrike eienskappe van die inheemse ras uit die oog verloor nie,” lui ‘’n aanhaling deur die BCBS.

Sover bepaal kan word, is die Boran die enigste ras in Afrika (en dus die wêreld) om hierdie spesifieke kombinasie van gene te hê. Die Boran het in 700 n.C. die laaste infusie van “nuwe” gene gehad.

Die Boran is dus nie ‘n sintetiese of saamgestelde ras wat oor die afgelope paar dekades gekruis is nie. Dit word al vir 1 300 jaar as ‘n suiwer ras geteel. Die belangrikheid daarvan vir kommersiële telers is dat die Boran baie sterker basterkrag sal hê as moderne saamgestelde rasse.

Deur DNS-steekproefneming het prof. Olivier Hanotte en ander by die sentrum vir internasionale lewendehawenavorsing aan die Universiteit van Nottingham die genetiese samestelling van die Boran ontleed en dit bevind dit bestaan uit die volgende genetiese proporsies:

• Europese Bos Taurus – 24%

• Bos Indicus – 64%

• Afrika Bos Taurus – 12%

EIENSKAPPE

Die Boran het goeie bespiering en massa op ‘n vroeë ouderdom. Die verskeie liggaamsdele is in perfekte balans met mekaar. Die ras weerspieël aansienlike geslagsverskille met bulle wat veel groter en meer robuust is as koeie wat weer kleiner is met ‘n mooi, vroulike voorkoms.

Beide manlik en vroulike diere toon tipiese Boran-eienskappe wat deel vorm van die fenotipiese voorkoms van dié ras:

• ‘n Baie prominente skof;

• Goeie kapasiteit;

• Dik, los vel;

• Goeie bespiering;

• Sterk kop met goeie oog banke en ‘n breë bek;

• Prominente nekvel;

• Sterk rug;

• Kort, sterk bene en goeie kloue;

• Baie lang stert; en

• Baie kompak.

Die Boran is die optimale moederkoei van Afrika. Koeie het baie goeie uiers met goed gevormde spene wat genoeg melk produseer om ‘n kalf van meer as 50% van haar eie liggaamsgewig te speen op 7 maande ouderdom.

Borans het ‘n uitstekende kalfoorlewing as gevolg van die goeie moederinstinkte wat help om roofdiere af te skrik. Die Borans is kuddediere en daarom sal jy selde kry dat hulle nie in ‘n groep loop en wei nie.

Een van die Boran se karaktereienskappe is langslewendheid. Dit is redelik normaal vir ‘n 15 jarige koei om nog goeie tande in haar bek te hê en om nog gesond en vrugbaar te wees.

Dit is ook op rekord dat ‘n 16 jarige bul hoë gehalte semen vir kunsmatige insiminasie produseer het.

Vrugbaarheid is nog ‘n karaktereienskap van die Boran. Selfs gedurende droogtetye sal koeie voortgaan om te reproduseer en haar kalf groot te maak sonder om haarself te straf. Die verduideliking hiervoor is dat die Borankoei relatief min liggaamsgewigsverlies toon gedurende die soogperiode van haar kalf.

Die Boran is ook baie bestand teen siektes. ‘n Los, maar baie beweeglike vel met ‘n baie kort haarbedekking en ‘n hoë afskeiding van ‘n olierige stof maak die Boran ‘n minder gewilde gasheer vir borsluise en vlieë.

Di,k sterk oogbanke met baie lang wimpers en ‘n lang stert beskerm die inheemse ras teen insekte. Enkele ander eienskappe is ‘n goeie temperament, goeie kwaliteit karkasse, goeie tropinstinkte, goeie omsetter van ruvoer in goeie gehalte vleis, asook ‘n ras wat vroeg geslagsryp is.

Die Boran is ‘n maklik aanpasbare, geharde bees wat goed presteer vanaf die veld. Die ras is bekend vir sy uitstekende vermoë om ruvoer om te skakel in goeie vleis en daarom is dit nie nodig om ‘n Boran noodwendig in ‘n voerkraal af te rond nie.

Hulle presteer baie goed op die veld met behulp van goeie lekke en kan dan ook vanaf die veld geslag word en steeds ‘n baie goeie gradering behaal. Die Boran is ook ‘n blaarvreter en nie net ‘n grasvreter nie.

Koeie met ‘n fyn en vroulike voorkoms kan ‘n gemiddelde gewig hê van 380 kg tot 450 kg. Bulle se gewigte varieer gemiddeld tussen 500 kg en 850 kg. Kalwers by geboorte is aansienlik klein en weeg gemiddeld 28 kg vir bulkalwers en 25 kg vir verskalwers. Speengewigte varieer gemiddeld tussen 170 kg tot 200 kg vir verskalwers en 180 kg tot 230 kg vir bulkalwers, afhangend van die kwaliteit weiding beskikbaar op die veld.

EKONOMIESE VOORDEEL

Hierdie karaktereienskappe dui daarop dat die Boran wel ‘n bees is wat in ‘n toekomstige Namibië ‘n verskil kan maak. Die belangrike vrag vir baie boere is natuurlik of hulle geld sal maak met mediumraambees soos die Boran?

Sonder wins maak dit immers nie ekonomies sin om te boer nie.

“Die belangrikste ekonomiese eienskap van beeste is hoeveel kilogram vleis per hektaar geproduseer kan word. Om die grootste hoeveelheid vleis per hektaar te produseer, moet jou bestokking so hoog as moonklik wees. Dit is slegs haalbaar deur medium- tot kleinraamdiere aan te hou,” verduidelik Johan Erasmus van Jeras Boran in Suid Afrika.

Die Boranras bied vir die kommersiële beesteler ekonomiese voordele wat boerdery volhoubaar maak.

Om winsgewendheid te verhoog, moet insetkoste verlaag word deur meer beeste aan te hou waarvan die onderhoudsbehoeftes laer is. Die Boran se speengewigte is egter mededingend as dit met ander rasse vergelyk word.

Faktore wat insetkostes verlaag is:

· ‘n Verminderde toediening van bosluisweerders;

· Die gebruik van kontakdoders pleks van duurder sistieme middels;

· Laer frekwensie van toedienings. By Borans is twee keer per seisoen voldoende, waar dit met ander rasse soms tot ses keer per seisoen kan wees; en

· Verlaagte lekinnames.

Die Boran Beestelersgenootskap van Namibië, wat in 2006 gestig is, se slagspreek “Ideaal aangepas” slaan die spyker op sy kop.

Daar is tans 17 Borantelers van dwarsoor Namibië by die genootskap geregistreer.

Vir meer inligting oor die ras of telers, kontak sekretaris Hubertus Hamm by 081 124 5857 of [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!