Bordjies brul weer in stryd teen leeus
'n Petisie met meer as 200 handtekeninge teen die leeus bestaan glo reeds.
Des Erasmus
Daar brul die Erongo-bergbewaringsgebied (EMC) se leeus weer, al is dit dié keer dalk net op blik.
Ná ministeriële versekerings dat die probleemleeus van Grootberg in Damaraland uit die EMC as hul hervestigingsgebied verwyder gaan word en 'n onrustige stilte wat sedert die begin van Februarie oor die gemeenskap neergedaal het, het waarskuwingsborde uit die bloute by die toegangshek verskyn dat dit nou leeuwêreld is.
Aanvanklik is vyf leeus van die probleemtrop by Grootberg teen die einde van November na die Omaruru-geweste verskuif.
Een leeuwyfie het tydens die hervestiging gevrek, nog 'n leeu het al by die bedding van die Omarururivier weswaarts koersgevat en nog een het blykbaar na die Erongo-bergland weggebreek.
Me. Conny Kayser, een van die kampvegters teen die hervestiging van die leeus, het aan Republikein gesê die stilte sedert die begin van Februarie het haar laat meen die leeus is wel verwyder.
Sy het aanvaar 'n swart en rooi helikopter wat laag oor die gebied gevlieg het, het ook verband gehou met die verwydering en die stilte wat ingetree het.
“En nou die skielike bordjies teen 'n leeugevaar, soos die meer bekende bordjies teen 'n koedoegevaar?”
Só vra me. Kayser. “Beteken dit ons verset was vergeefs en dat niks van die onderneming geword het dat die roofdiere verwyder gaan word nie? Is hulle nog altyd daar, maar ons sien of hoor hulle net nie?”
Sy en boere en nielede van die EMC reken in hul verset op voorvalle waarin 'n perd, 'n bees, bokke en selfs 'n donkie deur leeus aangeval, gevang en opgevreet is.
Die bewaringsgebied is toeristevriendelik en ook 'n plek waarheen voetslaners en avonturiers op bergfietse en motorfietse gaan.
Me. Kayser sê 'n petisie met meer as 200 handtekeninge teen die leeus bestaan reeds. Sy meen heelwat meer handtekeninge gaan nou kom nadat die bordjies verskyn het waarop padgebruikers gewaarsku word teen 'n leeugevaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie