Borduurwerk bring geld in

Tanja Bause
Tanja Bause - Me. Wilma Schoeman se lappiesborduurprojek in Outjo voorsien ’n ekstra inkomste aan omtrent 30 vroue van die informele nedersetting en die omgewing.
Schoeman teken prentjies van diere, bome en berge op lap en daarna borduur die vroue die lap by hul huise.
“Die vroue self besluit watter kleure en steke hulle wil gebruik. Elke voltooide lap is dus uniek,” het Schoeman gesê.
Sodra die lap klaar is, bring die vroue dit na die Tabita Sentrum van Hoop en ontvang hulle hul geld en nuwe lap.
Me. Selma Sonoabes is een van die vroue wat die kuns van borduurwerk by Schoeman geleer het en reeds die afgelope 21 jaar daarmee doenig is.
“Hoewel ek nie self die prentjies teken nie, is elke lap my eie skepping wat ek met my hande gemaak het. Ek besluit of ek ketting- of stersteke gaan gebruik en waar op die lap ek dit gaan plaas,” sê sy trots.
Volgens Sonoabes help die ekstra inkomste dat sy haar huis kan afbetaal en haar kinders die skool kan bywoon.
Sy maak tafeldoeke en kussingslope, maar sy kan ook op enige materiaal soos T-hemde of jeans borduur.
Me. Lena Lambert het 16 jaar gelede by die projek aangesluit en sy soom al die lappe om, maak die kussingslope en is verantwoordelik daarvoor dat elke lap gewas en gestryk word voordat dit verkoop word.
Die lappe word deur Schoeman op die dorp en op omliggende gasteplase verkoop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer