Borgappèl van beweerde verkragter suksesvol
Die beskuldigde is in Desember verlede jaar in hegtenis geneem, en word daarvan beskuldig dat hy ’n minderjarige in 2020 drie keer verkrag het.
Jana-Mari Smith – 'n Walvisbaaise man (63) wat daarvan beskuldig word dat hy 'n 13-jarige familielid in 2020 meermale verkrag het, se borgappèl was suksesvol.
Hoërhofregter Herman January het die uitspraak van landdros John Sindano van Walvisbaai, wat in Februarie vanjaar ‘n Kuisebmond-pensioenaris se aansoek om borgtog geweier het, ter syde gestel.
Die man se naam word weerhou om die identiteit van die minderjarige wat na bewering verkrag is te beskerm.
In sy uitspraak vandeesmaand het January die man borgtog van N$3 000 toegestaan met verskeie voorwaardes daaraan verbonde. Dít sluit in dat die man drie keer per week by die Kuisebmond-polisiekantoor moet aanmeld, hy nie die Walvisbaai-munisipale gebied mag verlaat sonder skriftelike toestemming van die polisie nie en hy moet al sy reisdokumente aan die polisie oorhandig.
Die pensioenaris is in Desember verlede jaar in hegtenis geneem, en word daarvan beskuldig dat hy die minderjarige in 2020 drie keer, onder meer op haar verjaardag, verkrag het.
In sy aansoek om borgtog het hy aangevoer die primêre rede vir die aansoek is sy ouderdom en gesondheidsredes, wat hom kwesbaar maak vir Covid-19 in die oorvol polisieaanhoudingselle.
In sy getuienis het hy gesê hy deel 'n klein sel met minstens 12 ander gevangenes, met baie nuwe mense wat gedurig inkom en uitgaan.
Hy het ook verskeie gesondheidstoestande genoem waarvoor 'n spesiale dieet en medikasie nodig is.
Die ma van die beweerde verkragtingslagoffer het boonop in die hof gesê “sy wil hê die appellant moet op borgtog vrygelaat word”.
Die ma het verder getuig die vermeende slagoffer, wat voor die pensioentrekker se inhegtenisneming by hom gebly het, woon nou by 'n vriend sodat sy nie met haar vermeende aanvaller kontak sal hê nie.
Die ondersoekbeampte het in die hof getuig die ondersoek is afgehandel en erken die beskuldigde het nie by die ondersoek ingemeng nie.
Sy het erken die klaagster se ma het haar tydens die ondersoek genader om te vra dat die aanklagte teen die pensioenaris teruggetrek word.
Sindano se weiering om borgtog toe te staan, word aan verskeie redes toegeskryf, waaronder dít wat hy as bewyse van “donker kragte” wat met die ondersoek inmeng, beskryf het.
In sy uitspraak het January benadruk, hoewel die beskuldigde ernstige aanklagte in die gesig staar, dit van kritieke belang is dat hy as onskuldig beskou word totdat sy skuld bewys is.
“’n Beskuldigde kan nie in aanhouding verhoorafwagtend wees, waar die afwagting deel van die straf is nie.”
Op grond van die getuienis, het hy benadruk, het die beskuldigde nie ná sy inhegtenisneming ingemeng nie, hoewel die landdros die las van ander partye se inmengery op die beskuldigde se skouers geplaas het.
January het gesê die “vrees vir inmenging met getuies is, volgens my, ongegrond”.
Die oorweging van borgtog berus op die vraag of daar sekerheid is dat geregtigheid sal geskied indien die beskuldigde borgtog kry, het January benadruk.
Hy het tot die slotsom gekom die weiering om borgtog toe te staan was in dié geval verkeerd.
“Die appellant het gesê hy is bereid om verhoor te word en het streng borgtogvoorwaardes voorgestel wat aan die toekenning daarvan verbonde moet wees. Die ondersoekbeampte het getuig sy is nie bang dat die appellant op die vlug kan slaan nie, alhoewel dit nie gronde vir 'n beswaar is nie.”
Mnr. Raywood Rukoro van LorentzAngula Inc. is die appellant se regsverteenwoordiger, terwyl die staat deur die staatsprokureur, me. Innocentia Nyoni, verteenwoordig is. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie