Borman wen gesogte Arnold Classic

Die Swakopmunder is die eerste Namibiër wat die sport se professionele vlak haal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 39-jarige Alethea Borman van Swakopmund het laas naweek haar klas in die uiters gesogte 2018 Arnold Classic Afrika liggaamsboukompetisie in Johannesburg gewen en boonop haar professionele status daarmee verdien.

Borman het in Desember die eerste Namibiër geword wat aan die 2017 World Fitness-kampioenskap in Biarritz, Frankryk deelgeneem het, maar haar suksesverhaal is nie oornag geskryf nie.

In Frankryk was sy ietwat ongelukkig om algeheel 13de geplaas te word, maar dit het nie dié ystervrou ondergekry nie.

Borman was nog altyd 'n atleet en het op elfjarige leeftyd met die gimnasium kennis gemaak waar haar ouboet Jood Opperman, bekende in rugby en liggaamsbou, haar touwys gemaak het. Haar eerste liggaamsbou-kompetisie was in 1994 toe sy saam met haar ouboet die verhoog by die Mnr. Namibië-kampioenskap gedeel het.

Die gogga het gebyt en die koeël was deur die kerk vir die 14-jarige meisie, wat tot vandag nog doenig is in die Eight Plates gimnasium in Swakopmund.

“Eight Plates is my gelukkige plek waar ek vir sewe dae 'n week oefen. Dis waar ek tuis voel en my dag om 04:30 begin as ek vir 'n uur sweet. Ná werk is ek terug in die gimnasium vir nog 'n uur. Ek oefen van Maandae tot Vrydae twee keer per dag en oor naweke bestee ek net een sessie per dag by Eight Plates,” vertel Borman entoesiasties.

Vir 'n liggaamsbou-atleet om algeheel 13de by 'n wêreldkompetisie geplaas te word, is in geen opsig 'n gelukskoot nie. Ysere dissipline en harde werk is die sleutel tot sukses en hiervan het Borman hope.

“Ek en my man Theo het drie dogters van wie die jongste een einde 2011 gebore is. Soos dit met enige moederskap gaan, verander jou liggaam, maar ek het vasgebyt en was middel-2012 weer in goeie vorm.

“Die volgende jaar Junie het ek weer aan my eerste kompetisie deelgeneem en in 2014 eindig ek vierde by die Amateur Olympia Afrika-kampioenskap. In 2016 kry ek die tweede posisie by die einste Arnold Classics en verlede jaar buit ek die WP-kampioenskap in Kaapstad, wat my toe in staat gestel het om in Biarritz te gaan deelneem.

“Ná my 13de plek in Frankryk is aan my gesê dat ek te gespierd en groot vertoon het en ek besluit toe om minder ontwikkeld by my volgende optrede op te daag, wat beslis vrugte afgewerp het. Nadat ek my uitnodiging in Februarie 2018 na die Arnold Classic ontvang het, was ek nog steeds uitgeput weens my streng dieet en die oefenprogram wat ek vir sewe maande voor Biarritz gevolg het.

“Ek het gesukkel om aan die gang te kom, maar gelukkig is Theo my grootste steunpilaar in tye wanneer dit nodig is. Hy, asook familie en vriende, het my gedra en aangespoor om my strawwe roetine vol te hou,” het die kampioen vertel.

Die internasionale kampioenskap wat in die Sandton Convention-sentrum aangebied is, was soos gewoonlik chaoties met hope deelnemers, beamptes en organiseerders wat dieselfde spasie moes deel.

Borman vertel sy was onder die indruk dat haar liggaam nie op peil was nie en het ietwat paniekerig gevoel oor haar kompetisie.

Nogtans was sy die wenner uit ses deelnemers in die Body Fitness-klas vir vroue korter as 158 sentimeter. In die algehele kompetisie is sy tweede uit omtrent 30 geplaas, waarna sy en die kampioen uit Brasilië met professionele kontrakte beloon is.

“Riaan Barnard, wat al vir vier jaar in beheer van my dieet is, het my die vorige dag ondersoek en gesê ek is 100 persent reg voorberei. As dit nie vir hom was nie, was ek sekerlik verlore. Ek het Vrydag om 04:00 opgestaan om my vir die optrede voor te berei wat later die dag sou plaasvind.

“Ons eet elke twee ure en die water-inname moet ook reg wees, want as ons op die verhoog verskyn, moet ons liggame net die regte spiertonus hê.

“Ek het daar opgestap en geweet ek het my beste gelewer. Ek was reg voorberei en kon nie 'n duit omgee wat ander dink nie, want ek het geweet ek lyk op my beste. Toe hulle die tweede plek aankondig en dis nie ek nie, het ek geweet die gesogte titel is myne en was ek uit my vel van blydskap!

“Ek was stomgeslaan en kon dit nie glo nie! Ek het my grootste droom bewaarheid en kan dit nie verwoord nie.

“Nadat die kompetisie verby was, is ek deur die internasionale beoordelaars en hoofbeoordelaar ingelig dat ek nou 'n professionele liggaamsbouer is wat nie meer aan amateurkompetisie mag deelneem nie.

“Uiteindelik word ek die eerste Namibiër wat 'n internasionale kompetisie gewen het en as 'n IFBB Pro-atleet geregistreer is.

“Ek dank God vir sy krag en leiding; sonder Hom sou al hierdie dinge nutteloos gewees het. My familie wat my anker is en my man Theo wat my gedra het,” het Borman aan Republikein vertel.

Borman bedank SWK Uranium, Eight Plates gimnasium, Dischem (dieetaanvullings), TanOnTheRun (Estee Solazzi vir kitssonbruin), Air Namibia (vliegkaartjie), Safarifit (oefenklere), Mildred Hendriks, Freddy Oosthuizen, Elma Schwartz, Mornay en Ounie Jarman, haar ouers, die Jarman-, Opperman-, Borman- en Morkel-families wat haar ondersteun en dit moontlik gemaak het om in Frankryk en die afgelope naweek in Johannesburg deel te neem.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer