Bosbenutting: Protes bloot 'gebrek aan begrip'
Plaaslike organisasies meen Hamburgse wetenskaplikes en burgerlike organisasies is teen die benutting van Namibiese bos gekant omdat hulle nie al die feite verstaan nie.
Elvira Hattingh
Verskeie Namibiese burgerlike organisasies onder leiding van die Namibië Natuurstigting (NNF) het hul stem dik gemaak ter ondersteuning van die moontlike gebruik van Namibiese indringerbos vir kragopwekking in Duitsland.
Dit is hangende 'n haalbaarheidstudie wat nog hieroor aan die gang is.
In 'n mediaverklaring Woensdag wat deur talle plaaslike organisasies onderteken is, sê die NNF die “meer as 'n dosyn burgerlike organisasies en wetenskaplikes” wat verlede jaar hieroor 'n ope protesbrief aan Duitsland se owerhede geskryf het, se teenkanting spruit uit onkunde.
“Wat uit die protesbrief duidelik is, is 'n gebrek aan begrip van Namibië se dorre ekostelsel en die kwessie van verbossing, wat wesenlik verskil van die gevolge wanneer biomassa in Europese lande gebruik word,” skryf die NNF.
Dit volg nadat oorsese drukgroepe in Oktober 2020 hul afkeur teenoor Duitsland se federale minister vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling, dr. Gerd Müller, uitgespreek het oor 'n haalbaarheidstudie wat gedoen word om te sien of Namibiese biomassa in Hamburg, Duitsland, benut kan word.
Die Europese land oorweeg verskeie opsies om nie langer steenkool vir energie-opwekking te gebruik nie.
Earthlife Namibia was een van dié organisasies wat toe gesê het so 'n ooreenkoms sal nie “klimaatsvriendelik” of “maatskaplik regverdig” wees nie.
Onder die 12 plaaslike burgerlike organisasies wat tans saam met die NNF staan, tel die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), die Namibiese Vereniging vir die Omgewing en Wildlewe (News), die Namibië Houtskoolvereniging (NCA), die Namibië Biomassa-nywerheidsgroep (N-BiG), die Namibië Landbou-unie (NLU), die Cheetah Conservation Fund en N/a'an ku sê.
In 'n brief van sowat ses bladsye, verduidelik die NNF tussen 45 en 60 miljoen hektaar is in Namibië verbos, wat biodiversiteit, grond, die beskikbaarheid van water en mense se lewensbestaan negatief beïnvloed.
Die NNF verduidelik bosuitdunning kan help om volhoubaarheid te verbeter. Voordele sluit in om die agteruitgang van grond te keer, die verbetering van biodiversiteit en veerkragtigheid teenoor klimaatsverandering, asook die vooruitgang van die plaaslike veebedryf.
Hulle verduidelik dat die plaaslike biomassa-bedryf in sy kinderskoene staan en die plaaslike vraag daarna ver ontoereikend is om die hoeveelheid bos te benut wat nodig sal wees om die agteruitgang van grond te keer en doelwitte vir biodiversiteit te bereik.
Die ontwikkeling van nuwe waardekettings met streng standaarde vir volhoubaarheid – soos vereis deur Europese markte – is 'n waardevolle geleentheid om die sektor te help om 'n positiewe invloed op die omgewing te hê.
Die NNF verduidelik Namibiese bos word hoofsaaklik vir houtskool benut en meer waardekettings sal tot groter werkskepping lei.
Boonop sal NamPower ook binne die volgende jaar 'n kragaanleg bou wat biomassa sal benut, maar steeds is verbossing 'n té groot probleem en sal hierdie bedrywe slegs 'n geringe verskil maak.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie