Boskos op Hartebeestloop onder die loep
Boskos op Hartebeestloop onder die loep

Boskos op Hartebeestloop onder die loep

Die boeredag later die week op Hartebeestloop sal boere met kennis vir droogte-oorlewing bemagtig.
Ronelle Rademeyer
Die jaarlikse Hartebeestloop Bonsmara-boeredag en -veiling vind Donderdag en Vrydag naby Stampriet plaas en dit beloof om ’n geleentheid te wees waar boere met inligting oor doeltreffende droogtebestuur bemagtig sal word.

“Namibië gaan gebuk onder een van die ergste droogtes in menseheugenis en daar is ‘n moedelose gevoel onder die boeregemeenskap,” sê dr. Joggie Briedenhann, eienaar van die Hartebeestloop Bonsmara-stoet en een van Suider-Afrika se voorste boere.

“Die diepgewortelde verantwoordelikheid om diere te versorg en genoegsame kos te verskaf – hierdie eienskap is die rugraat van die Namibiese boeregemeenskap en ook die tema van die boeredag. Die planne, kreatiwiteit en soeke na voer, dryf die ontwikkeling van ‘Bos na Kos’. Die boer sal nie ophou soek na oplossings vir die droogte en vir die behoud en versorging van die diere nie.

“Namibiese boere sit met die beste droogtetaai-diere in die werêld. Ons val nie meer vir elke foefie of verkoopsman wat hierheen oorwaai nie. Ons boere is taai en gebrei, en weet wat werk in ons omgewing en land.

“Namibiërs verwelkom kennis en omarm vordering, maar besef meer en meer die waarde van die kundigheid in ons eie midde. Dit is die basis van teling op Hartebeestloop en ook die tipe diere wat op die veiling sal wees,” sê Briedenhann.

BOEREDAGPROGRAM

Namibiërs word tans toegegooi onder verskillende stelsels wat voer produseer.

Boere, uit die aard van hul persoonlikhede en die nood waarin hulle verkeer, is tans baie vatbaar vir enige kitsoplossing. “Bos tot Kos” is plaaslik ontwikkel, verfyn en omskep in ‘n werkbare oplossing vir sekere gedeeltes van Namibië, verduidelik Briedenhann.

Dit word gedoen deur boere op hul plase en die resultate is beskikbaar. Dit word ook wetenskaplik gerugsteun deur beide plaaslike en internasionale organisasies, asook multinasionale maatskappye.

Plaaslike tegnici is deurentyds besig om die toerusting te verbeter en by plaaslike behoeftes aan te pas. Net so is plaaslike voermaatskappye ook deurentyd besig om die voedingswaardes van die verskillende boskosse te ontleed en aanpassings te maak om ‘n werkbare produk te skep.

Namibiërs pioniers in die maak van boskos, soos mnr. Piet Gouws van Outjo, sal hul kundigheid en ervaring deel.

“Jy gaan presies weet watter voeding is in die rou boskosproduk wat tans beskikbaar is op jou plaas. Dit beteken ook dat jy presies ingelig gaan word oor die byvoegings wat benodig word om dit as oorlewings-, onderhouds- of produksierantsoen te gebruik,” sê Briedenhann.

Die verskillende veevoervervaardigers, finansieringsinstellings, asook die vervaardigers van die verskillende soorte toerusting sal ook teenwoordig wees.

‘n Ander praatjie sal handel oor die nuutste kunsmatige inseminasie (KI)-tegnologie, asook oor die impak wat dit op beesproduksie het.

Die boeredag begin Donderdag om 08:30, terwyl die veiling van droogtetaai-stoetdiere Vrydag om 11:00 afskop.

Besoek www.bonsmara.com.na vir meer inligting.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!