Boskrag kan beesbedryf, geldsake red

Namibië het genoeg indringerbos om selfs ‘n 100 MW-kragopwekkingsaanleg te dryf, maar selfs dit sal nie ‘n duik in die jaarlikse toename in verbossing maak nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - NamPower se strategie vir die verskaffing van brandstof aan hul beplande 40 MW-kragopwekkingsaanleg naby Otavi sal van langtermyn- én ad hoc-verskaffers gebruik maak.

Tydens die afgelope Biomassategnologie-ekspo het NamPower se dr. Grant Muller en mnr. Gordon Gadney verslag gedoen oor vordering met die nasionale kragverskaffer se planne om teen 2022 sowat 40 MW se elektrisiteit met indringerbos as brandstof op te wek.

Volgens NamPower moet die nodige omgewingsklaring asook die omgewingsbestuurplan aan die ministerie van die omgewing en toerisme voorgelê word sodat goedkeuring gekry kan word.

Die befondsingstrategie vir die aanleg moet ook nog uitgeklaar word en brandstofverskaffers moet geïdentifiseer moet word.

Die kragopwekkingsaanleg sal volgens plan in die Otjikotostreek naby Otavi gebou word op 44 ha grond wat aan NamPower behoort.

Muller het tydens die geleentheid gesê daar sal van langtermynbrandstofverskaffers verwag word om die meerderheid brandstof te verskaf en prestasieverpligtinge na te kom, wat groot belegging sal verg.

Ad hoc-verskaffers sal kleiner spelers die geleentheid bied om ook deel van die brandstofverskaffingswaardeketting te word, terwyl hul vragte nie so groot hoef te wees nie en hulle eenvoudiger verskaffingsooreenkomste sal kan aangaan.

‘n Openbare vergadering waartydens dié strategie met belangstellendes gedeel is, het reeds kort ná die ekspo in Windhoek plaasgevind.

KRAGOPWEKKING

Namibië het meer as genoeg indringerbos om selfs ‘n 100 MW-kragaanleg te dryf. Aanlegte wat dié hoeveelheid elektristeit opwek, sal sowat 760 000 ton biomassa per jaar gebruik, het mnr. MJ de Wet van die Africa Biomass Company in Suid-Afrika tydens die ekspo gesê.

“Dit beteken dat steeds net 60% van die bos benut word wat jaarliks as deel van die land se verbossingsprobleem groei.

“Om te keer dat Namibië se verbossingsprobleem vererger, moet daar tussen 1,4 tot 2,2 miljoen ton bos per jaar geoes word,” het De Wet gesê.

Hy sê die opwekking van elektrisiteit met indringerbos as brandstof kan Namibië miljarde spaar wat die invoer van elektrisiteit betref, terwyl dit ook duisende plaaslike werksgeleenthede kan skep.

De Wet meen dié soort aanlegte kan selfs ‘n ommeswaai in die plaaslike vleisbeesbedryf bring en sal help om Namibië se savannavlaktes, biodiversiteit en ondergrondse waterbronne te herstel.

“Konserwatiewe skattings dui daarop sowat 500 nuwe werksgeleenthede kan geskep word met elke 20 MW-kragopwekkingsaanleg wat gebou word en van indringerbos gebruik maak,” het De Wet gesê.

BESTE PRYS

Hy sê Namibiese indringerbos kan ingespan word om elektrisiteit teen tussen N$2,50 en N$2,80 per kWh op te wek.

Volgens De Wet sal dit sowat N$760 per ton kos om indringerbos of biomassa aan die kragopwekkingsaanleg by Otavi te lewer, terwyl lignietsteenkool sowat N$2 100 per ton sal kos om te lewer en antrasietsteenkool N$2 500 per ton.

“Dit beteken die koste vir energieopwekking is N$47,50 per gigajoule (GJ) as bosse gebruik word, en onderskeidelik N$84 en N$89,29 per GJ as ligniet- en antrasietsteenkool gebruik word,” het hy gesê.

De Wet meet buiten die bekostigbaarheid daarvan kan Namibiese biomassa ook suksesvol met ingevoerde steenkool meeding omdat dit ‘n hernubare bron is wat minder skadelike gasse vrystel en “skoon as” as ‘n byproduk het, wat vir die herstel van savanna-vlaktes aangewend kan word.

Daarteenoor lewer steenkool giftige byprodukte.

GROOT SKAAL

De Wet meen Namibiese biomassa kan ingespan word om elektrisiteit ononderbroke vir dekades lank op te wek.

Hy sê ‘n enkele 20 MW-kragopwekkingsaanleg sal sowat 152 000 ton biomassa per jaar gebruik.

Dit kan sowat 150 000 MWh per jaar lewer.

“Dié groot aantal bosse of biomassa kan deur vyf Bandit Beast Chipper Trains geoes word. Dit sal beteken bosuitdunning word jaarliks op sowat 10 000 ha grond gedoen.

“Die ‘bostreine’ oes elk sowat 30 000 ton bosse per jaar en kan dit teen ‘n prys van N$760 per ton oes, uitdroog, maal en oor 100 km vervoer.

“Boonop sal so ‘n kragaanleg vereis dat vyf kleiner spanne, wat van mense gebruik maak om bos te oes en hout te maal, ook ingespan moet word. Daarná sal nog vyf spanne moet werk om nasorg te doen waar bosse geoes is,” het De Wet gesê.

Die kragopwekkingsaanleg self sal altesaam 240 werksgeleenthede skep.

Boonop kan die monetêre omset van ‘n 20 MW-kragopwekkingsaanleg sowat N$375 miljoen per jaar behels.

VOORDELE

Africa Biomass Company sê die verwydering van indringerbos sal ‘n baie positiewe uitwerking op ondergrondse watervlakke hê, veral aangesien Namibiese akwifers erg onder verbossing deurloop.

Daarbenewens sal bosuitdunning, met goeie nasorg, beteken landbougrond sal in geraakte gebiede soveel verbeter dat dit minstens een grootvee-eenheid per 15 ha sal kan hanteer.

“Wanneer verboste landbougrond op die regte manier ná bosuitdunning herstel word, kan daar, per 20 MW-kragaanleg, ‘n geraamde 3 000 meer beeste elke vier tot vyf jaar op die grond grootgemaak word.

“Dit behoort tot verbeterde beesproduksie, speenkalfverkope asook verslagting by abattoirs te lei.”

“Boonop sal so ‘n gedensentraliseerde kragopwekkingaanleg tussen 180 en 200 permanente werksgeleenthede oor ‘n tydperk van minder as 10 jaar in die beesbedryf skep.

“Dit is nou as werksgeleenthede op plase, in die vervoerbedryf, in voerkrale en slagplase in berekening gebring word,” het De Wet gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!