Boskrag vir Namibiu00eb, buurlande
Boskrag vir Namibiu00eb, buurlande

Boskrag vir Namibië, buurlande

Die volhoubare oes van indringerbos om energie op te wek, kan meer biodiversiteit in weiding en werksgeleenthede meebring.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Deur slegs 1% van Namibië se huidige indringerbos te gebruik, kan tot 900 Megawatt (MW) hernubare elektrisiteit opgewek word.

Dit is genoeg om in Namibië se vraag na 650 MW se elektrisiteit op piektye te voorsien.

Terselfdertyd sal genoeg elektrisiteit oor wees om aan die res van Suider-Afrika te voorsien, wat die land van ‘n bykomende inkomste kan voorsien.

Só sê die Namibia Biomass industry Group (N-BiG) se algemene bestuurder, mnr. Colin Lindeque. Hy sê opsies oor hoe biomassa binne die energiesektor ingespan kan word, is een van die onderwerpe wat tydens die komende Biomass Technology Expo op 9 Augustus bespreek sal word.

Die geleentheid, wat buite Otjiwarongo by die Otjiwa Safari Lodge aangebied sal word, sal deur van die wêreld se leiers in biomassa-energie-tegnologieverskaffing bygewoon word, wat John Thompson van Suid-Afrika, Kohlbach van Oostenryk asook Spanner Re2 van Duitsland insluit.

Volgens Lindeque is die gebruik van indringerbos vir die opwekking van energie ‘n wensituasie vir Namibië.

“Die rou materiaal, naamlik die indringerbos wat natuurlik oor 45 miljoen ha van ons land voorkom, raak ‘n probleem as dit toegelaat word om oor te neem. Dit het rééds oorgeneem.

“Die verwydering hiervan op ‘n volhoubare wyse om energie op te wek, lei tot die skep van beter biodiversiteit as dit by weiding kom, asook tot die skep van gedesentraliseerde, volhoubare werksgeleenthede.

“Boonop kan hernubare energie op dié manier plaaslik opgewek word,” het Lindeque gesê.

Volgens hom is daar in Namibië gemiddeld tot sowat 10 ton bosbiomassa per hektaar vir oesdoeleindes beskikbaar.

Terselfdertyd kan 5 000 ton indringerbos 1 MW elektrisiteit per jaar genereer.

“Dit sal sowat 3 miljoen ton hout neem om Namibië vir ‘n jaar lank van krag te voorsien, terwyl ons sowat 450 miljoen ton indringerbos het,” het hy gesê.

Hierdie tipe energie is ook skoner as die verbranding van fossielbrandstowwe en boonop hernubaar.

Dit kan dieselkragopwekkers, swaar ruolie, en steenkoolaangedrewe kragopwekkers vervang, asook ingevoerde krag wat met fossielbrandstowwe gegenereer word.

Lindeque sê hierdie metode kan gebruik word om elektrisiteit of hitte soos benodig te vervaardig en dit kan op klein of groot skaal gebruik word. Boonop lewer dit nuttige byprodukte soos hitte, kole of as.

Hy sê Namibië benodig hierdie produkte meer as ooit, gesien in die lig daarvan dat ons meer as 70% van ons elektrisiteit van Suid-Afrika moet invoer, nie meer weiding het nie weens die droogte en bosindringing en ons werkloosheidsyfer baie hoog is.

Hy sê biomassa as energiebron word dikwels misgekyk omdat daar hoofsaaklik op winsgewendheid in die energie-ekonomie gefokus word, terwyl maatskaplike asook omgewingsvoordele misgekyk word.

Hy sê almal in Namibië weet van sonkrag, wat nie baie plaaslike werksgeleenthede skep nie, nie help om meer gras te laat groei of biodiversiteit te verbeter nie en nie waardevolle byprodukte lewer nie – anders as biomassa-energie.

Belangstellendes wat die komende Biomass Technology Expo 2019 wil bywoon, waar meer as 95 uitstallers te sien sal wees, kan kaartjies aanlyn by Webtickets Namibia of by plaaslike Pick n Pay-winkels koop.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!