Bothma brand vir 'n terugkeer

Die Namibiër sê sy paaie gaan van sy Engelse premierligaklub skei.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Renaldo Bothma, 30-jarige agtsteman van Harlequins in Londen, kan moontlik aanstaande seisoen weer sy rugby suid van die ewenaar in Afrika speel.

Bothma se driejaarkontrak met Quins verstryk vandeesmaand. Hy het onthul dat hy nie sy kontrak met Quins gaan hernu nie.

Vandat hy sy loopbaan by die Engelse premierligaklub tydens die 2017-'18-seisoen afgeskop het, het hy 27 wedstryde vir sy klub gespeel en een drie gedruk.

Die uitgetrede Namibiese kaptein, vuurvreter-agtsteman en flank, het tussen 2016 en Januarie 2018 sy regtervoorarm drie keer binne 18 maande gebreek. Die enigste uitweg was om die gewraakte arm chirurgies te herstel. Sedertdien is hy darem nie weer deur die arm gepootjie nie.

Bothma het vanaf 2014 tot November 2018 in 17 toetse vir Namibië opgedraf en agt drieë gedruk (40 punte).

Phil Davies, die nasionale hoofafrigter, het hom in sy 2015 Wêreldbekergroep na Engeland ingesluit, maar hom vir sy uitsoek-31 na die 2019-skouspel in Japan oor die hoof gesien. Die agtsteman het onmiddellik hierna sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig.

Bothma vertel self: “Ek het net voor die 2019 Wêreldbeker in Japan my uittrede uit Namibiese rugby aangekondig. Dinge tussen my en Phil Davies het ongelukkig nie uitgewerk nie.

“Hy het vir my gesê hulle gaan my nie vir Japan kies nie en ek was natuurlik baie geskok. Ek het dit nie verwag nie en was baie teleurgesteld met sy besluit, want ek het hard gewerk om fiks en reg te wees. Ek het toe besluit om liewer uit te tree en my aandag op my loopbaan by Harlequins en my besigheid te fokus.

“Ek het 'n paar maande gelede besluit om Johan Diergaardt, die nuwe nasionale afrigter, te kontak om te hoor hoe dinge lyk en of daar 'n geleentheid vir my is om terug te kom.

“Hy (Diergaardt) het my besluit verwelkom en gesê ek sal met ope arms ontvang word. So, ek wag nou om te sien hoe sake gaan lyk sodra die grendelstatus en reisbeperkings eendag iets van die verlede is.

“Ek wil baie graag my internasionale loopbaan by Namibië voortsit. Ek gaan nie my kontrak met Harlequins hernu nie. Op die oomblik weet ek nog nie regtig vir wie en waar ek volgende seisoen gaan speel nie.

“Weens omstandighede kon ek nog nie besluit waar om my vir rugby beskikbaar te stel nie. My doelwit is wel om Namibië te help om vir die 2023 Wêreldbeker in Frankryk te kwalifiseer.

“Die laaste twee jaar was nie maklik met al die beserings nie. My arm wat ek so baie gebreek het, het sake vir my geweldig moeilik gemaak. Ek het my rugby nie meer geniet nie en wil weer vir 'n slag speel om die spel te geniet.

“Ek sien geweldig baie uit na die toekoms. Die Covid-19-ding moet net eers tot 'n einde kom sodat ek besluite kan neem. Ek het 'n hele paar keer vir Namibië gespeel en ek dink ek het baie by hulle bereik.

“Ongelukkig kon ek weens omstandighede die laaste paar jaar nie so gereeld vir Namibië opdraf soos ek wou nie. Ek is regtig lus om net weer 'n slag my land te verteenwoordig. Die afgelope twee jaar was geestelik moeilik en dit sal 'n plesier wees om vir 'n slag op 'n goeie plek te wees.

“Dit is en was nog altyd lekker om die Namibiese trui oor my kop te trek en deel van die ouens te wees. Ek sien daarna uit om weer vir Namibië te speel en alles wat daarmee gepaard gaan,” het die oudkaptein in vyf toetse aan Republikein gesê.

Nadat Diergaardt vroeg in Maart as nasionale afrigter bevestig is, het hy sy internasionale uittrede herroep en met Diergaardt oor sy beskikbaarheid vir Namibië gekoukus.

Bothma kon nie met sekerheid sê wat sy toekomsplanne is nie, maar sou die ou grote sy gewig by 'n provinsiale unie suid van die Oranjerivier ingooi, behoort hy na alle waarskynlikheid weer vir Namibië beskikbaar te wees.

Ofskoon Bothma op 1.90 meter nie die langste agtsteman ooit is nie, is hy nietemin 'n heel vaardige lynstaanspringer. Met die bal in die hand kan hy met sy spoed, versnelling en krag enige verdedigingslinie terroriseer en gewoonlik is twee of meer verdedigers nodig om hom te stuit.

Sy verdediging is knap en sy leier­eienskappe op en van die veld is 'n verdere bonus.



NUWE BLADSY

Diergaardt, wat vanweë die grootlikse kansellering van die 2020-seisoen nog nie die nuwe bladsy van sy afrigtersloopbaan kon open nie, sê Bothma kan steeds 'n waardevolle bydrae lewer.

“Renaldo is 'n speler van gehalte en 'n professionele sportman. Daar sal definitief vir hom plek wees onderhewig aan die normale kriteria waaraan enige ander speler moet voldoen. Persoonlik dink ek hy kon verlede jaar waarde tot ons veldtog by die 2019 Wêreldbeker in Japan gevoeg het.

“Die Namibië Rugby-unie beskik nie oor die nodige bronne om spelers voltydse professionele kontrakte aan te bied nie. Ons het wel sy beskikbaarheid vir Namibië bespreek. Die tendens is mos maar vir spelers wat van Europa terugkeer, om weer in Suid-Afrika provinsiale rugby te gaan speel. Moontlik sal hy dieselfde doen.

“Ek is van mening dat agtsteman sy beste posisie is en sy vermoë as baldraer is uitstekend. Renaldo is ook 'n goeie leier,” het Diergaardt aan die koerant gesê.



So verloop sy senior beroepsloopbaan

2010 Goue Leeus 7 wedstryde (10 punte).

2011 Goue Leeus XV 6 (5).

2011 Luiperds 1 (0).

2012–2014 Pumas 54 (110).

2016 Pumas 7 (10).

2015–2016 Sharks 15 (5).

2015 Toyota Verblitz (Japan) 9 (5).

2016–2017 Blou Bulle XV 4 (10).

2016–2017 Vodacom Bulls 7 (10).

2017–2020 Harlequins 27 (5).

Nasionale spanne:

2013 SA Presidentspan 2 (5).

2014–2018 Namibië 17 (40).

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!