Bothma wil weer 'n verskil maak

Rugby
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Elf van Namibië se toprugbyspelers was tot onlangs nog druk besig by hul onderskeie klubs in Engeland, Frankryk, Roemenië, Uruguay en die VSA, maar met die uitbreek van die Covid-19-pandemie is almal geraak.

In Engeland is Janco Venter (Jersey Reds), Renaldo Bothma (Harlequins) en Wian Conradie (Doncaster Knights) nes Casper Viviers (Sursene), Johan Deysel (Colomiers), Pieter-Jan van Lill (Aviron Bayonnais), Tjiuee Uanivi (Massy Essonne) en Torsten van Jaarsveld (Aviron Bayonnais) in Frankryk op Jan Tuisbly se karretjie gelaai.

Janry du Toit (Penarol, Uruguay) is tuis op die plaas naby Aranos terwyl Adriaan Booysen (Houston SyberCats) in die VSA en Helarius Kisting in Romenië nog wag om te hoor wanneer hulle na Namibië kan ­terugkeer.

Nadat ligas wêreldwyd gekanselleer is, was Venter en Viviers van die ­gelukkiges om voor die grendeltyd na Namibië te vertrek.



Janco Venter

“Ek is tans nie in Engeland nie. Toe die seisoen gekanselleer is het ek teruggekom Windhoek toe. Ons spelers word nog betaal, maar daar is aangepaste salarisse vir die hele groep om die klub deur die moeilike tye te help.

“Ons seisoen wat in Mei die jaar sou eindig, is gekanselleer. Die punteleer is aangepas deur gemiddelde puntetellings te gebruik om 'n wenner te bepaal wat na die Premiership-afdeling bevorder gaan word.

“As die pandemie dit toelaat, sal die volgende seisoen moontlik September 2020 afskop. My kontrak met Jersey (Greene King IPA Champion­ship, ­Engeland) eindig ook die seisoen.

“Soos ek verstaan is baie ­Europese unies besig om stelsels te skep om hulle eie land se spelers te bevoordeel. Dan bied hulle die klubs geld aan op grond van hoe goed die klubs aan die vereistes voldoen.

“Maar dit is nie 'n vreemde model nie. Alle spelers wat in daardie ligas speel, is daarvan bewus. Maar as hulle die reëls strenger gaan maak, sal daar al hoe minder plek vir buitelandse spelers wees.

“Ek het my graad in beleggings­bestuur aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Ek is tans met my meestersgraad in dieselfde rigting besig. So ek beplan om van loopbaan te verander en oor te skuif na die ­finansiële- en beleggingswêreld.

“Wanneer dit gaan wees, weet ek nie. Ek probeer my sake so reël dat die oorgang van professionele sport so maklik as moontlik vir my gaan wees.”



Renaldo Bothma

“Ek is steeds by Harlequins in Engeland. My kontrak met hulle maak einde Junie klaar. In die stadium weet ek nie of ek gaan aanhou speel nie, maar van my planne het wel verander.

“Hier (Engeland) gaan op die oomblik niks aan nie en ek kan nie sien dat die seisoen verder sal vorder nie, want daar is nie genoeg tyd oor om al die verlore wedstryde te speel nie.

“Ons word wel betaal, maar al die spelers moes tevrede wees om 25 persent minder te ontvang. Finansieel is die klubs onder ­geweldige druk, dus is dit aanvaarbaar dat hulle die spelers minder betaal en al hoe minder buitelandse spelers word gewerf.

“Ek beplan om my uittrede uit nasionale rugby ter syde te stel en weer vir Namibië te speel.” Ek het klaar met die nuwe hoofafrigter, Johan Diergaardt, gepraat.”



Wian Conradie

“My kontrak met Doncaster Knights maak einde Mei 2020 klaar. Die klubs is 'n geruime tyd onder finansiële druk, dus is die 80 persent wat die spelers kry aanvaarbaar.

“Ek wil so gou as moontlik weer speel, maar om in die huidige klimaat te oefen maak dit vir my moeilik. Ek sal so lank as moontlik hier (Engeland) wil speel, maar hoe lank dit nog moontlik gaan wees, weet ek nie."



Casper Viviers

“Ek was gelukkig om betyds na Namibië terug te keer. Ons het 'n wedstryd gespeel en sewe dae afgekry. Ek het toe besluit om 'n draai op die plaas te kom maak.

“Ek kon nie vir 'n beter inperking as dit gevra het nie. Dit het goed gereën en die veld lyk mooi en boonop is daar nog reën op pad vir Namibië.”



Johan Deysel

“Ek is nog tot 2021 by Colomiers gekontrakteer. Ek dink ons volgende seisoen sal om en by in Augustus begin. Dit is 'n raaisel wat die geslote seisoen betref, want ons weet nie of die finale wedstryd wel gaan plaasvind nie.

“Ons ontvang tans bietjie meer as 84 persent van ons salarisse en die klubs word deur die Franse regering ondersteun.

“Buitelandse spelers word elke jaar minder; dit is niks nuuts nie. Die Franse Rugbyunie wil sy spelers beskerm. Wanneer ek hier klaar is, sal ek na Namibië terugkeer om by my familie te wees.”



Pieter-Jan van Lill

“Ons is reeds vanaf 16 Maart in grendeltyd, maar ontvang nog ons salarisse. Nog niks is amptelik deur die klubs aangekondig nie, maar dit lyk of rugby vir die seisoen iets van die verlede is.

“Die inperkingstydperk in Frankryk is tot 11 Mei verleng. Ons was driekwart deur die seisoen toe die pandemie ons getref het, en dus lyk sake nie goed vir die res van die jaar nie.

“Ek wil graag nog 'n jaar in Frank­ryk speel en studeer. Wanneer ek klaar is, sal ek na Namibië terugkeer en my op tandheelkunde toespits. Ons het reeds Grand Tours and Safaris Namibia begin en dit maak deel van my toekomsplanne uit.”



Tjiuee Uanivi

“Ek het nog bykans twee jaar van my kontrak by Massy oor om te voltooi. Met die inperking studeer ek maar en oefen om fiks te bly. Ongelukkig sal ek moet wag voor ek na Namibië kan reis.”



Torsten van Jaarsveld

“Ek is tans in Frankryk by Bayonnais. Die salarisse is gesny, maar ons spelers verstaan die situasie.

“Persoonlik dink ek dinge gaan nog 'n geruime tyd ingeperk wees by ons. Die kompetisies gaan moontlik verander. Daar sal dalk 'n korter 2020-'21-seisoen wees; hang net af hoe lank die situasie nog voortduur. Mense se veiligheid is nou 'n prioriteit.

“Ek het nog twee seisoene oor, want my kontrak is tot 2022 geldig. Die reëls word elke jaar strenger en dit raak al hoe moeiliker vir buitelanders om kontrakte te kry. Dit maak net sin dat die Franse hul spelers wil beskerm.

“Ná my rugbyloopbaan verby is, sal ek graag my eie besigheid wil begin en ook by afrigting betrokke raak.”



Helarius Kisting

“Ons kontrakte in Roemenië is in geheel vir die seisoen opgeskort. Die spelers kry wel 'n paar dollar by die Roemeense regering om hulle aan die gang te hou. Ek is nog in Roemenië, maar wil graag terug keer Namibië toe en wag tot die seisoen weer hier begin.

“My kontrak eindig eers volgende jaar in Desember. Wat intussen by Romania CSM Stiinta Baia Mare, my klub gaan plaasvind, bly 'n raaisel. By ons werk dit ander as elders in Europa. Hier mag tot tien buitelandse spelers in die beginspan opdraf.”



Adriaan Booysen

“Op die oomblik is ek nog in Amerika, maar sal binne die volgende maand probeer om terug te gaan Namibië toe. Die Amerikaanse liga is vir die 2020-seisoen afgestel, maar ons kontrakte word steeds in terme van vergoeding nagekom.

“Die Amerikaanse liga gaan volgende jaar voort soos normaal. Daar is geen probleme daarmee nie en die Major League Rugby (MLR) het aan die spelers bevestig dat alles weer in 2021 na normaal sal terugkeer.

“Ons kontrakte is geteken met die MLR en ek het nog twee jaar oor. Ek beplan om volgende jaar weer terug te keer na Amerika vir die nuwe seisoen.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!