Bou ’n put vir die les van die groter dors
’n Leeftyd al gryp waterwysers my verbeelding aan. Praat nou nie van die geoloë wat die aardformasies met hul berge en dale lees en besluit waar die boorpunt moet staan nie. Praat van die manne met hul mikstokke, drade, waterbottels en nog wat, wat voetsaam die water onder die grond soek.
Bedoelende die sieners van verborge strome. In Namaland was ’n kommunale wese bekend as Hans Prospektor - die man wat die water moes kom wys. Van Karasburg in die Suide tot Gobabis in die Ooste en ander ver plekke het hulle hom kom haal om vir hulle ’n pen af te steek. Doepie van die Karoo het altyd na ’n kruisaar gesoek. Kry die boor nie die een nie, is daar altyd ’n kans dat die ander een die soet water gaan gee.
Selwers is by ’n put gestaan waar die Kalkplato uit die vlaktes opgestaan het. Sommer op ’n diepte van drie meter is op die soet water afgekom, terwyl die vlakte doer onder baie meters dieper lê. “Ou Hans se gat,” het ’n bokboer geantwoord toe ek hom na die wysheid van die siener gevra het.
Kyk hulle so en kry altyd ’n gevoel dié mense dra ’n onverklaarbare mistieke iets. Oubaas Barber van die Middellande het ’n mikstok in die kweperlaning gaan pluk om sy water te wys. Hy het die stokkie aan die twee punte beetgekry, een in elke hand. Wanneer hy oor die onderaardse stroom beweeg, het die mik gedraai of ’n bokspring gemaak. Ander wou hom die truuk nadoen. Maar kom raak ou Barber net aan die twyfelaar se elmboog, draai die stokkie dat die sagte bas in die hande afdop.
Aan ’n ou wat die trekkings en rukkings en uiteindelik die kollaps gekry het waar die versteekte water sou lê, had ek nie veel erg nie.
Nou het ’n storie hier uit een van Namibië se waterlose dorpe gekom dat ’n waterwyser ontbied is om ’n pen in te slaan. Hy het sy gat feitlik in die middel van die waterlose dorp afgesteek. Ek laaik, laaik sommer geil, soos ou Blink Stefaans sou sê.
Nou wat gemaak wanneer die water raak geboor gaan word?
Wat my by ’n sendeling van lank gelede in ’n gehuggie van Rusland bring. Doer ver, baie ver van Moskou, was die put in die middel van die dorp ’n bymekaarkomplek van die mense. Terwyl daar op elkeen se waterbeurt gewag is, was daar heerlike samesyn met mense wat met hul kannetjies gekom en gegaan het.
Hoop nou net ons Namibiese dorpie se water gaan vlak lê, want verkieslik moet ’n put gegrawe word om by die lewensvog te kom. Dit moet ’n regte put wees met ’n grasdaknokkie en ’n slinger vir ’n as tussen die twee pale waaraan die wateremmer hang. Die leë emmer moet dan elke keer afgeslinger word en die vol emmer weer op. So moet elkeen sy beurt afwag met die keuse om selfs te bly al is sy kannetjie vol.
Gaandeweg kan dit ook die markplekkie word vir koop sonder geld. Die een se werfaartappels het só gestoel dat hy ’n oorskot het. Dit kan by die put geruil word vir papajas met ’n ander se boom wat skoon stuitig geraak het. Ta’ Fiena kan ’n salfie gee vir sus Anna se klein Fienie wat so liederlik op die foefieslaid geval het en roltabak kan ’n pand vir ’n doppie wyn word. Die storie kan vertel word van Ou Jiems se Klein Jiems wat ’n klos (“pocket”) by die Gobobosvlakte oopgekap het. ’n Vroedvrou sê met wie haar volgende afspraak is.
Net die put se tou en windas moet nagegaan word. Pompinstallasies breek en pypleidings bars.
Elkeen sal almal se alles weet.
En die nooientjie met die middelpaadjie en die dik vlegsels wat oor haar skouers hang met haar emmertjie in haar sagte hande? ’n Jong man het haar in die winkel gesien en liggies aan haar mandjie gestamp sodat ekskuus gevra kan word.
Toe koer hy haar: “Ek sien jou by die put.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie