Bou, of breek?
Bou, of breek?

Bou, of breek?

Dani Booysen
Die spreekbuis van die Namibiese konstruksiebedryf het verbasend mak gereageer op mnr. James Sankwasa, adjunkminister van werke en vervoer, se aantyging dat die sektor vir sy eie ondergang verantwoordelik is.

Polities is dit te verstane. Die Federasie vir Konstruksiebedrywe (CIF) moet weens sy brood en botter sy bes doen om 'n gesonde verhouding met die regering te handhaaf.

'n Oudit oor die toekenning van konstruksietenders word verwelkom. Dit blyk egter nie 'n onafhanklike ondersoek te wees nie. Met syfers kan maklik getoor word – afhangende van jou perspektief en wat jy wil bewys.

Sankwasa het onlangs beweer 99% van padboutenders is aan plaaslike en internasionale vennootskappe (“JVs”) toegeken. Hy verstaan nie hoe plaaslike bedrywe nie in inkomste en omset vir byvoorbeeld tenders van die Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB) kan meeding nie. Hy weet ook nie hoekom behoorlike oordrag van vaardighede en bemagtiging nie plaasvind nie.

Die regering, geagte mnr. Sankwasa, beskik oor al die antwoorde.

Hoe moes plaaslike bedrywe gegroei het as hulle lankal sistematies benadeel word ten gunste van Noord-Koreaanse en Chinese vriende; in 'n kombinasie met nuwe, dikwels bedenk­like soustreinvennote? Hoe moes groei plaasvind as Namibiese bedrywe met die krummels tevrede moet wees? Hoe moet werklike bemagtiging, in vaardighede en geldsake, plaasvind as die regering dit nooit as prioriteit afgedwing en gemonitor het nie?

Ons sien uit na die oudit se uitslae, maar het ongelukkig weens die agtergrond op die oomblik min vertroue daarin.



So sê ander

24 Junie 2019



Jacob Zuma voor Zondo: Die dag waarvoor SA wag



Dit is goeie nuus dat oudpres. Jacob Zuma, die opper-Zupta, uiteindelik sy verskyningsdatums voor die Zondo-kommissie het.

Dit op sigself is belangrike vordering in pres. Cyril Ramaphosa, sy opvolger, se belofte dat staatskapers vervolg sal word in die proses om korrupsie uit te roei.

Hopelik kom die Zuma-kamp nie weer met die een of ander vertragingstaktiek vorendag nie. Sy aandrang om vooraf die vrae te kry, spreek daarvan.

Gelukkig het die kommissie sulke voorkeurbehandeling verwerp.

Sy onoortuigende rol as die slagoffer van onkunde wie se naam sonder sy medewete misbruik is, mag nie die blywende heersende indruk ná sy verskyning wees nie. Dan sal die hele oefening 'n mislukking wees.

Dit laat 'n bitter smaak in die mond dat die presidensie sy regskoste vir die Zondo-verskyning gaan dra. Gaan dit nou weer 'n hofaansoek deur 'n politieke party of instelling verg om dit ongedaan te kry? Wat dan in elk geval weer­ kostebevele teen die belastingbetaler kan ­meebring? Maar dit is 'n kostebevel wat die belastingbetaler waarskynlik graag sal dra eerder as om 'n sent verder aan Zuma se koste te betaal.

Die verskyning beloof om ­dramatiese dae in die Suid-Afrikaanse huishouding te wees. En met reg.• DIE BURGER/VOLKSBLAD

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer