Boubedryf sink, maar werkers eis
Boubedryf sink, maar werkers eis

Boubedryf sink, maar werkers eis

Die vakbond vir die boubedryf dring aan op 'n stewige verho­ging van die minimumloon en beter werksomstandighede.
Augetto Graig
Augetto Graig



Namibië se boubedryf is besig om homself dood te bloei, maar werkers eis steeds hoër lone en beter werksomstandighede.

Dié bedryf het teen Junie vanjaar reeds 47% minder werkgeleenthede gebied.

Boonop sê me. Bärbel Kirchner, hoofbestuurskonsultant van die Federasie vir Konstruksiebedrywe van Namibië (CIF), die situasie het sedertdien waarskynlik vererger.

Grootskaalse afleggings is sedert September 2016 algemeen in dié ­belangrike ekonomiese sektor, sê

sy.

Tans het onderhandelinge met die Metaal- en Verwante Werkersunie van Namibië (Manwu) 'n dooie punt oor minimumlone en werksomstandighede bereik.

Volgens die CIF sou hulle die afgelope Vrydag met die vakbond vergader om 'n ooreenkoms oor reëls vir stakings en uitsluitings te bereik.

Dit volg nadat die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping 'n sertifikaat van onopgeloste geskille op 15 September uitgereik het.

Die minimumloon in die boubedryf is sedert 1 Januarie vanjaar N$16,04 per uur, soos in die Staatskoerant gepubliseer.

Volgens Kirchner het twee groot stygings van 10% elk in die minimumloon hiertoe aanleiding gegee. Eers was daar 'n styging in 2014-'15 tot N$13,26 en toe tot N$14,59 in 2016.

Manwu se oorspronklike eise is op 15 April 2016 voorgelê. Die vakbond eis 'n verhoging van 13% in die minimumloon vir 2017-'18 en 'n verdere toename van 13% vir 2018-'19.

Ander eise sluit in 'n verlenging van vakbondverteenwoordigers se werksdae van 7 tot 10 dae, groter pensioenfondsbydraes, 'n toename in diensleweringstoelae en 'n groter toelaag vir diegene wat ver van die huis af werk.

“Die totaal van Manwu se aanvank­like eise was 'n toename van meer as 70%. Hierdie eise sluit onder meer in 'n behuisingstoelaag, 'n maaltydtoelaag, 'n vervoertoelaag, 'n verlenging van kraamverlof tot 14 weke en onderhandeling met Nam-mic vir lenings aan werknemers,” het Kirchner gesê.

Ten spyte van grootskaalse afleggings sedert September 2016 het die CIF 'n aanbod van 2,5% gemaak. Dít in reaksie op Manwu se “wreedaardige” eise van 13%, asook hul omvattende lys eise, het sy gesê.

“Trouens, sedert ons met die onderhandelinge begin het, het die situasie versleg. Ons het in April 2017 onderhandelinge onderneem toe ons 'n minimumloonverhoging van 2,5% voorgestel het,” sê sy.

“Die situasie is egter heelwat minder hoopvol as in April.”

CIF-lede is ook vasbeslote dat enige ooreengekome verhoging nie terugwerkend geldig sal wees nie.

“Inkomstes in die bedryf is uiters laag. Baie werkgewers hou hul spanne in die hoop op werk en projekte in die nabye toekoms. Indien minimumlone verhoog, sal baie werkgewers nie kan voortgaan om lede van hul spanne in diens te hou nie.

“Dit kan verwoestende gevolge hê - veral as jy dink dat agt afhanklikes geraak word vir elke werkgeleentheid wat verlore gaan. Kleiner besighede in ons sektor sal ook erg geraak word,” sê sy.

“Dit moet in almal se belang wees om soveel mense in diens te hou teenoor 'n verhoging in vergoeding vir slegs 'n paar oorblywende werknemers.

“Ons moet onthou waarvoor ons onderhandel: 'n minimumloonverhoging vir die onderskeie kategorieë van semigeskoolde werkers en ­ambagsmanne vir die hele bedryf. As ons aan Manwu se eise moet voldoen, is dit waarskynlik dat baie werkers hul werk sal verloor,” het Kirchner gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer