Boucher kan hieraan herkou voor Baai-toets

Krieket
Tinus van Staden - By die Internasionale Krieketraad (IKR) se hoofkantoor in Dubai het 'n paar ringkoppe Dinsdagmiddag hier teen vieruur Suid-Afrikaanse tyd waarskynlik liederlik begin swets.

Asof hul lagwekkende voorstel van vierdagtoetse nie reeds genoeg teenkanting vanuit die internasionale krieketgemeenskap gekry het nie, kom 'n spul Suid-Afrikaanse toets-groentjies en wys waarom vyfdagtoetskrieket eintlik maar die enigste wáre vorm van die spel is.

Pieter Malan, met sy marathonbeurt van 84 van 288 balle in sy buiging, en Rassie van der Dussen (17, 140 balle), wat in slegs sy tweede toets 'n muur probeer bou het om die Engelse van 'n oorwinning weg te hou, het nie net gewys dat tradisionele toetskrieket steeds die verbeelding aangryp nie.

Hulle het ook gewys Suid-Afrika het die skietgoed om weer in die voorste linie van die wêreld se woeste toets-slagvelde te baklei.

Die grofgeskut is dalk nog nie daar om binnekort weer 'n allesoorheersende mag in wêreldkrieket te wees nie, maar die tekens wat die span in die nederlaag op Nuweland gewys het, bied hoop. Dit was boonop die langste Suid-Afrikaanse vierde kolfbeurt in vier jaar. Dít met 'n kolflys gestroop van ervaring.

Nou, nadat Suid-Afrika die eerste toets in Centurion gewen het, raak die reeks vuurwarm met die derde toets in Port Elizabeth wat volgende Donderdag begin.

Mark Boucher, die nuwe breier, sal bestekopname doen en herbeplan vir die laaste twee toetse op St. Georgepark en dan in Johannesburg.

In sy oorlog-boekie sal hy 'n groot vet regmerkie langs Malan en Van der Dussen se vertonings maak.

Malan (30) ken sy spel ná 13 jaar se eersterangse krieket so goed soos 'n eggenoot. Hy het gewys hy beskik oor die geestelike én emosionele skietgoed om 'n bevoegde toetskolwer te wees.

Van der Dussen (30) het ook ná 12 jaar op die plaaslike toneel oplaas sy buiging gemaak en het ewe gemaklik ingeskakel as wat hy in internasionale eendag- en T20-krieket het.

Hy het boonop die eerste speler tot nog toe geword om 'n vyftigtal in sy internasionale T20-, eendag- én toetsbuiging aan te teken. Dit gaan moeilik wees vir Temba Bavuma om hom uit die kussings te lig.

Boucher sal ook uiters tevrede wees met Anrich Nortjé, wat tien paaltjies teen 22 lopies per paaltjie in die twee toetse platgetrek het.

Hy het as veghond na vore getree – iemand vir wie Faf du Plessis kan loslaat om 'n skof met genadelose vaart en wip af te stuur om 'n vennootskap te verbreek.

Dwaine Pretorius het goed gevaar met die bal in die eerste twee toetse en boul met beheer. Hy is egter in die span om ook lopies te slaan en ná sy 33 in die eerste beurt van die eerste toets, was daar nog nie weer iets om oor opgewonde te raak nie.

Andile Phehlukwayo het pas 'n vyftigtal vir die Dolphins in die meerdagreeks geslaan, so Pretorius sal 'n bietjie druk voel. Hy behoort egter nog 'n kans te kry.

Wat die laaste van die groentjies betref: Boucher staan voor 'n besluit oor Zubayr Hamza. Sy talent is onbetwisbaar. Sy tegniek is puik en sy temperament ook, maar nr. 3 is die moeilikste posisie om in te kolf.

Boucher moet besluit of hy die 24-jarige Hamza 'n verlengde kans wil gee om daardie posisie sy eie te maak en of hy hom eers laer af in die orde wil brei.

Die probleem is dat die beste ander opsie vir die nr. 3-plek, Du Plessis, tans met die selfvertroue van 'n seekat op rolskaatse kolf.

Hamza het genoeg in sy vier toetse gedoen vir 'n kans om daardie plek sy eie te maak.

Dit los egter nie Boucher se Du Plessis-probleem op nie. Dalk het die drama van die laaste jaar in die raadsale en die Wêreldbeker-hartkrampe 'n groter invloed op hom gehad as wat 'n mens besef. Du Plessis is steeds 'n uitstekende kolwer, maar sy groot sterkpunt was altyd sy geestelike taaiheid – die hardnekkigheid waarmee hy toetse in Adelaide in 2012, Johannesburg in 2013 en Colombo in 2014 gered het.

Dit was Dinsdag afwesig toe hy sy paaltjie pasella met die onnodigste van veeghoue weggegee het. Du Plessis plaas baie druk op Dean Elgar en Quinton de Kock wanneer hy misluk. Hy is die span 'n groot beurt verskuldig.

Wat die ander boulers buiten Nortjé betref, sal Boucher voel sy aanval was uitstekend in al die beurte behalwe Engeland se tweede een op Nuweland.

Vernon Philander gaan altyd 'n rol met die nuwe bal speel en Kagiso Rabada, met 12 paaltjies, lyk asof hy stadig maar seker sy beste peil herwin.

Keshav Maharaj het egter nog nie weer die peil bereik wat hom vroeër in sy loopbaan 'n belangrike wapen gemaak het nie.

Hy is wel vreemd ingespan in die tweede beurt, toe hy gevra is om na die verweerde kolle buite regskolwers se bypen te boul. Dít het dit vir hom baie moeilik gemaak om 'n kolwer been voor paaltjie te betrap of te boul.

Die Baai sal nietemin 'n blad bied waarop hy die toets vir sy span kan swaai.

Boucher hoef nie veranderinge vir dié toets aan te bring nie. Daar is foute gemaak en paaltjies op Nuweland weggegooi, maar daar was veggees en ingesteldheid wat toetskrieket-puriste sou laat jubel.

Die winde van verandering het begin waai. Laat dit nou spoed optel. PE is immers 'n goeie plek vir wind.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!