Boulter appelleer teen weiering van borgtog

Die Britse miljardêr wat tereg staan op die moord van sy Namibiese plaasbestuurder beweer hy is verkeerdelik borgtog geweier.
Ronelle Rademeyer
Ellanie Smit – Die Britse miljardêr mnr. Harvey Boulter, wat van die moord op sy plaasbestuurder beskuldig word, het die hoërhof in Windhoek genader om te appelleer teen die uitspraak waarin hy borgtog geweier is.

Boulter het aangedui hy is bereid om N$200 000 vir borgtog te betaal.

Die verhoor van dié appèl is gister tot Donderdag uitgestel. Regter Claudia Claasen sal die saak aanhoor.

Hy staan tereg vir die moord op mnr. Gerhard van Wyk, sy plaasbestuurder, wat in Februarie op sy plaas Kaross geskiet is.

Landdros Immanuel Udjombala het op 11 Mei in die landdroshof op Outjo Boulter se formele borgtogaansoek van die hand gewys. Hy is daarna in die Kamanjab-polisiekantoor aangehou tot sy volgende hofverskyning op 30 Junie.

Boulter het verlede week in die landdroshof op Kamanjab verskyn en die saak is tot 20 September uitgestel. Hy bly in aanhouding.

Die polisiebevelvoerder van die Khomasstreek, komm. Ismael Basson, het egter die naweek aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê Boulter is nie in polisieaanhouding in die selle op Kamanjab nie, maar is tuis in die Paramount-gesondheidsentrum in Windhoek.

Boulter was sedert sy vorige hofverskyning in Mei, by die Safari Hotel in Windhoek in isolasie nadat hy positief getoets het vir Covid-19. Hy is daarna op aanbeveling van ’n dokter na Paramount in Eros oorgeplaas is.

HOFDOKUMENTE

Volgens hofdokumente is Boulter se hoofverweer dat Udjombala verskeie verkeerde bevindings gemaak het wat sy uiteindelike uitoefening van sy diskresie om borgtog te weier, wesenlik beïnvloed het. Hy voer aan die hof het nie die feite ter ondersteuning van sy vrylating om borgtog oorweeg nie.

Sy verklaring sluit in dat hy die afgelope drie of vier jaar sowat 85% van sy tyd in Namibië deurgebring het en net soms Namibië verlaat het, maar die afgelope 12 maande het hy nie die land verlaat nie. Hy beskou Namibië as sy huis.

Hy voer aan hy moet gewoonlik tussen 12 en 14 uur per dag op sy telefoon wees om sy verskillende sakebedrywighede oraloor die wêreld te bestuur. Dit sou volgens Boulter nie moontlik wees terwyl hy in aanhouding is nie.

In sy verweer wys hy ook daarop hy het die polisie na die plaas ontbied ná die voorval waartydens hy ook beseer is.

Boulter sê hy het nie met getuies ingemeng nie en dat hy die polisie met hul ondersoek gehelp het deur 'n verklaring af te lê.

Boulter beweer die staat het hom onregverdig onder kruisondervraging geneem en versuim om hom oor dele van sy getuienis te kruisondervra.

Die staat het reeds aangedui hulle gaan die appèl teenstaan en beweer die appellant het geen gronde om te bewys dat landdros Udjombala se beslissing onregmatig was nie en voer aan die appèl moet van die hand gewys word.

Boulter word nou deur mnr. Kadhila Amoomo verteenwoordig.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer