Boulter terug in hospitaal
Boulter terug in hospitaal

Boulter terug in hospitaal

Ellanie Smit
Ellanie Smit – Nadat hy in die Safari Hotel in Windhoek onder Covid-19-kwarantyn geplaas is, is die Britse miljardêr en eienaar van die plaas Kaross in die Kamanjab-distrik, mnr. Harvey Boulter, weer in die hospitaal.

Boulter staan tereg op die moord van sy plaasbestuurder, mnr. Gerhard van Wyk. Hy het ná die voorval op die plaas in Februarie vanjaar nog nie een aand in polisieselle geslaap nie.

Komm. Ismael Basson, bevelvoerder van die polisie in die Khomasstreek, het bevestig Boulter is direk vanaf die hotel na die Paramount-gesondheidsentrum in Eros geneem nadat dit bevind is hy is Covid-19-vry. Isolasie en voorsorgmaatreëls kan 10 dae ná die eerste simptome gestaak word.

Landdros Immanuel Udjombala het op 11 Mei Boulter se formele borgtogaansoek in die Outjo-landdroshof van die hand gewys.

Udjombala het beslis Boulter moet by Kamanjab se polisiekantoor aangehou word tot sy volgende hofverskyning op 30 Junie.

Boulter is egter op 12 Mei vanaf die hospitaal in Outjo na Windhoek vervoer omdat hy positief vir Covid-19 getoets het.

“Die coronavirus is nou verby en hy is weer in die hospitaal,” het Basson gesê.

Basson het vroeër aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê toe Boulter van Windhoek na Outjo vervoer is vir sy borgtogaansoek, is hy uit die hospitaal ontslaan.

Hy het glo gedurende sy borgtogaansoek “komplikasies” ontwikkel en ’n doktersbrief gekry wat hom terug na die hospitaal in Windhoek verwys het.

Boulter staan tereg op ’n klag van moord nadat hy na bewering vir Van Wyk op 27 Februarie op Kaross doodgeskiet het. Hy is tydens die voorval gewond.

Hy is dieselfde aand op die plaas in hegtenis geneem.

Artikel gewysig op 23 November 2021

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer