Boulter vol berou
Boulter vol berou

Boulter vol berou

Dani Booysen
Ester Kamati op Outjo



Die omstrede Britse sakeman, mnr. Harvey Boulter, het gister met die aanvang van sy aansoek om borgtog op 'n klag van moord met trane in sy oë gesê hy het 'n jarelange vriend verloor.

“Ek is uitsonderlik hartseer,” het hy in die landdroshof op Outjo getuig.

Boulter het na bewering op 27 Februarie vanjaar sy plaasbestuurder, wyle mnr. Gerhard van Wyk, doodgeskiet tydens 'n onderonsie waarin 'n skoot afgegaan het.

Van Wyk se familie het gesê hulle staan nie borgtog teen nie.

Volgens Boulter het hy die oorledene sowat tien jaar geken. Hy het gesê hy het tyd nodig om te rou.

Boulter het 'n ­permanente verblyfpermit en sy proku­reur, mnr. Evert Gouws, het benadruk die polisie se ondersoek duur al langer as twee maande en is steeds nie afgehandel nie.

“Ons kan nie ontken dat hierdie 'n ernstige misdaad is waarvan hy aangekla is nie,” het Gouws gesê, maar benadruk sy kliënt het geen planne om te vlug nie.

Aanklaer Ethel Ndlovu staan borgtog teen omdat Boulter 'n welberese man met baie kontakte is. Hy kan volgens die staat maklik verdwyn. Ndlovu het aangevoer borgtog is nie in die belang van die reg of die publiek nie.



FAMILIE SOEK GENESING

Me. Merina de Jager, 'n skoonsuster van Van Wyk, het gesê die familie het die “mees verwoestende verlies” gely, maar wil die voorval agter hulle plaas en berusting vind. “Dit was die moeilikste besluit wat ek haar (my suster) ooit sien neem het,” het De Jager getuig, en gesê sy bewonder haar suster se liefdevolheid en vergewensgesindheid.

Volgens De Jager sal haar suster geen inkomste kan verdien as Boulter agter tralies bly nie. Ander werknemers op die plaas en by ander ondernemings van Boulter in die buiteland sal ook volgens haar daaronder ly as die hof borgtog weier. “Nie net my suster nie, maar baie ander mense sal hul werk verloor,” het sy gesê.

Boulter betaal ook deel van die studiegelde van Van Wyk se dogter by 'n plaaslike universiteit.

Volgens De Jager was daar weder­sydse respek en liefde tussen Boulter en Van Wyk. “Dit was nie 'n tragedie tussen vreemdelinge nie,” het sy getuig.

De Jager het gesê dit is nie in hul mag om te weet of Boulter dalk die land sal verlaat nie.



AAND VAN DIE DOOD

Volgens Boulter het hy die aand van die voorval op sy plaas Karros vleisgebraai saam met die Van Wyks. Hulle was volgens hom besig met “chit-chat” toe 'n rusie met Van Wyk se seun ontstaan het.

“Voor ek dit besef het, was Gerhard senior daar. Ek het gevoel beide van hulle val my aan,” het hy getuig.

Boulter het gesê hy het sy pistool agter sy linkerhand teen sy bors gehou. “Gerhard senior het dit probeer gryp.,” het hy vertel.

Volgens Boulter het die skoot deur sy hand gegaan. Hy het ontken dat hy die pistool op Van Wyk se voorkop gerig het.

Hy is daarna na sy kamer geneem waar Boulter volgens sy weergawe die plaaswerkers opdrag gegee het om die polisie te bel.

Volgens Boulter is drie operasies op sy hand uitgevoer in Outjo se staatshospitaal tydens die drie tot vier dae net na die voorval. Hy is toe in 'n mediese fasiliteit in Windhoek opgeneem vir verdere behandeling.

Hy het gesê hy is die heeltyd 24 uur onder polisiebewaking.

Boulter het gesê hy is bewus die saak kan jare duur.

“Ek is opreg jammer vir wat gebeur het. Ek kan nie sê ek verstaan dit alles nie. Hy (Van Wyk) was 'n aangename man. 'n Goeie man.”

- [email protected]

Artikel gewysig op 23 November 2021

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!