Sioka minag glo hof oor jonges in selle

Die minister verantwoordelik vir kinderwelsyn versaak glo haar plig om na die veiligheid van verhoorafwagtende kinders om te sien.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die ombudsman van Namibië, adv. John Walters, het ’n aansoek vir minagting van die hof teen die minister van geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en kinderwelsyn, me. Doreen Sioko, ingedien.

Dit volg nadat sy nie gehoor gegee het aan die hoërhof se bevel om ’n volledige aksieplan voor te lê vir die veilige aanhouding van kinders in kindervriendelike sentrums sodat hulle nie, soos tans die geval is, in polisieselle saam met ouer verdagtes hul verhoor afwag nie.

Dié bevel is op 22 Desember verlede jaar in die hoërhof teen haar uitgereik. Sy is beveel om voor of op 31 Maart vanjaar onder eed “’n plan en program aan die hof voor te lê vir die spoedige implementering van haar pligte ingevolge hoofstuk 5 van die Wet op Kindersorg en -beskerming van 2015”.

Die plan moet aanstip watter stappe sy gedoen het om seker te maak plekke van veiligheid vir verhoorafwagtende kinders is goedgekeur, gevestig en in werking gestel. Sy moes ook ’n tydsraamwerk daarby aanheg.

Verder het die hof opdrag gegee dat sy hierdie plan ook aan Walters se kantoor voorlê.

Hy het ’n dringende hofaansoek teen haar en die polisie ingedien nadat dit aan die lig gekom het 34 seuns tussen die ouderdomme van 14 en 17 jaar word by 16 verskillende polisiekantore in die land in aanhoudingselle saam met ander verhoorafwagtendes aangehou.

Walters het in sy funderende eedsverklaring gesê artikel 64 van dié wet beskryf plekke van veiligheid vir kinders wat verhoorafwagtend is, en stippel uit “’n tronk of polisiesel” is nie geskik nie.

Artikel 69 van die wet maak voorsiening vir kinderaanhoudingsentrums, sê Walters.

Hy sê in sy verklaring hy het op 22 Oktober verlede jaar aan Sioka geskryf en haar pligte ingevolge die wet verduidelik. Sy het nie daarop reageer nie. Op 9 November het hy wéér aan haar geskryf en gesê as sy teen 16 November nie reageer nie, sal hy geen ander keuse hê as om die hof te nader nie.

Volgens Walters het sy ook nie op daardie skrywe reageer nie.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die minister, hoewel haar aandag op die omstandighede gevestig is, gekies het om nie op te tree nie,” het hy in Desember aan die hof gesê.

Intussen het Sioka gister by navraag gesê sy het nie die hof geminag nie. “Ek het die verslag lank voor die sperdatum voorgelê,” was haar woorde.

Walters het kort daarna aan Republikein gesê die plan is nie, soos die hof beveel het, aan hom voorgelê nie.

Hy sê etlike dae het verloop sedert die stukke vir die aansoek om minagting van die hof op haar beteken is.

“As die plan, soos sy beweer, aan die hof voorgelê was, sou dit teen dié tyd onder my aandag gekom het.”

Die hoërhof het ook die inspekteur-generaal van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, en die stasiebevelvoerders van die 16 polisiekantore opdrag gegee om in die tussentyd seker te maak die 34 seuns word sover as moontlik van die ouer aangehoudenes geskei.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!