Boumaatskappy genomineer vir internasionale toekenning

Aandag aan die fyner besonderhede laat maatskappy uitblink.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Kavango Block Brick Namibia (KBB) is onlangs genomineer vir die gesogte Europese Gehaltetoekenning.

Die wenner sal 3 Julie in Luzern, Switserland, aangekondig word tydens die Uitnemendheid in Kwaliteit-beraad.

Dié nominasie, op die gebied van gehalte en bestuur, is deur die Sokratiese nominasiekomitee van die Europese Sakebyeenkoms (EBA) op aanbeveling van die Switserse Instituut vir Gehaltestandaarde (SIQS) gedoen.

Die SIQS het aanbeveel dat KBB in aanmerking kom omdat hulle aan al die vereistes vir dié toekenning voldoen.

“Namens die SIQS en die Sokratiese nominasiekomitee wil ek graag my diep respek teenoor jou en jou span uitspreek,” het Anna Jones, koördineerder van die nominasiekomitee vir die streek, gesê.

“Volgens die SIQS voldoen jou maatskappy se goedere en dienste, tegnologie, personeel en moderne bestuursmetodes aan die vereistes vir die Europese Gehaltetoekenning,” het Jones gesê.

Heinrich Schroeder, stigterslid van Kavango Block Brick, glo die Switsers se navorsing is gebaseer op die gehalte van die KBB se tegniese inligting wat die afgelope 10 jaar op ver­skeie internasionale behuisingskonferensies gedeel is.

“Ons glo die nominasie sal nie net KBB bevorder nie, maar ook internasionale erkenning van innoverende Namibiese tegnologie," het Schroeder gesê.

Internasionaal word KBB aanvaar as 'n koste-effektiewe, innoverende boutegnologiemaatskappy.

“In die Namibiese konstruksie- en infrastruktuurontwikkelingsektor moet alle belanghebbendes saamwerk om sodoende tasbare oplossings te vind om die droom van Harambee-welvaartstede moontlik te maak,” het hy gesê.

Wenners van die Europese Gehaltetoekennings kan met kenners van die EBA konsulteer oor die bevordering van hul goedere en dienste in nasionale en plaaslike markte.

Wenners is geregtig op die Brits-geregistreerde gehaltetoekenninglogo vir advertensiedoeleindes.

Tesame met nasionale prestige ontvang wenners ook erkenning vir uitnemendheid in die internasionale arena.

Die ­Europese Gehaltetoekennings lok prominente streekprodusente, topvlak-sakemense en internasionale gehalte-kenners vir twee dae se verrigtinge.

­Schroeder sê hy beplan in die komende maande 'n minibehuisingslypskool waar belanghebbers meer kan leer oor die beskikbaarheid van innoverde boutegnologie en waar hulle deur kenners op hoogte van die nuutste ontwikkelings in die boubedryf gebring sal word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer