Bra min vir toerisme begroot
Bra min vir toerisme begroot

Bra min vir toerisme begroot

Die minister van die omge­wing, bosbou en toerisme sê die Covid-19-pandemie het dié sektor hard getref.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

Toerisme wat tot 'n totale stilstand weens die Covid-19-pandemie gekom het, se begroting vir toerisme-ontwikkeling is slegs sowat N$18,2 miljoen, wat maar 3,1% van die totale begroting van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is.

“Die herstel van die toerismesektor is 'n reuse-uitdaging vir die ministerie en die breër toerismebedryf. Ons werk saam aan die implementering van 'n herstelplan,” het minister Pohamba Shifeta gesê.

Shifeta het sy ministerie se begroting vir 2020-'21 van sowat N$584,5 miljoen Donderdag in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê.

Hiervan word sowat N$479,5 miljoen vir die bedryfsbegroting aangewend en N$105 miljoen vir ontwikkeling.

“Die enigste faktor wat die toerismesektor sal laat oorleef en herstel, is om toeriste te lok,” het Shifeta beklemtoon.

Onder die program toerisme-ontwikkeling is die vestiging van 'n nasionale lotery ook 'n prioriteit, asook beter regulering van die dobbelbedryf.

Shifeta sê 36% (sowat N$208,4 miljoen) van sy totale begroting word aan die program vir die bestuur van wildlewe en beskermde gebiede toegeken.

“Meer as 1 790 wildmisdaadverdagtes is sedert einde 2018 tot Mei 2020 deur die teenstropingseenheid (PRU) vasgetrek. Sedert die stigting van die PRU in 2016 het die aantal inhegtenisnemings verdubbel.”

Nasionale parke val in die begroting en 'n drie jaar-aksieplan is in Februarie van stapel gestuur om 712 km van die 824 km heining van die Etosha Nasionale Park deur eie personeellede op te gradeer.

“Weens die onderbreking van Covid-19 is minder as 10 km tot dusver voltooi,” sê hy, maar sodra die situasie tot normaal terugkeer, sal weer aan die werk gespring word.

Shifeta sê Namibië het 86 kommunale bewaringsgebiede wat aan meer as 5 350 mense werk verskaf.

“In 2019 het bewaringsgebiede meer as N$145 miljoen vir gemeen­skappe ingebring.”


WILDE PERDE

Die ministerie se mandaat is ook om mens-dier-konflik te voorkom en deel hiervan is die bestuursplan vir die wilde perde in die Namib-Naukluft Park en die Tsau //Khaeb (Sperrgebiet) Nasionale Park.

“Daar is nou sowat 75 wilde perde by Garub wat 37 hingste, 27 merries en 11 vullens insluit,” het die minister gesê.

Vir die program beskerming en bestuur van sleutelspesies en natuurlike habitat is sowat N$25,6 miljoen begroot wat sowat 4,4% van die totale begroting is.

Sowat N$150,8 miljoen (26% van die begroting) word vir die program die beskerming van die omgewing en natuurlike hulpbronne begroot.

“Die ministerie is besig om die omgewingsbestuurswet te verander en die direktoraat bosbou val nou ook onder hierdie wetgewing.

“Maatreëls moet versterk word vir kwessies wat die omgewing aftakel, soos sandmyne, houtoeste en swak afvalbestuurspraktyke.”

Shifeta sê vyf voorstelle ter waarde van N$1,3 miljard sal aan die Groen Klimaatsfonds en die Globale Omgewingsfonds voorgelê word vir biodiversiteitsbewaring en om klimaatsverandering en agteruitgang van grond te takel.

Vir die program infrastruktuur en ontwikkeling, onderhoudmonitering en evaluering is N$93,5 miljoen begroot.

“Die program sal fokus op beter rioolstelsels en afvalbestuur-infrastruktuur in beskermde gebiede. Wildverskuiwings sal ook onder die wildteelskema plaasvind wat bewaringsgebiede en boere sal bevoordeel,” het Shifeta gesê.

Vir die program beleid, toesig- en ondersteuningsdienste word sowat N$88 miljoen begroot.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!