Brachy-terapie u2019n eerste vir Namibiu00ebrs
Brachy-terapie u2019n eerste vir Namibiu00ebrs

Brachy-terapie ’n eerste vir Namibiërs

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Paramount-gesondheidsentrum in Windhoek het hande gevat met plaaslike spesialiste in baanbrekerbehandeling vir prostaatkanker.

Brachy-terapie is ’n vorm van bestralingsterapie wat gebruik word om prostaatkanker te behandel. Dit behels die plasing van "sade" wat bestraling bevat, in die prostaatklier naby die kankerselle.

Paramount se besturende direkteur, mnr. Hein Venter, het die beskikbaarheid van Brachy-terapie vir Namibiese prostaatkankerpasiënte as ’n mylpaal beskryf.

“Dit sal prostaatkankerbehandeling in Namibië na ’n totaal ander arena verskuif - van chirurgiese ingryping na nie-operatiewe behandeling en spoedige herstel,” het Venter gesê.

Die eerste inplantings word op Maandag 31 Julie reeds gedoen.

Radioaktiewe sade is volgens Venter van verskaffers in Chicago af ingevoer en word onder streng reëls en toesig van die Nasionale Bestralingbeskermingsowerheid bewaar.

Die doel van Brachy-terapie vir prostaatkanker is om bestraling naby kankerselle toe te laat waar dit dié selle kan vernietig terwyl dit minder skade aan nabygeleë gesonde weefsel aanrig.

Brachy-terapie word onder algemene of spinale narkose uitgevoer. Tydens die behandeling lê die pasiënt in ’n ginekologiese posisie op sy rug.

Die vel word goed ontsmet en ’n kateter word deur die uretra in die blaas geplaas.

Die vorm en posisie van die prostaat word deur middel van ’n skandering bepaal.

Dun naalde word in die prostaat deur die perineum (die spasie tussen die skrotum en die anus) geplaas. Radio-aktiewe sade word dan deur die hol naalde in bepaalde posisies in die prostaat geplaas. Afhangende van die prostaatvolume, kan van 50 tot 120 sade in die klier geplaas word.

Voorheen moes Namibiese pasiënte met prostaatkanker wat vir Brachy-terapie kwalifiseer, vir behandeling na Kaapstad reis omdat dit nie plaaslik beskikbaar was nie.

“Dit is ongerieflik, sowel as duur vir pasiënte omdat die bykomende reis- en verblyfkoste by die algemene behandelingskoste gevoeg moet word.”

Deur prostaatkankerpasiënte nou toegang tot Brachy-terapie in Namibië te gee, sê Venter, hoef hulle nie meer na Suid-Afrika te reis nie.

Dié wêreldklasbehandeling is danksy ’n vennootskap tussen dr. Johannes Becker, ’n uroloog van Windhoek Medi-Clinic en dr. Conrad Jacobs, ’n onkoloog van Cancercare in Kaapstad, moontlik gemaak. Die derde lid van die span is mnr. Hennie Smit, ’n mediese fisikus wat onder meer verantwoordelik daarvoor is om te verseker daar word aan alle riglyne en regulasies vir veiligheid tydens radioterapie voldoen.

’n Lisensie is deur die Nasionale Bestralingbeskermingsowerheid aan Paramount toegeken om die radioaktiewe sade in te voer, te stoor en te gebruik. In die lig hiervan is die sentrum verantwoordelik vir alle reëlings wat met die logistiek en aankope van die radioaktiewe materiaal verband hou.

Beide drs. Jacobs en Becker het meer as 10 jaar se ondervinding in Brachy-terapie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!