Brahmane wys hul nasionale kampioene aan

Die Brahmanras is 64 jaar gelede na die land gebring en beskik oor 120 telers en 20 000 geregistreerde diere.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Groot opgewondheid het Saterdag by die 2018 Windhoek Skou geheers waar die Brahman Telersvereniging van Namibië sy nasionale kampioenskappe aangebied het - 'n geleentheid wat elke vier jaar plaasvind.

Altesaam 193 diere van 19 telers het meegeding, met 'n hele paar telers uit Suid-Afrika en selfs ook Botswana wat dit as belangstellendes bygewoon het.

Die beoordelaars vanjaar was Kaspar Günzel van Grootfontein en Bernie Staal van Kroonstad in Suid-Afrika, wat albei senior beoordelaars is.

Volgens Mecki Schneider, eienaar van Okabra Brahmane en president van dié vereniging, het die ras die afgelope agt jaar geweldig gegroei. "Ons telers het van 70 na 120 toegeneem en die getal geregistreerde diere van 10 000 tot 20 000."

Hy het verduidelik beoordelaars kyk na die geslagsegtheid van die diere, dit wil sê hul manlikheid en vroulikheid, die bespiering asook die strukturele korrektheid van die diere.

Mecki sê hierdie stoetdiere moet beeste produseer wat goed onder ekstensiewe omstandighede aard en ook gevolglik in terme van vleisproduksie presteer.

Mecki selfs het die senior- en raskampioenbul, die juniorkampioenbul en die reserwe senior- en reserwe raskampioenbul opgelewer.

Die senior- en raskampioenkoei kom uit die stoet van Ernst en Amanda Groenewaldt. So ook die juniorkampioenkoei en die reserwe juniorkampioenkoei.

Hulle bul, Hugo HHM 10-42 (sien die foto op die voorblad), is aangewys as Die Bul van die Jaar aangesien sy nageslag tydens dié kampioenskappe die meeste punte behaal het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer