Brait loop nog sy beloofde teiken ver mis
Brait loop nog sy beloofde teiken ver mis

Brait loop nog sy beloofde teiken ver mis

Die beleggingsmaatskappy se totale bates beloop R40 miljard, wat sowat 7% of R3 miljard laer is as in die vorige jaar.
Nellie Brand-Jonker

Die beleggingsmaatskappy Brait het die groeiteiken vir sy bates wat hy aan beleggers beloof het, ver misgeloop, toon sy jongste resultate vir die halfjaar tot einde September.

Die bekende sakeman Christo Wiese is die grootste aandeelhouer in Brait, wat onder meer byna 72% van Virgin Active-gimnasiums besit, sowel as die Britse klerewinkel New Look en die kosgroep Iceland Foods.

Brait het ’n teiken van 15%-groei per jaar in die netto batewaarde per aandeel oor enige driejaartydperk.

Vergeleke daarmee het die netto batewaarde per aandeel met 17% oor 12 maande en saamgesteld met 23% per jaar oor die drie jaar tot einde September gedaal.

Einde September 2015 het Brait se netto batewaarde R123,50 per aandeel beloop. Dit is nou R55,23 per aandeel.

“Die fokus oor die volgende 18 maande gaan wees om Brait só te posisioneer dat hy sy vorige sukses met die groei in netto batewaarde per aandeel kan hervat,” sê Jabu Moleketi, nie-uitvoerende voorsitter, in ’n verklaring.

Dit sluit in om die omkeerstrategie van die Britse kleinhandelaar New Look te voltooi.

GROOTSTE BELEGGING

Brait se totale bates beloop R40 miljard, wat sowat 7% of R3 miljard laer is as in die vorige jaar.

Die grootste belegging in sy stal is die belang van 72% in die gimnasium-groep Virgin Active, wat nagenoeg R17,9 miljard werd is.

Die tweede grootste belegging is Premier Foods, waarvan sy belang R9,9 miljard beloop, gevolg deur die belang in Iceland Foods wat R6,6 miljard werd is.

Premier sowel as Iceland se waarde het redelik gedaal.

Brait gee sedert verlede jaar nie meer ’n waarde aan vir sy belegging in New Look nie.

Sy ander beleggings beloop R3,1 miljard.

Brait het in die ses maande R545 miljoen se opbrengs uit sy beleggingsportefeulje gekry toe Virgin Active R365 miljoen van die finansiering wat ontvang is, terugbetaal het en Premier R106 miljoen terugbetaal het.

VITALITY VIRGIN

Virgin Active se volwasse lede het in geheel wêreldwyd met 3% of 28 000 toegeneem in die jaar tot einde September.

Virgin Active het 238 klubs in agt lande met 1,2 miljoen lede. Van hulle is 1,1 miljoen volwasse lede.

Suider-Afrika, waar verreweg die meeste van Virgin Active se lede is, het groei van 2% ervaar. Dit is danksy goeie groei die afgelope drie maande ná ’n veldtog van Discovery Vitality om meer mense aan die oefen te kry.

Virgin Active in Suider-Afrika het einde September 721 000 lede gehad. Dit is 10 000 meer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Sy inkomste in die streek het van R2,9 miljard tot R3 miljard gestyg.

Die syfers is vir die nege maande van Virgin se resultate wat ingesluit word.

Die bedryfswins uitgesluit finansieringskoste en waardevermindering het op ’n jaargrondslag met 6% vir die streek gedaal. Dit is toegeskryf aan die voortgesette belegging in nuwe klubs en die ledetal wat beter as die verwagting gegroei het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!