Brand vernietig drie huise, 25 plakkershuise

Lede van die brandweer in Walvisbaai is goed toegerus en gereed vir die feesseisoen.
Sanet de Waal
Leandrea Louw op Walvisbaai

Altesaam 25 plakkershuise en drie huise is Saterdag in ’n brand in Walvisbaai vernietig.

Die jongste brand in Tutaleni in Kuisebmond het meer as 100 mense dakloos gelaat.

In ’n verslag wat deur sersant Anna Frans van die eenheid vir gemeenskapsake in die Erongostreek vrygestel is, dui daarop die brand het omstreeks 13:30 in ’n plakkershuis uitgebreek.

“Die brand het na bewering in een van die nege plakkershuise ontstaan wat agter huisnommer 6205 in Guinea Fowlstraat geleë is. Die brand het die hoofhuis sowel as nege plakkershuise op die erf heeltemal vernietig. Die brand het toe verder versprei en nog twee huise en 16 plakkershuise vernietig. Altesaam 25 plakkershuise en drie huise is in die brand vernietig.”

Geen sterftes of beserings is aangemeld nie. “Die omvang van die skade is nog onbekend. Die oorsaak van die brand is ook in hierdie stadium onbekend,” het Frans afgesluit.

Volgens mnr. Dennis Basson, Walvisbaai se brandweerhoof, het lede van die brandweer weer in ’n onderonsie met die skare betrokke geraak om toegang tot die brand te verkry. “Die brand was reeds in 'n gevorderde stadium toe ons by die toneel aankom. Ons kon nie vasstel wat die vertraging veroorsaak het om ons na die toneel te ontbied nie. Ons het ons bes probeer en het tien van ons manne op die toneel gehad asook drie brandweerwaens.”

Die brandweerhoof het gesê benewens die skare, was padwerke in die omgewing van die Khomas Hochland-pad in Kuisebmond ook 'n uitdaging.

“Weens die padwerke moes ons 'n langer roete neem om by die brand uit te kom. Met ons aankoms moes ons ons pad deur geparkeerde motors, en die skare wat op die toneel saamgedrom het, veg. Ons het mense gehad wat aan die waterpype getrek het terwyl ons die brand probeer blus het. Slegs een van ons brandweerwaens kon by ’n nabygeleë brandkraan volmaak, terwyl die res na ander gebiede moes ry.”

Tente is vir tyd en wyl aan die slagoffers uitgereik. “Ons het ook vir hulle komberse, blikkies vis en benodigdhede vir hul babas voorsien. Ek is bly ons kon help met die bietjie wat ons gehad het, en sodra meer skenkings instroom, sal ons dit dadelik aan die brandslagoffers gee. Sodra die volledige verslag gefinaliseer is, sal ek die besonderhede van die slagoffers aan die kantoor van die burgemeester verskaf vir verdere ondersteuning.”

’n Graafmasjien is tans besig om gebrande rommel te verwyder. Die brandweer kon nog nie die oorsaak van die brand op die toneel vasstel nie. “Sommige brandslagoffers sê hulle word geviktimiseer wanneer die oorsaak van die brand bekend gemaak word.”

Die brandweerhoof hoop dit gaan ’n vreedsame en kalm feestyd wees.

“Ek hoop regtig dis 'n unieke voorval en nie 'n aanduiding van hoe die feestyd gaan verloop nie. Ons is egter gereed.”

Basson het gesê die permanente brandweermanne se verlof is so gestruktureer dat 'n maksimum aantal lede aan diens sal wees.

“Negentien vrywilligers sal ook op ’n gereedheidsbasis wees. Al ons brandweerwaens en toerusting is ten volle operasioneel. Ons het geen brandweerwaens of toerusting wat tans instand gehou word nie. Ons het ook 'n nuwe eenheid vir gevaarlike materiaal (hazmat) ontvang. As alles vlot verloop, beplan ons om vanaf 20 Desember 'n brandweerwa by die Yianni Savva-polisiekantoor te hê om te help met noodgevalle langs die B2-pad. Ons is reg vir die feestyd.”

Basson het gesê geen voorvalle is aangemeld weens die deurnagpartytjie wat die naweek by Dolphin Park aangebied is nie.

"Ek kan eerlik sê daar is 'n sin van verantwoordelikheid onder ons mense en dis werklik prysenswaardig."

Hy het plaaslike inwoners aangeraai om hul alkoholinname oor die feestyd te beperk. “Laat ons verantwoordelik wees en nie ons kinders alleen by die huis los nie. Laat ons nie ons potte en panne sonder toesig laat terwyl ons kook nie. Kom ons streef na ’n veilige feestyd.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!