Brandberg word baken van hoop vir beseerde atlete
Avontuursport
Des Erasmus
Die Brandberg Rhino Run is die naweek van deurslaggewende belang vir twee van Namibië se bekendste uithouatlete, Johan Bronkhorst en Kristy Britz, albei Swakopmunders.
Hulle sal Sondag aan die strawwe veldwedren oor uiters moeilike terrein oor 27 km van Uis in die rigting van die Brandberg en dan terug na die basis deelneem.
Vir Bronkhorst is dit ’n terugkeer na ultra-items nadat hy die afgelope maande in ’n stryd teen ’n baie ernstige siekte gewikkel is. Juis die siekte het hom aan die internasionale uithouwedloop in die Skedelkuspark laat onttrek.
“Donderdag (gister) gaan ek die soveelste en laaste chemobehandeling in Windhoek kry. Sondag gaan ek op Uis wees om aan die renosterdraf deel te neem,” het hy op Swakopmund aan Republikein gesê.
“Miskien is dit teen mediese advies,” het hy in antwoord op ’n vraag gesê. Toe hy gevra is of hy aan die korter 7 km gaan deelneem, was sy antwoord: “Nee, dis die volle 27 km. Dis alles of niks”.
Op vorige renosterdrafskofte was Bronkhorst nie net ’n deelnemer nie, maar ook vooraf ’n helper met die verkenning en beplanning van die roete.
Vir Kristy Britz is die Brandberg Rhino Run ’n ewe groot uitdaging. Britz het in Desember as fietsryer in die Desert Dash geval en onder meer ’n bekkenbreuk opgedoen. As een van die vrywilligers met die aanbieding van Swakopmund se weeklikse parkrun het sy reeds as drawwer na die baan teruggekeer. Nou is renosterdraf ’n volgende stap in haar algehele terugkeer na die baan.
Die Brandberg Rhino Run, met die NMH-groep wat op plakkate as een van die borge erken word, begin reeds vandag met ses gekeurde klimmers wat ’n aanslag op Fred Zalokar van Amerika se vinnigste erkende klimtyd van 8 uur 6 minute gaan maak.
Zalokar se rekord is in 2015 opgestel oor die bergroete van 25 km van die basis tot by Konigstein as die hoogste spits en dan terug tot by die basis.
Die bergklimmers sou op ’n terrein by die berg oornag en die klimtog het vanoggend om sewe-uur begin.
Die reddingsboodskap vir Namibië se bedreigde swartrenosters sal binne twee weke tot in Parys in Frankryk strek wanneer Riana Scholtz – saam met haar man Nico aanbieders van die renosterdraf – daar met bewaringsbewustes gaan skakel. Riana gaan in Frankryk aan die Mont Blanc-marathon deelneem.
Intussen is die ganse klein gemeenskap van Uis betrokke by die renosterdraf wat Sondag ’n hoogtepunt met veldwedlope en ’n bergfietsbyeenkoms gaan bereik. Onder die goed wat opgeveil gaan word, is selfs ’n handgemaakte voorskoot deur een van die huisvroue. Nog ’n inwoner met ’n huistuin het lemoene geskenk as lafenis vir die deelnemers op die moordende skofte.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie