Brande teister Mondesa

Jessica Botes
Jessica Botes - Dosyne plakkershuisies in die Mondesa-­woonbuurt op Swakopmund is Woensdagaand deur ’n brand verwoes.
Een persoon het ligte beserings op­gedoen terwyl ’n tweede persoon steeds in die staatshospitaal op Swakopmund is nadat hy deur ’n dak geval het. Volgens die brandweerhoof, mnr. Adri Goosen, het die man op sy huis se dak gestaan en die vlamme met ’n tuinslang probeer blus.
Altesaam 19 plakkershuisies is ver­swelg deur die brand wat om 22:00 uitgebreek het. Groter skade is deur die brandweerspan afgeweer wat binne ’n halfuur die vlamme geblus het. Volgens Goosen was die drie brandweermanne en vier vrywilligers nog tot 02:00 besig om die kole te demp.
Dít is die vierde brand wat oor die afgelope week op Swakopmund uit­gebreek het. Drie plakkershuisies het gisteroggend ook in die DRC-woonbuurt afgebrand terwyl nóg 15 plakkershuisies verlede week in dié woonbuurte vernietig is. “Ons het agtergekom dat die oosweer baie gevaarlik vir brande is. Omdat die weer saans so lekker is, sit mense buite hul huisies en vergeet van kerse wat binne die huis brand en kan omval,” het Goosen gesê.
Beweringe dat die brandweerdiens eers twee ure nadat die brand ontstaan het by die toneel opgedaag het en daar nie genoeg water was om die brand te blus nie, is volgens Goosen onwaar.
“Ons het drie pompe gehad wat gereeld gewissel is om te verseker dat daar minstens een pomp permanent op die toneel was,” het hy gesê.
’n Horde mense het op die toneel saamgedrom en in ’n stadium die werk van die brandweermanne bemoeilik. Volgens Goosen het mense die strate toegestaan en was hulle baie aggressief teenoor die brandweermanne.
Van die inwoners van die plakkershuisies het gisteroggend deur die verbrande oorblyfsels van hul besittings gekrap, op soek na enige items wat te redde is. Kinders het die rommel deursoek vir hul skoolboeke.
Me. Nguvitjita Zemuundja het aan Republikein gesê sy kon net-net haar kosbaarste besittings uit haar huis sleep voordat die vlamme aan die dak begin lek het.
“Ons was binne die huis toe ons iemand hoor skree. Dit was net ’n paar minute later toe die vlamme by ons was,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!