• Tuisblad
  • Sake
  • Brandstofhandelaars skarrel om verliese te verminder
Brandstofhandelaars skarrel om verliese te verminder
Brandstofhandelaars skarrel om verliese te verminder

Brandstofhandelaars skarrel om verliese te verminder

Vulstasies se pompe vir ‘n paar ure leeg
Jana-Mari Smith
Sommige vulstasies in Namibië het verlede Woensdag ‘n tekort aan diesel- en petrolvoorraad aangemeld. Dít as gevolg van kostebesparingsmaatreëls wat deur brandstofhandelaars in plek gestel is weens die afname in die vraag na brandstof.

Baie mense moes verlede Woensdag by vulstasies weggewys word wat vir ‘n paar uur nie voorraad gehad het nie. Die woordvoerder van die ministerie van mynbou en energie, mnr. Andreas Simon, het verduidelik sommige brandstofhandelaars het verlede week op die nippertjie hulle bestellings vir nuwe voorraad ingedien, aangesien hulle eers die ou voorraad wou klaarmaak vóór die brandstofprys sou daal.

Dit het in sommige gevalle gelei tot ‘n paar uur waartydens vulstasies kliënte moes wegwys aangesien hulle nie petrol- of dieselvoorraad gehad het nie.

“Hulle redeneer as hulle aangehou het om die ou voorraad te verkoop teen die tyd wat die prysverlaging in werking getree het, sou hulle die brandstof teen ‘n goedkoper prys moes verkoop. Dit was basies hulle manier om kostes te bespaar,” het Simon verduidelik.

Hy het bygevoeg die tydelike brandstoftekort is spoedig aangespreek en nuwe voorraad is teen laer pryse beskikbaar volgens die aanpassings wat vandeesmaand in werking getree het.

Mnr. Hamutele Lazarus Nafidi, woordvoerder van Vivo Energy Namibia, het bevestig ‘n tydelike staking in die beskikbaarheid van brandstof by ‘n Shell-vulstasie in Windhoek is aangemeld. Hy sê die voorraad is bloot uitgeput voor die volgende aflewering.

Engen Namibia het ook verlede week aangemeld sommige vulstasies het vlugtig nie voorraad gehad nie weens die daling in brandstofpryse. Sommige handelaars het op die dag van die afname nuwe voorraad bestel sodat hulle nie brandstof teen ‘n verlies hoef te verkoop nie.

Die minister van mynbou en energie, mnr. Tom Alweendo, het voorverlede week die daling in brandstofpryse aangekondig. Die pryse van 95 oktaan loodvrye petrol en -diesel sal van verlede Woensdag met N$1 per liter daal.

“Soos al die ander sektore van ons ekonomie word ons plaaslike oliebedryf, waaronder beide grootmaatinvoerders en brandstofhandelaars val, negatief deur die landswye inperking beïnvloed. Die plaaslike vraag na brandstof het aansienlik gedaal,” het Alweendo gesê.

Hy sê diegene wat in Namibië op groot maat invoer, verkoop slegs ‘n “gedeelte van wat hulle gewoonlik verkoop en sommige handelaars vir nóg minder, afhangend van waar hulle geleë is.”

Alweendo het gesê die daling in brandstofpryse was nodig as gevolg van die uitval van die wêreldwye Covid-19-pandemie wat die vervoersektor byna tot stilstand geruk het. Gevolglik het die vraag na olie oral in die wêreld aansienlik geval, alhoewel daar geensins ‘n tekort aan voorraad is nie.

Hy sê die wanbalans tussen vraag en voorraad het die ineenstorting van oliepryse wêreldwyd tot gevolg gehad. Die Namibiese dollar verhandel tans swak teen die Amerikaanse dollar, wat moontlik die voordele wat ‘n afname in die olieprys sou inhou, kan beïnvloed. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!