Brandstofpryse val!

Petrolprys kan vanjaar tot onder N$10 per liter-vlak daal
André le Roux
André le Roux

Die prys van petrol en diesel gaan vanaf Woensdagnag met 60 sent per liter daal en verbruikers kan in 2015 daarna uitsien dat nóg dalings gaan volg.
Petrol op Walvisbaai sal nou N$10,59 per liter kos terwyl diesel 500ppm en diesel 50ppm onderskeidelik N$11,02 en N$11,12 per liter sal kos.
In ’n mediavrystelling wat Woensdag uitgereik is, sê die minister van myne en energie, mnr. Isak Katali, dat die skerp daling in die internasionale olieprys die afgelope ses maande aanduidend is dat ekonomiese bedrywighede op die internasionale front aan die afneem is.
Olie het gedurende Desember onder die US$60 per vat verhandel.
Dit is ’n drastiese verskil teen die US$110 per vat waarteen olie in Julie verhandel het.
“Die daling was te verwagte, gegewe die vryval van die olieprys en dit sal nie die laaste een vir die volgende paar maande wees nie,” het IJG Securities se hoofnavorsingsontleder, mnr. Rowland Brown, Woensdag aan Republikein onthul.
Oorverhalings vir 95 oktaan loodvrye petrol was op 19 Desember 117,99 sent per liter (s/l) terwyl oorverhalings vir diesel 0,05% S en diesel 0,005% S onderskeidelik 104,73 s/l en 109,5 s/l was.
“Hierdie oorverhaling is steeds groot en gaan waarskynlik nóg groter oor die komende maande wees,” sê Brown.
Volgens Brown het die prys van Brent-ruolie in Rand-terme met 45% gedaal terwyl brandstofpryse met 14%, insluitende die 60 sent daling, gedaal het.
“Dus verwag ons dat die petrolprys tot ver onder die N$10 per liter-vlak in 2015 gaan val. Dit sal ’n welkome verligting vir Namibiese verbruikers beteken. Bykomend, sou pryse vir ’n verlengde tydperk laag bly, kan ons “tweede rondte”-uitwerkings sien, veral wat voedselpryse behels,” sê Brown.

INTERNASIONALE LEWERING
Brent-ruolie vir lewering in Februarie het Dinsdagoggend in Londen met 0,7% tot US$57,50 per vat gedaal nadat dit Maandag reeds tot US$57,88 gedaal het.
Katar, een van die lidlande van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul), raam dat die wêreld 2 miljoen vate per dag méér as die vraag produseer.
Saoedi-Arabië, die grootste produsent ter wêreld en die magtigste stem in Opul, wil nie produksie afskaal nie omdat die land glo ekonomiese groei sal versnel en die vraag na olie verhoog.
“Die ooraanbod in die mark is nie iets wat op kort termyn opgelos kan word nie,” sê Hong Sung Ki, ’n hulpbronontleder by Samsung Futures in Seoel, Suid-Korea. “Oliepryse ly omdat Opul-lede, onder leiding van Saoedi-Arabië, ferm is oor hul houding dat hulle produksievlakke gaan volhou.”
Opul, wat sowat 40% van die wêreld se olie produseer, het in November 30,56 miljoen vate per dag uitgepomp – die sesde maand waarin dit meer is as die kollektiewe teiken van 30 miljoen vate per dag.
Venezuela se pres. Nicolas Madura het Maandag in ’n toespraak te velde getrek teen die VSA se produksie uit hidrobreking “wat die mark oorstroom”. Dié Latyns-Amerikaanse land het in November in Wene by Opul gepleit om produksieteikens te verlaag omdat hy bitter afhanklik is van sy inkomste uit olie.
Die voorraad ruolie in die VSA is nou 13% méér as die vyfjaargemiddelde van 343,1 miljoen vate vir dié tyd van die jaar, volgens die land se Energie-inligtingsadministrasie.
Produksie is nou die meeste nóg op 9,14 miljoen vate per dag.
Die oliedienstemaatskappy Baker Hughes van Houston, Texas, het egter Dinsdag op sy webwerf gesê die totale aantal aktiewe bore (vir olie en aardgas) in die VSA het met 35 tot 1 840 gedaal in die week tot 26 Desember. Dis die minste bore sedert April.
Mnr. James Williams van WTRG Economics in London, Arkansas, sê hy verwag dat die aantal aktiewe bore sal aanhou daal in die eerste kwartaal van 2015 in reaksie op die laer oliepryse. “Teen die middel van die jaar sal ons ’n meetbare uitwerking op produksie sien as gevolg daarvan.”
Olie- en gasmaatskappye verminder hul bore omdat hul winsgrense onder druk kom. Produksie neem egter steeds toe danksy nuwe boorgate vir skaliegas in onder meer Noord-Dakota en Texas.
-Bykomende beriggewing: Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!