Brandweerhoof sterf aan hartaanval

Mnr. Adri Goosen is Maandag op die ouderdom van 56 dood
Yandi Du Plessis
Erwin Leuschner op Swakopmund – Die hoof van Swakopmund se brandweer- en reddingsdiens, mnr. Adri Goosen, is Maandagmiddag op die ouderdom van 56 aan 'n hartaanval dood.

Hy laat 'n groot leemte in die gemeenskap.

Goosen se loopbaan as 'n brandbestryder het in 1990 in Windhoek begin. Ná twee dekades van diens in die hoofstad het hy op 1 Februarie 2011 die pos as hoof van die Swakopmund-brandweer aangeneem.

Hy was nie net op die toneel by bykans elke brand nie, hy het ook sy hulp by verkeersvoorvalle of ander ongelukke in die Erongostreek aangebied. Goosen het ook groot waarde geheg aan gemeen­skapsopvoeding en het gratis brandbestrydingskursusse aangebied.

Nadat Goosen se dood bekend gemaak is, het Swakopmund-brandweerwaens met loeiende sirenes 'n optog na die munisipaliteit gehou.

Huldeblyke en boodskappe van meegevoel, veral dié van ander nooddienste, het sedert Maandagaand op sosialemediaplatforms ingestroom.

“Adri was 'n ongelooflik hardwerkende man. Sy werk was nie 'n statussimbool nie, dit was sy passie,” het die Swakopmund-paramedikus, mnr. Brendon Scott, gesê.

“Hy is 'n legende. Die gemeenskap het hom na aan die hart gelê.”

Mnr. Aubrey Oosthuizen van die West Coast Safety Initiative (WCSI) en Code Red, 'n private ambulansdiens, het Goosen beskryf as 'n “opregte offisier en 'n ware heer in elke sin van die woord. Dit was 'n eer om saam met jou te werk en om jou 'n vriend te kon noem. Jy was 'n belangrike leier, 'n ware rolmodel en vir die meeste van ons 'n held en engel. Die nalatenskap wat jy agterlaat, is onpeilbaar diep.”

[email protected]


FOTO’s
Die brand by die Dolphin Pharmacy op Swakopmund in Augustus 2017 was een van die mees verwoestende brande wat mnr. Adri Goosen (regs) onder beheer gebring het. Foto’s Erwin Leuschner

In 2011 het mnr. Adri Goosen ’n brand in die Mondesa-woonbuurt op Swakopmund gehelp blus, enkele maande nadat hy die pos as brandweerhoof in Swakopmund oorgeneem het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!