Braunvieh uiters geskik vir die voerkraal
Chris Jooste - Nadat Bruce Hunt meer as ’n dekade gelede stoetteling laat vaar en op ’n kruisteelprogram vir produksie vir voerkrale gekonsentreer het, het hy begin om die ideale kruisdiere te teel: Geharde diere met goeie vleis- en melkeienskappe.
In ’n kruisteelprogram waarin Brahmaan-, Braunvieh- en Charolaisbulle in ’n spesifieke volgorde gebruik word, het Bruce van die plaas Vaalboschputs naby Warrenton na sy mening die regte “resep” gevind om die ideale kruisdiere te teel.
Met die bulle en ’n gestandaardiseerde kudde teelkoeie kan hy die kalwers lewer wat die voerkrale graag wil hê. Hy het ervaring daarvan, want hy is buiten boer ook veekoper vir meer as een voerkraal.
Toe Bruce in 1992 stoetteling vir ’n kommersiële beesboerdery verruil het, het hy vir homself die doelwit gestel om ’n geharde bees te teel wat droogtes kan oorleef en goed kan loop, met goeie vleiseienskappe en genoeg melk om kalwers goed groot te maak. Daarvoor het hy ’n goeie dubbeldoelras nodig gehad vir die vleiseienkappe, asook ’n geharde ras.
Sy teelprogram het aanvanklik daaruit bestaan dat hy Hollandse Friesbulle, wat as uitstaande dubbeldoeldiere beskou is, by Brahmaankoeie gebruik het.
Op die kruisverse het hy weer Brahmaanbulle gebruik wat vir hom kruisdiere gegee het wat 75% Brahmaan en 25% Hollandse Fries is, ’n kruising wat vir hom te veel na Brahmaan geneig het.
Hollandse Friesteling het in daardie stadium ook al hoe meer op melkeienskappe gekonsentreer, wat die dubbeldoel-eienskap van die ras laat verdwyn het. Omdat ’n dubbeldoelras se vleiseienskappe, en veral sy melkproduksie vir hom belangrik is, het hy ander dubbeldoelrasse in sy kudde begin gebruik.
Nadat proefnemings met ander dubbeldoelrasse nie die gewenste resultate opgelewer het nie, gebruik Bruce nou net Braunvieh-bulle. Die resultaat is teeldiere met gehardheid en uiters geskik vir die voerkraal.
Hulle het die loopvermoë van Brahmane met die effens groter raam van die Braunvieh, met goeie melk- en vleisproduksie. Hy glo dié kruiskoeie is die ideale teeldiere.
Maksimum wins per hektaar
Om die groter gewig (vleis) te kry wat die voerkrale vereis, gebruik hy Charolaisbulle op die teelkoeie. Bruce se kruisteelprogram het ’n volgorde en begin met Braunviehbulle by Brahmaanverse.
Die volgende verse gaan na ’n Brahmaanbul.
Die laaste skakel in die ketting is die verse wat dan by Charolaisbulle kom. Daarna word al die diere verkoop. Die boerdery is net om kalwers vir voerkrale te lewer. Kalwers word van 7 tot 7,5 maande gespeen. In ’n swak jaar speen die kalwers gemiddeld 243 kg. In ’n goeie jaar is die gemiddelde speengewig 268 kg.
Geen dekseisoen word toegepas nie, veral omdat dit sou beteken dat minder kalwers in droë tye aankom. Die koeie wat vanaf 1 Oktober tot aan die einde van Maart kalf, word in afsonderlike kuddes met bulle geplaas. Alle koeie wat nog nie gekalf het nie, word in April vir dragtigheid getoets.
Dié wat nie dragtig is nie of vroeg dragtig is, word uitgeskot.
Diere wat nie kalf nie, word nie gehou nie. Koeie en verse van verskillende ouderdomme word bymekaar aangehou vir beter en makliker bestuur.
Verse word op ’n gewig van 350 kg die eerste keer by die bul geplaas – in Desember en Januarie om die diere in die regte siklus te kry. Gemiddeld 25 koeie of verse word by elke bul geplaas.
Normaalweg word gemiddeld 450 verse per jaar vir vervangingsverse teruggehou. Met die teelbeleid waarvolgens die teeldiere uit 75% Brahmaan en 25% Braunvieh bestaan, word die diere in die boerdery verminder totdat net groepe van 50/50 Brahmaan en Braunvieh en 75/25 Brahmaan en Braunvieh oorbly.
Bruce glo dié kombinasie gee die maksimum rand per hektaar. Op dié manier is die kudde ook gestandaardiseerd en baie eenvormig, vir Bruce ’n belangrike aspek van ’n geordende boerdery.
Om die beste teelkoeie te verseker, gebruik Bruce al die afgelope klompie jare sowat 70 Braunviehbulle.
Van die drie verskillende rasse word 140 bulle in die boerdery gebruik, met 20 tot 30 spaarbulle. Bulle word gereeld vervang en hy koop gereeld nuwe bulle by stoettelers.
Hy sê hy is nou op die punt van sy boerdery waar hy sy mikpunt bereik het van eenderse, geharde diere wat droogtes kan oorleef, goed kan loop en met genoeg vleis (wat die voerkrale wil hê) en goeie melkeienskappe om kalwers groot te maak.
Kruisteling
Die Braunvieh het besondere eienskappe wat die ras uiters geskik maak vir kruisteeldoeleindes.
• Die Braunvieh het ’n onmiddellike positiewe impak op enige kommersiële beesras in kruisteling. Geen wonder nie dat daar in die meeste lande ter wêreld, naamlik 49, suksesvol met die Braunvieh gekruis word.
• Die eerste kruiskoeie het baie meer melk, goeie uiers en spene en ’n verbeterde bouvorm en konstitusie en speen kalwers met ’n hoër gewig as die norm.
• Kalwers beskik oor goeie vleiseienskappe, groei vinnig en het ’n goeie voeromsetverhouding – wenners in die voerkraal.
• Die Braunvieh maak enige beesras rustiger, verhoog die groeitempo en plaas meer geld op speenouderdom in die boer se sak.
• Die Braunvieh-kalwers en -kruiskalwers bereik speengewig vir die speenkalfmark reeds op die ouderdom van tussen 5 en 6 maande. Koeie kan dus gouer gespeen word en geld is gouer in die boer se sak.
*Artikel verskaf deur die Braunvieh Telervereniging van Namibië.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie