Brave Warriors ten volle gefokus

Bobby Samaria se manne hoop om die maksimum punte teen Kongo te verdien.
Andrew Poolman
Die Namibiese sokkerspan sal alles gee om op 'n wennoot weg te spring in hul veldtog om vir die 2022 Wêreldbeker te kwalifiseer, wanneer hulle Kongo vanaand op die neutrale veld in die Orlando-stadion in Soweto die stryd aansê (afskoptyd 18:00).

Afrigter Bobby Samaria het 'n sterk spelersgroep byeen geroep vir die kwalifiserende wedstryd in Groep H – wat volgens hom geensins van stryk gebring word deur die gedwonge neutrale veld omdat Namibië se eie stadions ongeskik bevind is om internasionale sokker aan te bied nie.

“Die meeste van ons beroepspelers speel in Suid-Afrika, dus is die Orlando-stadion vir hulle soos 'n tweede tuiste.

“Boonop, nou met Covid-19, word toeskouers nie toegelaat nie en geen span het dus meer die voordeel van die 'twaalfde speler' wat 'n vurige tuis­skare hom sou bied nie,” sê Samaria.

“Dis baie belangrik om met drie punte vir die wen te begin, maar ooglopend is dié 'n baie taai groepering as jy na die wêreldranglys kyk.

“As ons ons geloof behou, kan ons wel 'n goeie uitslag behaal.”

Die Brave Warriors sal in dié groep ook teen Senegal en Togo opgeweeg word. Die Namibiërs sal ná vandag se wedstryd 'n gehuurde vlug haal om Kongo komende Sondag in die herontmoeting in Lomé die stryd te gaan aans die stryd te gaan aansê.



'DROOM BEGIN HIER'

Deon Hotto, vleuel van Orlando Pirates in Soweto, is een van dié wat in Suid-Afrika speel en welkom voel in sy beroepsklub se tuisstadion.

“Ons is ten volle op hierdie ­wedstryd gefokus.

“Ons moet vir onsself en vir al ons ondersteuners in Namibië hierdie taak verrig, want die Wêreldbeker is waaroor dit gaan,” sê Hotto.

“Die meeste van ons het in 2019 in die Afrika Nasiebeker gespeel en ons volgende droom is die Wêreldbeker. Dis moontlik. En dit begin nou.”

Om in die Soweto-stadion te speel, is vir Hotto altyd spesiaal.

“Ons vat een wedstryd op 'n slag. Vir nou gaan alles oor Kongo en wat ons uit hierdie wedstryd kan haal.”

Kongo, wat net soos sy opponent nog nooit tevore vir 'n Wêreldbeker kon kwalifiseer nie en ook die 2021 Afcon misloop, was laas in Juniemaand in aksie, toe hy in Turkye met 1-0 in 'n vriendskaplike wedstryd teen Niger gewen het.

Die Rooi Duiwels se afrigter, Paul Put, het puik spelers soos Fernand Mayembo en Thievy Bifouma uit sy groep weggelaat ten gunste van nuwe bloed soos Nolan Mbemba, Beni Makouana, Vladis Emerson Illoy en Hardy Binguila.

Die statistiek van hul vorige ontmoetings wys dat Kongo drie uit die vier kragmetings teen Namibië in alle kompetisies (insluitend vriendskaplik) gewen het sedert hul eerste ontmoeting in 1998. Die Brave Warriors was een keer aan die wenkant.

Hul mees onlangse ontmoeting was in Mei 2014 (Afcon kwalifisering) in Brazzaville, met Kongo die oortuigende wenners met 3-0.

Namibië se spelersgroep:

Doelwagters: Kamaijanda Ndisiro, Loydt Kazapua en Virgil Vries

Verdedigers: Riaan Hanamub, Ivan Kamberipa, Gebhardt Ananias, Larry Horaeb, Teberius Lombardt, Approcius Petrus, Denzil Haoseb, Charles Hambira.

Middelveldspelers: Dynamo Fredericks, Alfeus Handura, Wangu Gome, Deon Hotto, Absalom Iimbondi, Wesley Katjiteo, Marcel Papama, Prins Tjiueza, Willy Stephanus.

Voorspelers: Elmo Kambindu, Issaskar Gurirab, Peter Shalulile, Joslin Kamatuka, Benson Shilongo.

– Cosafa.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!