Breier se raad: Bly weg van sosiale media!
Breier se raad: Bly weg van sosiale media!

Breier se raad: Bly weg van sosiale media!

Krieket
Justin Langer, hoofafrigter van Australië se krieketspan, glo jong sportsterre moet liefs van sosiale media af wegbly.
Langer het dié mening uitgespreek kort nadat die Engelse Premierliga ’n amptelike klag by die Britse polisie gelê het teen ’n persoon wat die Brighton-doelskieter Neal Maupay aanlyn gedreig en beledig het.
Die Premierliga glo die skuldige persoon bevind hom in Singapoer en die liga werk saam met plaaslike owerhede om hom op te spoor.
Maupay is een van verskeie sokkerspelers in die liga wat gereeld op sosiale media deurloop, maar dié probleem steek reg oor die sportspektrum kop uit.
In Suid-Afrika het die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen ook onlangs onder kuberkrakers deurgeloop.
Langer het op die Charlie Webster-podsending die negatiewe invloed van sosiale media bespreek.
“As ek alle jong sportsterre raad kan gee – trouens, almal in die openbare oog – sou ek sê dat hulle géén sosialemediarekeninge moet hê nie,” sê hy.
“Ek sê dit, want ek het nie nodig dat ’n vreemdeling vir my sê hoe goed ek is of hoe sleg ek speel nie. Wat ek nodig het, is mense wat my respekteer, my familie en vriende, hulle sal my laat weet. Jou geestesgesondheid ly daaronder en jy moet bitter taai wees om nie deur sulke kritiek geraak te word nie.”
Die Engelse snelbouler Jofra Archer het ook verlede maand onthul hoe hy rassisties op Instagram beledig word. Archer het in 2019 dieselfde oorgekom toe ’n toeskouer in Nieu-Seeland hom rassistiese beledigings toegesnou het.
Langer sê hy was geskok om te sien watter tipe aanmerkings van sy spelers verlede jaar gedurende die Wêreldbeker-toernooi en reeks om die As in Engeland op sosiale media moes verduur.
“Ek haat dit dat mense eenvoudig dink hulle het die reg om te sê net wat hulle wil oor spelers wat so hard op die veld probeer,” sê die voormalige aanvangskolwer.
“As jy hulle dan konfronteer, sê hulle vinnig jy ‘moet ’n sin vir humor kry’. Dis sommer bog.”
Langer sê ook hy kan nie glo dat mense met kinders sulke beledigings op sosiale media kan rondslinger nie.
“As hulle sulke goed oor my kinders gesê het, sou dit my gebreek het. Moenie kom met daai verskoning dat sportsterre baie geld verdien en dus dikvellig moet wees nie. Alles kom neer op ordentlikheid en goeie maniere, maar ongelukkig is daar deesdae ’n gebrek daaraan in ons gemeenskappe.” – Reuters, Netwerk24


FOTO
Justin Langer, afrigter van die Australiese krieketspan, voel sterk oor die negatiewe invloed wat sosiale media op sportlui kan hê. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer