Brief van Madiba aan tuislandleier op seëlskou te sien
Matanzima het die uitnodiging aan Mandela geskryf enkele maande voordat ’n noodtoestand in 1985 afgekondig is.
Sarel Van Der Walt
’n Geskiedkundige brief wat Nelson Mandela 34 jaar gelede uit die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad aan Kaiser Matanzima, tuislandleier van Transkei, geskryf het, is vandeesweek op die nasionale seëlskou in Centurion te sien.
Mandela het die brief op 29 Desember 1984 aan Matanzima, ’n ouer neef van hom, geskryf in antwoord op ’n brief waarin hy Mandela probeer oortuig het om na ’n tronk in die Transkei oorgeplaas te word.
Mandela was in daardie stadium reeds 21 jaar in die tronk nadat hy en nege van sy kamerade in 1963 in die opspraakwekkende Rivonia-verhoor in Pretoria aan sabotasie skuldig bevind is.
Mandela en Matanzima was baie na aan mekaar voordat Mandela tronk toe is.
Matanzima het die uitnodiging aan Mandela geskryf enkele maande voordat ’n noodtoestand in 1985 afgekondig is.
Mandela het die aanbod in geen onduidelike taal nie van die hand gewys, hom teen die apartheidsregering se tuislandbeleid uitgespreek en hom opnuut verbind tot die ANC en dié party se vryheidsmanifes.
Die brief maak deel uit van dr. Gerhard Kamffer, geskiedkundige en brigadier-generaal in die reserwemag van die weermag, se uitstalling op die seëlskou.
Hy noem sy uitstalling: “Die 100-jarige herdenking van die geboortejaar van Nelson Mandela: 18 Julie 1918 tot 18 Julie 2018.”
Kamffer wys onder meer uit dat Mandela Matanzima aanspreek as “Ngubengcuka”, sy koninklike naam.
Mandela sluit die brief ook nie af as Nelson Mandela nie, maar gebruik die naam “Dalibunga”. Dit is die naam wat aan hom gegee is met inisiasie.
Matanzima het in dié tyd ook sy bes probeer om ontmoetings met Walter Sisulu en Govan Mbeki in die tronk te reël. Hulle het ook geweier.
BEELD-BERIG
Die Nasionale Party-regering het destyds ontken dat hy van enige aanbod van die Transkeise regering aan Mandela weet.
“Wat vir my baie vreemd is, is dat Beeld op 27 Desember 1984 in sy hoofberig berig het Mandela het ’n aanbod van Matanzima verwerp,” sê Kamffer.
In die hoofberig word bloot gesê Beeld het dié inligting van ’n “betroubare bron” verneem.
In Theresa Papenfus se boek Pik Botha en sy tyd skryf sy die NP-regering het gehoop Mandela sou voor die parlementsopening van 1985 vrygelaat word op voorwaarde dat hy onderneem om hom nie weer tot geweld te wend om politieke doelwitte te bereik nie.
Pres. PW Botha het luidens die boek ’n brief aan Matanzima geskryf waarin hy sê die Suid-Afrikaanse regering is bereid om Mandela na die Transkeise gevangenisdiens oor te plaas.
Pik Botha het Matanzima oortuig om ’n brief aan Mandela te skryf en te sê die Transkeise regering sou dit verwelkom as hy sy termyn as gevangene in sy “geboorteland” kon voltooi.
Mandela se antwoord was die regering kan doen wat hy wil. Botha het gesê die regering het toe besef daar sal niks van sy planne kom as Mandela nie deel daarvan is nie.
BRIEF ‘GERED’
Kamffer sê hy het die brief in die hande gekry nadat dit ’n paar jaar gelede “gered” is enkele oomblikke voordat dit in Umtata versnipper sou word.
“Ek het mnr. (Pik) Botha later van die brief vertel. Hy het gesê hy het nie van daardie brief van Matanzima aan Mandela geweet nie,” sê Kamffer.
Verkennende gesprekke met Mandela het eers in 1988 begin, hoewel Kobie Coetsee, destydse minister van justisie, al sedert 1985 verskeie gesprekke gevoer het.
In Kamffer se uitstalling is onder meer ook koeverte en briewe wat Mandela en Tambo se prokureursfirma in Johannesburg gestuur en ontvang het.
Daar is onder meer ’n koevert wat in 1960 aan die firma geadresseer is. Die seël op die koevert het die gesigte van al die eerste ministers sedert Uniewording in 1910 op, maar is (waarskynlik doelbewus) onderstebo geplak.
Verskeie seëls met Mandela se gesig daarop wat wêreldwyd uitgereik is, is ook te sien. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie