Bring corona die 'smens' in jou uit?
Bring corona die 'smens' in jou uit?

Bring corona die 'smens' in jou uit?

Karin Eloff
Saterdagoggend, net ná die coronabom bars, slurp ek en my dogter soet tee op die stoep. Ekstra soet om die senuwees so effe te laaf.

Die aankondiging was onvermydelik, maar ná weke se wêreldnuus van leë winkelrakke en mense wat agter geslote deure wegkruip, is daar tog 'n knop op die maag.

“Waar's skeeerpioen?” vra klein Brian. Dié knapie het onlangs vir die eerste keer met skerpioen se kind kennis gemaak.

“Pappa het hom terug na sy huisie gevat,” antwoord ma Cloey.

“Onthou, jy mag nooit aan 'n skerpioen vat nie,” maan ek dadelik.

“Ook nie spinnekoppe nie,” las ma by.

“En slange nie,” neem ek die opvoedkundige geleentheid. “Hulle is baie gevaarlik. Hulle kan báie seer maak.”

“En smense,” giggel Cloey. “Smense kan nou net so giftig wees.”

'n Goeie skeppie humor in 'n krisis is net so goed soos suikertee.

Uit die noordelike halfrond sê spruit Meghan sy's meer bekommerd oor die smense as oor die virus.

Smense is histeries, paniekbevange en onverdraagsaam, sê sy met 'n glasie Suid-Afrikaanse rooi in haar hand – darem nog een ding wat op die winkelrakke pryk.

Niemand gun niemand niks nie. Dis elkeen vir homself en die coronaduiwel vir almal.

As boorling van 'n sonskynland met 'n groot hart, slaan dít my kind meer as enigiets anders in die donker Europese winter.

Ek stem saam. Dat ons almal beursiegewys armer anderkant gaan uistap, is 'n gegewe. Maar as ons boonop armer van gees word, het ons die stryd verloor.

Spreekwoordelik kan ons mekaar wel nie aan die hand vat nie, maar dit beteken nie ons moet mekaar vertrap nie.

Bel die tannie in die ouetehuis waarmee jy so lank laas gepraat het. Vra of jy vir haar iets by die winkel kan koop. Bejaardes val in die risikogroep en hoort nie nou in winkelsentrums nie.

Elmbooggroet is nou 'n móét. Maar dit beteken nie jy kan die mens langs jou met die elmboog in die sy stamp omdat jý eintlik al die toiletpapier wil koop nie.

Nou is nie die tyd om van jou trollie af te raak nie.

Werkgewers en werknemers moet nou meer as ooit sáámwerk.

Ouers is oornag in 'n skoolvakansie gedompel en min het oppassers vir hul kroos. Terselfdertyd kan almal nie net tuis bly nie; die ekonomie se wiele moet bly rol.

Net deur wedersydse begrip en respek gaan middeweë gevind word.

Ons weet nie wat lê in die komende weke of maande vir ons voor nie. Maar ons weet wel dat mense se gesindheid een van die magtigste wapens in ons arsenaal gaan wees.

Paniek is meer aansteeklik as corona. En beslis gevaarliker.

As almal net hul gesonde verstand gebruik, koelkop bly en deurlopend die regte ding doen, kan die coronakopseer ligter wees.

Menswees, nie smenswees, is in dié stadium die enigste medisyne.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!