Brit draf vir renosters
Brit draf vir renosters

Brit draf vir renosters

'n Vrou gaan 250 km in 5 dae ten bate van die Red die Renosterfonds hardloop.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



'n Britse vrou het gister by die Spitzkoppe weggespring om 250 km in vyf dae ten bate van die bewaring van swartrenosters te hardloop.

Michelle Hincks (34), 'n regsgeleerde van Langho in Engeland, het in Julie verlede jaar na Namibië gekom om te help met 'n slypskool vir die Namibiese regering, regslui, wetstoepassers en nieregerings­organisasies om die wetgewing oor wildstropery en -smokkelary strenger te maak.

Hincks se eerstehandse kennismaking met die krisis van renosterstropery het haar laat besluit om met die moordende Desert Ultra-marathon van die Beyond the Ultimate-reeks in die versengende hitte geld vir die Red die Renosterfonds (SRT) in te samel.

“Ek onderskat nie hierdie uitdaging om in die hitte van bo 40 grade Celsius te hardloop nie, maar ek sal elke dag uit die tent opstaan en een voet voor die ander sit om die eindstreep by die hoofkwartier van SRT (by Palmwag) oor te steek,” het sy op haar webtuiste geskryf.

Hincks sal tydens die Desert Ultra-marathon elke dag met haar rugsak vol kampeertoerusting, kos en 2,5 liter water hardloop.

Sy het in 2010 begin hardloop en het in 2016 haar eerste marathon voltooi.

“Vir my is dit 'n persoonlike uitdaging om te hardloop in 'n land wat steeds so wild voel,” sê Hincks.

Sy sê die stropingskrisis raak elke dag al die mense in van die armste dele van die wêreld en beroof hulle van hul wild en dié van toekomstige geslagte.

Die geld wat sy vir die SRT sal insamel, sal gebruik word om die swartrenosterbevolking te monitor en die renosterwagters met toerusting toe te rus.

“Die plaaslike gemeenskappe sal ook betrek word sodat hulle die bewaringswaarde van die renoster kan begryp. Opleiding sal ook aan spoorsnyers en nuwe renosterwagters verskaf word.”

Hincks betaal self haar reis en in­skrywingsgeld en enige ander donasies sal direk aan die SRT geskenk word. Gister teen druktyd het sy reeds meer as N$13 600 ingesamel.

“Ek sal met 'n naspoorder toegerus word. Volg my gerus en gee my 'n skop wanneer ek my pas verslap,” skerts sy.

Volg Hincks op haar webtuiste by https://uk.virginmoneygiving.com/MichellesDesertRun.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!