• Tuisblad
  • Afrika
  • Britse bande met SA ‘nie beter met Boris Johnson’
Britse bande met SA u2018nie beter met Boris Johnsonu2019
Britse bande met SA u2018nie beter met Boris Johnsonu2019

Britse bande met SA ‘nie beter met Boris Johnson’

Suid-Afrika is tans in handelsgesprekke gewikkel met Brittanje om nuwe ooreenkomste te sluit.
Francois Williams



Boris Johnson as nuwe premier van Brittanje hou geen spesifieke voordeel vir Suid-Afrika in nie.

Prof. Jannie Rossouw van Wits se skool vir sakewetenskappe sê dit lyk asof Johnson, soos pres. Donald Trump van Amerika, die beeld wil voorhou van ’n sterk man wat dinge laat gebeur ongeag die gevolge.

Rossouw verwag dus nie veel beter handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en Brittanje nie. Hy meen onder Johnson sal Brittanje net belang stel in handel wat tot voordeel van Brittanje is. Hy sal na verwagting ’n soort “ou koloniale inslag hê waar die moederland besluit wat die beste is” sonder enige spesifieke voordele vir Suid-Afrika of die Suider-Afrikaanse streek in die breë, meen Rossouw.

Suid-Afrika is tans in handelsgesprekke gewikkel met Brittanje om nuwe ooreenkomste te sluit wat sal geld wanneer dié land uiteindelik van die Europese Unie (EU) wegbreek.

Brittanje het in Maart tussentydse handelstariewe aangekondig wat vir ’n jaar vir Suid-Afrikaanse uitvoerders na Brittanje sal geld ingeval Brexit sonder ’n formele ooreenkoms met die EU plaasvind.

Brittanje is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot in die EU vir landbouprodukte en naasgrootste in die EU as geheel.

Navrae aan die departement van handel en nywerheid oor hoe Johnson se premierskap Suid-Afrika se handelsbande met Brittanje en die huidige handelsonderhandelinge kan raak, is nog nie beantwoord nie.

David Zahn, hoof van Europese vaste-inkomste by die beleggingsgroep Franklin Templeton, waarsku Johnson sal nie veel van ’n wittebroodsperiode hê nie weens die plaaslike en internasionale uitdagings wat hy moet aanpak.

Zahn verwag wisselvalligheid in die finansiële markte oor die komende weke. Die pond het reeds onder druk gekom van die dollar en die euro, wat volgens Zahn die moontlikheid weerspieël dat Brexit sonder ’n formele ooreenkoms met die EU sal plaasvind.

Hy meen die onsekerheid oor Brexit druk die waardasies van Britse maatskappye af en dit bied geleentheid vir beleggers om van die aandele teen winskopies te koop, want “die Britse ekonomie sal nie heeltemal verdwyn ná Brexit nie”.

Hoewel Johnson sakevriendelike beleid en belastingverlaging voorstaan, word ’n tydperk van uiterste beleidsonsekerheid in Brittanje verwag, terwyl die nuwe regering aan dringender sake moet aandag gee, volgens Zahn.

TERUG NA THATCHERISME

Sajid Javid, Johnson se keuse as nuwe Britse minister van finansies, is ’n voorstander van die beleid van Margaret Thatcher, Britse premier van 1979 tot 1990.

Thatcher het sterk gefokus op privatisering, die vrye mark, die deregulering van markte om mededinging aan te moedig, ’n poging om vakbonde se houvas te verminder, en die verlaging van inkomstebelasting.

Sommige kritici meen Thatcher se beleid het tot groter ongelykheid in Brittanje gelei.

Rossouw verduidelik die Britse ekonomie is tans heeltemal anders as toe Thatcher oorgeneem het. Toe was Brittanje se belastingkoerse baie hoog; inflasie was baie hoog en die ekonomie bykans sosialisties.

Tans is Brittanje se inflasie en belastingkoerse nie so hoog nie en presteer die ekonomie baie beter as in die era toe Thatcher aan die bewind gekom het. Daar is dus nie soveel ruimte om die soort hervormings in te stel wat Thatcher aangepak het nie, meen Rossouw.

Volgens The Guardian hang daar ’n portret van Thatcher in Javid se kantoor.

Javid se ouers is in Pakistan gebore, en hy het as ’n beleggingsbankier gewerk voordat hy die politiek betree het. Hy was minister van binnelandse sake onder Theresa May.

AANHALINGS VAN MARGARET THATCHER OOR DIE EKONOMIE:

“Pennies val nie uit die hemel nie, dit moet hier op aarde verdien word.”

“Sosialistiese regerings is tradisioneel geneig om ’n finansiële gemors te skep. Hulle vind altyd uit dat ander mense se geld opgeraak het.”

“As ’n Tory (lid van die Britse Konserwatiewe Party) nie glo dat private eiendom een van die hoof-bolwerke vir individuele vryheid is nie, moet hy liewer ’n sosialis word en klaarkry.”

“My beleid is nie op ’n ekonomiese teorie gegrond nie, maar op goed waarmee ek en miljoene ander soos ek grootgeword het: ’n eerlike dag se werk vir ’n eerlike dag se loon, leef binne jou vermoë, sit ’n neseier weg vir ’n reëndag, betaal jou rekeninge betyds . . .” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!