Britse kiesers gee Tories, Arbeiders taai klap
Die dramatiese uitslag van die plaaslike verkiesing in Brittanje plaas ’n tydbom onder premier Theresa May se regering.
Leopold Scholtz - Met die amateuragtige behandeling van die Brexit-debakel het Brittanje in die laaste weke en maande die grootste politieke chaos in eeue beleef.
Maar die einde is nie in sig nie, want die Britse kiesers het sowel die regerende Konserwatiewe Party as die grootste opposisieparty, die Arbeiders, ’n taai klap deur die gesig gegee.
Dis veel meer as ’n teregwysing. Dis ’n sweepslag wat albei partye laat krul van die pyn.
Toe dié woorde geskryf is, is die stemme nog in Noord-Ierland getel. Maar in die res van die land het die Tories 1 334 raadslede verloor en die beheer oor 44 stadsrade prysgegee. Die Arbeiders, wat om mee te begin aansienlik minder setels as die Tories gehad het, het 60 raadslede verloor, asook die beheer oor ses stadsrade.
Nog ’n groot verloorder was die regs-populistiese UK Independence Party (Ukip), wat ná dese 145 raadslede minder het.
Daarteenoor het die Liberaal-Demokrate 704 raadslede bygekry en die beheer oor 10 stadsrade oorgeneem. Ook die Groenes het goed gevaar deur 194 setels te wen.
Dis duidelik dat die Brexit-chaos ’n groot rol in die kiesersgedrag gespeel het. Die twee partye wat die hoofrol daarin speel (die Tories en die Arbeiders) is albei genadeloos gestraf; die partye wat Brexit beveg (die LibDems en Groenes) het uitstekende resultate behaal.
Ook Ukip, ’n party wat aan die voorpunt van die Brexit-strewe staan, het ’n hamerslag beleef.
’n Tipiese uitspraak van ’n kieser wat sy stem van die Konserwatiewe na die LibDems oorgeplaas het, is in The Guardian aangehaal: “Ek was keelvol vir die Konserwatiewe Party. Ek wou ’n vars nuwe benadering hê. Die manier waarop hulle hul in die laerhuis gedra, is soos ’n skoolkantien oor middagete.”
DIE EINDE VAN MAY?
Aan die oppervlak sou ’n mens dus kon aflei dat die meeste Britte hulle téén Brexit uitgespreek het. Maar dis nie heeltemal só eenvoudig nie.
Luidens peilings kan die Brexit-Party – dis nou die splinternuwe party wat die gewese Ukip-leier, Nigel Farage, gestig het – in die komende verkiesing vir die Europese Parlement einde Mei selfs die grootste party in Brittanje word. ’n Peiling van YouGov meen die Brexit-Party kan 30% van die stemme behaal, teenoor 21% vir die Arbeiders, 13% vir die Konserwatiewe, 10% vir die LibDems en 4% vir wat nog van Ukip oor is.
Dié teenstrydigheid kan nie op die eerste gesig verklaar word nie. Dit gaan hier natuurlik om ’n peiling, geen verkiesingsuitslag nie, en dalk moet ’n mens maar eers vir die uitslag wag.
’n Ander moontlike faktor is dat die geesdrif vir die Europese verkiesing tradisioneel min en die stempersentasie laag is. ’n Mens sal maar moet sien wat gebeur.
Wat wel sonder meer gesê kan word, is dat May se ontleding van die plaaslike verkiesingsuitslag getuig van iemand wat die politieke kluts heeltemal kwyt is. Voor ’n Konserwatiewe konferensie in Wallis was haar woorde: “Wat gewigtig en histories is, is selde eenvoudig en onomwonde. Maar ek dink daar was ’n eenvoudige boodskap van gister se verkiesing aan sowel ons as die Arbeidersparty – kry nou klaar en lewer Brexit.”
Dié woorde het nog in lug weerklink of ’n gebrul het by wyse van spreke in die leidende kringe van die party opgeklink. Een van May se voorgangers as Konserwatiewe leier, Iain Duncan Smith, se reaksie was klinkklaar: “Theresa May moet ’n datum vir haar vertrek uit Downingstraat bepaal, of ek is bevrees parlementslede sal dit vir haar doen.”
Hy het voortgegaan: “Ons moet ’n verandering aanbring . . . die boodskap was luid en duidelik dat die mense . . . besluit het hulle is absoluut woedend vir die politici.”
’n Gewese Tory-hoofsweep, Andrew Mitchell, het – net effens tong in die kies – gesê hy is verbaas dat enigiemand hoegenaamd gebodder het om vir dié party te stem. En The Guardian berig dat tot 100 Tory-parlementslede gereed is om May die trekpas te gee as sy nie self padgee nie.
Die verwagting is dat sy nog die kans gegun sal word om pres. Donald Trump se staatsbesoek oor ’n maand as premier mee te maak. Maar dan, so lyk dit, is sy úit.
May se reaksie op die Brexit-chaos in die politiek en die feit dat haar politieke gesag en geloofwaardigheid aan skerwe lê, was ’n laaste wanhoopspoging: Sy wil ’n ooreenkoms met die Arbeiders se leier, Jeremy Corbyn, sluit om konsensus oor ’n skeidingsooreenkoms met die EU te bereik wat dan deur ’n meerderheid in die laerhuis goedgekeur kan word.
Dit nadat May herhaaldelik verneder is deurdat die een poging ná die ander van haar kant in die laerhuis verwerp is.
EN ’N TWEEDE REFERENDUM?
Dinsdag, berig die Londense Sunday Times, sou May ’n omvattende, maar tydelike doeane-ooreenkoms met die EU aan Corbyn voorlê.
Maar intussen het 104 opposisie-LP’s aan May en Corbyn geskryf hulle sal geen ooreenkoms steun tensy dit in ’n tweede referendum aan die kiesers voorgelê word nie.
Peilings wys dat 56% tot 60% van die kiesers in ’n tweede referendum vir behoud van EU-lidmaatskap sal stem. Maar as May tot so ’n tweede referendum instem, of as sy ’n kompromis-ooreenkoms met Corbyn bereik, is die kans goed dat haar party onherroeplik skeur, want die ideologiese weersin van die harde Brexiteers in die EU is sterker as hul lojaliteit aan die party.
Ook Corbyn, ’n harde Trotskis, is lou oor ’n tweede referendum. Hy sien die EU as ’n kapitalistiese sameswering en is in sy hart ook ten gunste van Brexit.
Intussen is die Tory-rebelle besig om hul kragte te monster om May oor die afgrond te stoot. Een van die mees fanatieke Brexiteers, Jacob Rees-Mogg (wat onlangs berug in Suid-Afrika geword het omdat hy die Britse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog verontskuldig het), het al te kenne gegee hy is ten gunste van die flambojante Boris Johnson as premier. Volgens die Daily Express het May vandeesweek ternouernood ’n mosie van wantroue in haar parlementêre koukus vrygespring omdat Johnson gereed gestaan het om in die gaping te spring.
Nog ’n ambisieuse Brexiteer wat bitter graag sy skoene onder die bed in die slaapkamer van Downingstraat 10 wil insteek, is Michael Gove.
Uiteindelik kan dit alles egter ’n blote gejaag na wind wees. Die Britse politiek, wat al maande lank in ’n chaos is, sink – as so iets moontlik is – in steeds groter chaos weg. Sake is uiters vloeibaar, en enigiets, letterlik enigiets, is moontlik.
* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie