Britse politiek is dalk nooit weer dieselfde
Britse politiek is dalk nooit weer dieselfde

Britse politiek is dalk nooit weer dieselfde

As die 12 wegbrekers egter by wyse van spreke die kanaries in die steenkoolmyn is, kan dit tot ’n beduidende herskikking in die Britse politiek lei.
Leopold Scholtz - Staan die Britse politiek aan die vooraand van ’n groot en fundamentele herskikking? Of is die feit dat nege parlementslede die Arbeidersparty en drie die Konserwatiewe Party vandeesweek verlaat het slegs ’n golfie wat niks wesenliks gaan verander nie?

In en om die laerhuis gons dit van die gissings. Die vraag is hoe wyd die frustrasies wat tot hul wegbreek gelei het in hul onderskeie partye gedeel word. Nog twee Tory-LP’s het intussen te kenne gegee dat hulle dit oorweeg om hul kollegas se voorbeeld te volg.

Verskeie scenario’s is nou denkbaar. Die een is dat daar geen verdere ontwikkelings is nie – dat vandeesweek se gebeure by ’n effense uitrafeling aan die rand bly.

In so ’n geval word niks opgelos nie en sal dit geen invloed op die opperste chaos insake Brexit hê nie. As die 12 wegbrekers egter by wyse van spreke die kanaries in die steenkoolmyn is, kan dit tot ’n beduidende herskikking in die Britse politiek lei.

Wat die 12 bind, is hul gemeenskaplike teenkanting teen Brexit en hul gematigde politieke oortuigings.

Trouens, hulle het waarskynlik meer in gemeen met mekaar as met die uiterste linker- en regtervleuels van hul eie partye.

Dis moontlik dat die gematigdes in albei partye wegbreek en hande – dalk saam met die LibDems – vat om ’n nuwe party te vorm.

Wie weet, dit is selfs moontlik dat hulle die meerderheid van parlementslede agter hulle kan skaar en premier Theresa May uit 10 Downing Street dwing.

Op die keper beskou, lyk laasgenoemde moontlikheid (soos sake nóú staan) redelik onwaarskynlik.

FUNDAMENTELE HERSKIKKING

Maar dit kan dalk die begin wees van ’n ontwikkeling wat meer tyd nodig het en wat uiteindelik op ’n fundamentele herskikking kan uitloop. Indien dit nié die geval is nie – en ook daarmee moet rekening gehou word – gaan die Brexit-chaos voortduur.

May was pas weer in Brussel en kon wéér geen bykomende toegewings afdwing nie. Die president van die Europese Unie (EU), Jean-Claude Juncker, het sy standpunt herhaal: Die EU is gewillig om oor besonderhede te praat, om hier ’n woord in die skeidingsooreenkoms of daar ’n frase te verander, maar niks substansieels nie.

Tegelykertyd staan Brussel dramaties sterker as Londen. Die 27 EU-lidlande sien die chaos in Westminster en word afgeskrik om dié voorbeeld te volg, terwyl die Britse parlement nie eens daarin kan slaag om ’n samehangende standpunt in te neem nie.

Alles dui dus daarop dat Brittanje op ’n onbeheerde en chaotiese Brexit afstuur. Dit gaan die hele Europa, maar veral Brittanje, groot skade berokken.

En langs die kantlyne is daar twee politici wat vol vreugde grinnik – pres. Wladimir Poetin en pres. Donald Trump. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!