Britse premier: ‘Dis tyd om te sê genoeg is genoeg’
Saterdagaand se aanval in Londen was skaars ’n blok weg van waar die aanval in Maart op die Westminster-brug was.
Marietie Louw-Carstens, Hanti Otto en Seugnet van Zyl - Die strate van Londen het Sondag gewemel van swaar gewapende polisielede met gesigmaskers en pantserdrag nadat ’n derde terreuraanval binne drie maande die hoofstad van Brittanje geruk het. Sewe mense is dood en minstens 50 ernstig beseer in die aanval Saterdagaand ná 22:00 (Britse tyd) op London Bridge en die nabygeleë Borough Market.
Twaalf mense is Sondag in Barking, ’n oostelike voorstad van Londen, in hegtenis geneem weens dié terreuraanval. Die 12 verdagtes is in hegtenis geneem toe die polisie op een van die drie aanvallers, wat doodgeskiet is, se huis toegeslaan het.
Drie mans het Saterdagaand teen ’n hoë snelheid in ’n wit paneelwa tussen mense op London Bridge ingeploeg voordat hulle uitgespring het en mense met messe begin steek het. Die polisie was blitsvinnig op die toneel en drie aanvallers is doodgeskiet. Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê geen Suid-Afrikaner is dood of beseer in die aanval nie.
Elana en Dawid Badenhorst, Suid-Afrikaners wat die afgelope agt maande in Londen woon, sê hulle het die hele nag ambulanssirenes en helikopters gehoor.
“Die polisie was binne agt minute op die toneel. ’n Mens besef hoe weerloos jy op straat of op die trein is, maar daar is baie meer sigbare polisiëring die afgelope paar maande. Londen is ’n groot stad en dit is onmoontlik om op te hou met jou lewe weens so iets,” het Elana uit Londen gesê.
Saterdagaand se aanval was skaars ’n blok weg van waar die aanval in Maart op die Westminster-brug was waarin ses mense dood en minstens 50 beseer is. Twee weke gelede het ’n selfmoordbomaanvaller toegeslaan in die Manchester-arena waar die Amerikaanse sangeres Ariana Grande ’n konsert gehou het. Altesaam 22 mense is in dié aanval dood.
Daar was ook Sondag ’n sterk polisieteenwoordigheid by ’n konsert wat vir die slagoffers van die Manchester-aanval by die Old Trafford-krieketterrein gehou is.
Theresa May, Britse premier, het gesê ná die Westminster-aanval het die polisie nog vyf aanvalle suksesvol afgeweer.
Volgens haar kan die drie aanvalle nie met mekaar verbind word nie, maar het die aanvallers Islamitiese ekstremisme in gemeen.
“Internasionale pogings om ekstremisme te beheer moet op die internet verdubbel. Dit is tyd om te sê genoeg is genoeg,” het May gesê.
Sy het ook gesê ’n nuwe teenterreurveldtog moet van stapel gestuur word.
Volgens haar sal Donderdag se algemene verkiesing in Brittanje voortgaan. Politieke partye het Sondag hul veldtogte opgeskort, maar sal Maandag weer volstoom daarmee voortgaan.
Sadiq Khan, burgemeester van Londen, het gesê mense moenie bekommerd wees oor die verhoogde aantal swaar gewapende polisielede wat in die stad ontplooi is nie. London Bridge en die omliggende dele is gesluit vir die publiek.
Pres. Donald Trump van Amerika het op Twitter na Khan gekap: “Minstens sewe dood en 48 gewond in terreuraanval en burgemeester van Londen sê daar is ‘geen rede om beangs te wees nie’!”
Hoewel Trump sy steun aan Brittanje gegee het, het hy die terreuraanval gebruik om op Twitter te sê Amerikaanse howe moet heroorweeg om die algehele reisverbod van burgers van sekere lande na Amerika in te stel.
Trump het gesê politieke korrektheid moet gestop word en daar moet aandag gegee word aan die veiligheid van mense. “As ons nie slim raak nie, gaan dit net erger raak.”
Ander wêreldleiers wat hul skok en afgryse oor die terreuraanval uitgespreek het, is dr. Angela Merkel, Duitse bondskanselier, pres. Emmanuel Macron van Frankryk, Malcolm Turnbull, premier van Australië, en Bill English, premier van Nieu-Seeland.
Pres. Jacob Zuma het ook namens Suid-Afrika simpatie betoon met Brittanje en gesê dié soort aanvalle “is ’n gevaar vir vrede, sekuriteit en ontwikkeling”.
Talle mense het op Facebook en Twitter vertel hoe vreesaanjaend Saterdagaand se aanval was.
Will Heaven, ’n Britse joernalis, sê mense wat gevlug het, het geskree: “This is Westminster all over again!”
Hy vertel van die pandemonium wat losgebars het.
“Daar het ’n BWM-4x4 aangejaag gekom. Polisielede het uit die voertuig gespring, haastig valhelms op hul koppe gesit en masjiengewere uitgehaal. Toe hardloop hulle terug na die brug toe.
“Ek het ’n ambulans gesien, ’n helikopter wat baie vinnig gevlieg het en hordes mense wat in ons rigting gehardloop het.”
Selma van den Bosch, ’n Suid-Afrikaner wat die afgelope vier jaar saam met haar gesin in Haslemere, sowat ’n uur buite Londen, woon, sê dis asof die afgelope drie aanvalle op jongmense gemik is.
“My man werk in Londen en ry elke dag trein. Veral ons kinders is bekommerd oor hul pa se veiligheid as hy Maandag moet werk toe gaan.”
Van den Bosch sê ook dis asof die Suid-Afrikaners wat in Engeland bly “meer waaksaam is”.
“Die Engelse leef gewoonlik met ’n ‘dit-sal-nie-met-ons-gebeur-nie-uitkyk’ en as dit gebeur, is hulle geweldig geskok,” het Van den Bosch gesê.
SkyNews berig ’n minuut van stilte sal Dinsdagoggend om 11:00 dwarsoor Brittanje gehou word om die slagoffers van die drie terreuraanvalle te herdenk. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie