Britse streeklugdiens stort in duie
Britse streeklugdiens stort in duie

Britse streeklugdiens stort in duie

Flybe se ineenstorting skep onder ’n probleem vir Boris Johnson, Britse premier, wat belowe het dat streekvervoer in die land gaan verbeter.
Die Britse streeklugdiens Flybe het Donderdag ineengestort weens ’n afname in die vraag na vlugte wat dié sukkelende lugdiens die eerste grootste slagoffer van die coronavirusuitbreking maak.

Die ondergang van die lugdiens, wat alle uithoeke van Brittanje met groot Europese bestemmings verbind, bring nie net sowat 2 400 poste in gedrang nie, maar kan ook daartoe lei dat tot sommige lughawens sal sukkel en sakereise beperk sal word.

“Alle vlugte is afgelas en dié Britse onderneming se sake is onmiddellik gestaak,” het Flybe gesê nadat die regering weggestap het van ’n reddingsooreenkoms wat in Januarie gesluit is.

Flybe se ineenstorting skep ook ’n probleem vir Boris Johnson, Britse premier, wat belowe het dat streekvervoer in die land gaan verbeter.

Die operateur, wat as die grootste onafhanklike streeklugdiens in Europa beskryf is, het jaarliks sowat 8 miljoen passasiers tussen 81 lughawens vervoer, en word deur ’n konsortium van Virgin Atlantic, die Stobart Group en Cyrus Capital besit.

Dit is die grootste lugdiens wat sluit sedert die koronavirus reeds wêreldwyd versprei het en teen Donderdag sowat 3 000 lewens geëis het.

Lugdienste probeer naarstig koste besnoei deur vlugte te kanselleer om die afname in lugvervoer die hoof te bied wat sedert laat Februarie vererger het toe die ergste uitbreking in Europa – in Italië – aan die lig gekom het.

British Airways, easyJet, Lufthanza en United Airlines is onder dié wat kostebesparingsmaatreëls aangekondig het.

Finansiële probleme

Flybe was egter reeds voor die koronavirus in ’n geldelike verknorsing en is in die middel van Januarie gered toe beleggers ingestem het om meer geld te belê tesame met regeringshulp wat na verwagting ’n potensiële lening en ’n hersiening van vlugbelasting sou insluit.

Johnson het toe gesê omdat Flybe belangrik vir die land se streekverbindings is, sal die regering doen wat hy kan om die lugdiens te help.

’n Woordvoerder het Donderdag gesê die regering help nou om die ontwrigting op vlugroetes te verminder.

“Flybe ondervind reeds lankal finansiële probleme wat goed gedokumenteer is en reeds voor die uitbreking van Covid-19 bestaan het,” het die regering in ’n verklaring gesê.

Die Johnson-regering beplan om gebiede in Brittanje buite Londen ’n hupstoot te gee, want sonder Flybe sal sommige streeklughawens soos Exeter, Birmingham en Southampton baie swakker verbindings plaaslik en in Europa hê.

Flybe se netwerk van roetes, wat deur sy 68 vliegtuie bedien was, sluit meer as die helfte van Brittanje se plaaslike vlugte buite Londen in.

Die vakbond vir vlieëniers het gesê die lugdiens se werknemers voel verraai.

Stobart en Virgin Atlantic het gesê hulle is diep teleurgesteld dat Flybe nie in staat was om ’n lewensvatbare toekoms te verseker nie. Hulle het gesê die koronavirus beteken die konsortium kan hom nie meer tot finansiële steun verbind nie. – Reuters/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!