Brittanje beplan verbod op ivoorhandel
Brittanje beplan verbod op ivoorhandel

Brittanje beplan verbod op ivoorhandel

Met olifantbevolkings wat drasties daal, gaan die handel in hul tande dalk verbied word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Brittanje se omgewingsekretaris, mnr. Michael Gove, stel voor ivoorverkope word verbied sodat olifantstropery stopgesit kan word.

Volgens 'n mediaverklaring van die Britse ambassade sal dié voorstelle olifante beskerm en stropery help bekamp deur alle geleenthede vir misdadigers te verwyder wat onwettig met ivoor handel dryf.

Die plan is onderwerp aan 'n konsultasieproses van 12 weke wat tot 29 Desember sal duur.

Die voorgestelde verbod sluit ivooritems van alle ouderdomme in, nie net dié wat ná 'n sekere datum gemaak is nie.

Huidige wette laat alle verwerkte ivoorprodukte toe wat voor 3 Maart 1947 gemaak is, vir handel in Brittanje en ander Europese Unie-lande, terwyl die handel in rou ivoor van enige ouderdom ontoelaatbaar is.

Volgens die verklaring sal die huidige regulasies aansienlik met die nuwe voorstelle versterk word.

"Die aantal olifante het in die laaste dekade met byna 'n derde en met sowat 20 000 'n jaar afgeneem en hulle word steeds gestroop weens die wêreldaanvraag vir ivoor. As huidige tendense van stropery voortduur, kan olifante binne 'n dekade in sommige Afrikalande uitsterf," lui die verklaring.

"Die afname in olifante sal ook sommige van die armste lande in die wêreld van hul waardevolle natuurlike kapitaal beroof en die ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling beïnvloed. Soos winste al groter raak, het die onwettige handel in wild 'n transnasionale georganiseerde onderneming geword teen 'n geskatte waarde van sowat £17 miljard (sowat N$307 miljard) per jaar."

Gove het gesê die afname in die olifantbevolking, aangevuur deur stropery vir ivoor, is 'n skande.

"Die behoefte aan radikale en robuuste aksie om een van die wêreld se mees ikoniese en waardevolste spesies te beskerm, kan nie betwyfel word nie. Ivoor moet nooit as 'n kommoditeit vir finansiële gewin of as 'n statussimbool gesien word nie, so ons wil verkope verbied."

UITSONDERINGS

In ooreenstemming met ander lande se benadering het die Britse regering sekere fyn gedefinieerde uitsonderings voorgestel vir items wat nie tot olifantstropery bydra nie.

Die vier kategorieë vir uitsonderings is musiekinstrumente, items wat net 'n klein hoeveelheid ivoor bevat, items met geskiedkundige, kuns- of kulturele waarde en verkope aan en tussen museums.

"Die Britse regering sal saam met bewaringskundiges, die kuns- en antiekware sektore en ander belanghebbendes tydens die konsultasietydperk werk oor hoe presies hierdie uitsonderings gedefinieer, geïmplementeer en toegepas moet word om te verseker daar is geen ruimte vir skuiwergate wat olifantstropery aanvuur nie," lui die verklaring.

"Die nuwe verbod sal voortbou op die Britse regering se werk plaaslik en oorsee om stropery en onwettige ivoorhandel te takel. Die Britse weermag lei 'n elite mag vir teenstropery in Afrikalande op en grensmagoffissiere deel hul kundighied in die identifisering van gesmokkelde ivoor met eweknieë wêreldwyd om wildsmokkelary te stop."

Brittanje gaan in Oktober 2018 die gasheer wees van die vierde internasionale konferensie oor onwettige wildhandel met wêreldleiers wat in Londen gaan byeenkom om strategiese uitdagings oor handel te takel.

Dit volg op die konferensie in Londen in 2014, met konferensies daarna in Botswana en Viëtnam.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!