Britte bring grendeltyd op Kalahari-duin deur

’n Britse egpaar het tydens fase 1 van inperking 39 dae op ’n duin in die Kalahari gekamp pleks van terug huis toe te keer.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – As dit nie vir die Covid-19-pandemie en die wêreldwye inperkingsmaatreëls was nie, sou ’n Britse egpaar nou al halfpad deur Afrika op pad terug na hul tuisdorp, Bossingham, in Engeland gewees het.

Hoewel dít nie kon geskied nie, het mnr. Keith Tame en sy vrou, me. Julie Osborne-Tame, nie toegelaat dat die inperkingsmaatreëls hulle reisplanne heeltemal in die wiele ry nie.

Die Tames is versot op toer en het al verskeie reise in Afrika onderneem. Hulle goed toegeruste Land Rover word tussen toere in Suid-Afrika gestoor tot dit weer tyd is om die lang pad aan te durf.

Keith vertel hulle het verlede jaar in Suid-Afrika aangekom kort voordat die Springbokke vir Engeland in die Wêreldbeker geklop het.

Die plan was om die suidelike deel van die vasteland te verken en dan deur Afrika terug te ry Engeland toe.

Terwyl hulle in Namibië was, is die noodtoestand egter afgekondig en die grense gesluit. Die Tames het besluit om nie ’n repatriasievlug huis toe te haal nie, maar om die inperkingstyd hier deur te bring.

So het dit gebeur dat hulle 39 dae op ’n duin in die Kalahari gekamp het terwyl nuus oor die verwoestende impak van Covid-19 in Brittanje en elders in die wêreld hulle met groot moeite bereik het.

Julie vertel hulle het by Dunesong Breather naby Koës op 'n duin kamp opgeslaan. Keith, ’n elektroniese ingenieur, het op die hoogste punt waar selfoonopvangs was, ‘n paal opgerig waarteen hulle ’n selfoon in ’n sak opgehys het. Dié selfoon is gebruik om ‘n Wi-Fi-“hotspot” te skep sodat hulle internettoegang op hul ander toestelle kon hê.

’n Artikel oor hulle grendeltyd-avonture in Namibië sal in die Oktober-uitgawe van Land Rover Owner International verskyn, vertel Julie.

Toe die inperkingsmaatreëls verslap is, het hulle noodwaarts gereis en die Kavango en Caprivi besoek. Daarna het hulle deur die noordweste van die land en die Etosha Nasionale Park getoer.

Republikein het met hulle gesels toe hulle in Windhoek aan hul Land Rover laat werk het en voorrade gekoop het vir die volgende been van hul toer – dié keer na die Spitzkoppe.

Buiten op hul webjoernaal, www.campingafrica.co, het die Tames ook gereeld op hul Facebook-blad, Julie and Keith Africa Adventures, oor hulle ervaringe gedurende die grendeltyd in Namibië geskryf.

Hulle vertel hulle het ’n paar keer by kampeerplekke ander buitelandse toeriste raakgeloop wat ook besluit het om liewer die grendeltyd hier deur te bring as om terug te keer na die lande waarvandaan hulle kom.

Volgens Julie was hulle gereeld met die Britse hoëkommissariaat in Windhoek in kontak om te laat weet dit gaan nog goed met hulle.

Uit Engeland was die nuus nie altyd goed nie. Julie se beste vriendin het haar man en moeder aan die virus verloor. Sy sê dit breek haar hart dat sy haar vriendin nie kon bystaan nie, maar besef selfs al was sy in Engeland, sou sy haar in elk geval nie mag besoek het nie.

As alles volgens plan verloop, sal die Tames in September hulle voertuig op 'n skip plaas en terugvlieg huis toe.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!