Broer teen broer by blou waters
Des Erasmus
Hengel
Dit gaan ‘n stryd tot die bitter einde afgee met spioenasie- en antispioenasiemagte aan weerskante.
Dit is die hengeltoetsreeks wat aanstaande week tussen Namibië as gasheerland en die Springbokke van Suid-Afrika gaan plaasvind.
Dinsdag, Woensdag en Donderdag is dit soos broer teen broer by die viswaters. Vir die Namibiërs is dit meer as om net ‘n appeltjie met die buurman te skil. Dis eerder ‘n pampoen, want die verlore toetsreeks teen sy buurman verlede jaar dié tyd is nog nie vergete nie.
Vir Namibiërs is die tuisvoordeel handig, maar nie deurslaggewend nie. Toonvenstertaktiek van die buurman is dat sy ses spanne eers vandag per vliegtuig en per huurvervoer hier gaan aankom. Die Namibiërs se inligtingsdiens beweer van die beste hengelaars van oorkant die Oranje is nou al reeds dae langs die sentrale kus waar die strydperk gaan wees.
Ewe waar is dat van die toerusting van die besoekende hengelaars nou al dae lank op Hentiesbaai agter slot en grendel lê. Bra vroom is ’n aankondiging gemaak dat ‘n kenmekaar-aand Sondagaand by die waterglybaan in die Hentiesbaaise Vallei gehou gaan word. Die manne en die vroue van die blouwaters ken mekaar hoeka.
Op Maandagaand 5 Desember word die moue wel opgerol tydens die eerste kapteinsvergadering van drie, een die aand voor elke hengeldag. Baie hoflik gaan die Namibiërs vier vanggebiede voorstel met die kapteins wat gaan sê watter drie word gekies en watter een word verwerp.
Die voorgestelde hengelgebiede is in die omgewing van die wrak van die Winston langs die noordkus, by Myl 30, die gebied tussen Myl 4 en Myl 14 asook die Jakkalsputz-gebied. Elkeen van die voorgestelde vanggebiede strek oor ‘n afstand van sowat 10 km.
Net langs die stroke van 10 km sal daar in elk geval ‘n strook van 5 km wees waar die vroue- en onder 16-spanne sake gaan uitspook. Dit skakel moontlike onmin tussen vlak- en diepgooiers uit asook ontwrigting wat kan ontstaan wanneer ‘n hengelaar sukkel om ‘n werklike grote op die strand uit te sleep. Vroeë aanduidings is dat Jakkalsputz vir die laaste dag die strydperk gaan wees, omdat die gebied naby Hentiesbaai as basis geleë is.
Die spanne wat teen mekaar op die strande gaan stap, is o.16, o.21, grootmeesters, meesters en seniors. Die stryd tussen die sewe deelnemers per span onder die seniors is die eintlike plek waar die uur van waarheid gaan aanbreek.
Onder die vrouehengelaars gaan alle oë op Kabous Louw van Suid-Afrika gevestig wees. G’n kabouter is hierdie Kabous nie, sy het pas as die vroue se wêreldkampioen uit Ierland na Suid-Afrika teruggekeer. Die FIPS Wêreldkampioenskappe word aanstaande jaar in die geweste van Langebaan in die Wes-Kaap se weskus aangebied. Dis juis Kabous se toorgoedjies by die viswaters wat nou al dae lank op Hentiesbaai op haar aankoms wag.
Net die aasvoorraad vir aanstaande week se toetsreeks dui op die erns van die armdrukkery. Daar is 260 kg pelsers wat vir veral die kabeljou aangesit sal word, 720 kg makriel asook 550 kg harders vir die haaivangers. Vir die vroue gaan die aaspakkies met witmossels aangevul word.
Om die bron te beskerm, sal al die vis wat in die kompetisie gevang word, op die strand deur beamptes gemeet en dan versigtig in die water teruggeplaas word. Die Namibiese hengelaars se vangste sal deur die Suid-Afrikaners gemeet word en andersom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie