Broers slaan slag in Davisbeker
Broers slaan slag in Davisbeker

Broers slaan slag in Davisbeker

Namibië se blote onoorwonne rekord die afgelope week vertel nie die volle verhaal van hoe hard die jongmanne deurgaans geveg het nie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Van Schalkwyk-broers Codie (19) en Connor (16), asook hul spanmaats Nguvi Hinda (21) en Daniel Jauss (16) wat op die vroeër dae as dubbelspelpaar ingespan is, het Saterdag in Brazzaville, Kongo, die Afrika Groep 4 Davisbekertoernooi gewen toe hulle Nigerië op die laaste dag met 2-1 geklop het.

In die enkelspelwedstryde wat eerste gespeel was, het Namibië gemengde sukses behaal deur een te wen en een te verloor. Dié uitslag het gesorg dat die Namibiërs deurgaans onder geweldige druk was om die dubbelspelfinaal in te palm.

In die dubbelspelwedstryd met Codie en Connor op die baan, het sake vanuit die staanspoor volgens plan verloop toe hulle die eerste stel met 6-4 wen, maar die tweede stel was behoorlik senutergend tot op 3-3. Genadiglik trek die Van Schalkwyks toe laer en oorrompel hul teenstanders met 6-3.

Namibië verwerf dus bevordering om volgende jaar in die Davisbeker Afrika Groep 3 mee te ding. Namibië het in 2018 sy beste uitslag behaal toe hulle Groep 3 gewen het te danke aan Jean Erasmus (kaptein), Tukhula Jacobs, Deon van Dyk en Paul Schwieger.

In 2018 het Namibië 12 wedstryde gewen en slegs 3 verloor. In die finaal het hulle die einste Nigerië met 2-1 in die finaal laat ontspoor. Maar in 2019 in Nairobi, Kenia, eindig Namibië derde in Groep A met drie gewen en ses verloor.



RY WIPPLANK

Hul spankaptein, Gerrie Dippenaar, was 'n emosionele man ná sy troepe dié gewigtige wa deur die drif gesleep het.

Dippenaar het vertel: “Dit was een van my moeilikste dae op kantoor! Die Davisbeker is 'n taai en senutergende kompetisie.

“Ons is verskriklik trots op Connor. In sy enkelspelwedstryd (teen Uchi Oparaoji) het hy ná die eerste stel met 6-0 verloor, maar hy wen die tweede een met 6-3. Hy wen wel die derde stel, maar eers nadat hy almal se senuwees op hol gejaag het. Hy was met 3-1 voor, maar toe skielik is hy met 3-4 agter!

“Hoe hy dié wedstryd in sy guns geswaai het, weet ek nie, maar hy speel uitstekend en wen die laaste stel met 6-4 om Namibië met een wedstryd teen nul te laat voorloop.

“Codie het ongelukkig sy enkelspelwedstryd met 6-1, 6-2 verloor, wat sake toe gelykop maak. Ons moet Nigerië se nommer een speler (Joseph Ubon) krediet gee. Hy het werklik goeie tennis gespeel en was deurentyd 'n doring met sy afslane.

“Ons was positief dat hulle die eindstryd kon wen. Volgende jaar is ons in Davisbeker Groep 3! Ek wens julle kon die twee Van Schalkwyk-broers vandag sien speel het, want die druk was ongelooflik. Ek is verskriklik trots op hulle!”



BALANSSTAAT LYK BETER

Vandat Namibië in 2000 tot die Davisbeker-kompetisie toegetree het, het sy manspanne teen die taaiste Afrika-lande kragte gemeet. Voor Saterdag se naelbytsege by die Sportif Concorde de Kintele-sportsentrum in Brazzaville, kon Namibië in 18 jare se deelname net 38 van hul 79 wedstryde wen en verloor 41.

Ná die afgelope week lyk dié syfers met 51-43 sommer beduidend beter.

Die onoorwonne Namibiese span van 2021 klop Nigerië met 2-1, Uganda met 3-0, Kongo met 3-0, Angola met 2-1 en Botswana 3-0. Met hul enkelspelseges het Connor van Schalkwyk (5-0) en ouboet Codie (4-1) hul opposisie behoorlik onder druk geplaas.

Connor het hom tot gister in posisie 257 op die junior wêreldranglys bevind, nadat hy in Januarie vanjaar sy beste plasing nóg (214de) behaal het. Codie se beste posisie in sy junior dae was 215de in Februarie 2020.

Namibië het eerste in Groep A met 11-1 geëindig en Botswana tweede met 9-3.

Ivoorkus eindig eerste in Groep B met 10-2 (en word ook na Groep 3 bevorder), met Nigerië tweede (8-4). Ivoorkus wen 2-0 in sy oorkruisfinaal teen Botswana.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!