‘Bromance in die boendoes’

Erns en Toast ry agterpadlangs
Henriette Lamprecht
Dis nie net vir inpak en ry nie. ’n Properse “road-trip” die Namibiese boendoes in, kos beplanning van watter kronkelpad eerder vermy moet word en watter hoofpad is altyd die moeite werd. Die gesoute joernaliste en skrywers en geswore padvriende, Toast en Erns, vertel hoe hulle dit aanpak.

Rep: Hoekom moes julle die langpad vat?
Toast: Ek en Erns gaan al vir jare Namibië toe vir Weg, dus ken ons die land al goed. Ons het ook al persoonlike konneksies opgebou met soveel Namibiërs, en tot ’n groot mate is Weg Agterpaaie ’n program oor ek en Erns wat ou vriende gaan herbesoek!
Erns: Ek en Toast is al vir byna twintig jaar goeie vriende, en dit is nog een van die redes waarom ons die reeks saam aangepak het. Ons reis meestal alleen vir Weg en het byna ’n dekade laas saam op ’n road-trip vertrek. Ek verwys tong-in-die-kies na ons reis as ’n “‘bromance’ in die boendoes”.

Rep: Hoe het die idee van ’n televisieprogram ontstaan?
Toast: Die TV-kanaal­ Via word besit deur Media24, wat ook vir Weg besit. Daar is besluit om ’n program te maak wat Weg se gehoor ook op TV sal kan boei.
Erns: Ek en Toast is albei diep lief vir Namibië en sy mense, dus was dit baie maklik om op dié land te besluit vir hierdie eerste reeks.

Rep: Verg so ’n reis baie beplanning?
Toast: Op ’n manier beplan ons al vir jare aan die reis, omdat baie navorsing wat ons vir Weg-artikels en ons jaarlikse Weg Namibië-gids gedoen het, ook hierin ’n rol gespeel het.
Erns: Ons het met ’n Namibië-kaart en van ons onlangse artikels gaan sit en ’n logiese roete uitgewerk, ons vriende en kontakte in die land gebel en afsprake gemaak. Daar was baie beplanning vooraf, maar dit is alles deel van die ervaring. Daar was ook heelwat verrassings langs die pad.

Rep: Wat was die bepalende faktor toe op die roete besluit is?
Toast: Ons wou ’n verskeidenheid land­skappe sien, en ’n wye spektrum van mense ontmoet: Van boere tot plaaswerkers, jakkalsjagters tot lodge-­eienaars, wildnavorsers tot oesterboere. Ons het ook geweet dat die suide van Namibië meer as genoeg materiaal sou bied vir die hele Weg Agterpaaie-reeks. Hopelik kan ons eendag ook die Noorde (en die middel!) van die land besoek!
Erns: Ons wou veral ’n roete in die Suide kies wat vir Suid-Afrikaners maklik bereikbaar kan wees, sommer in ’n gewone voertuig, maar ook vir kykers wat nog nooit die land besoek het nie. Baie mense wat die reeks kyk, het ons al laat weet hulle wil ook nou die langpad vat Namibië toe, wat goed is om te hoor.

Rep: Wil julle juis die “tourist traps” besoek, of eerder die kleiner plekkies waarby mense verbyjaag op pad Swakopmund toe?
Toast: Die antwoord hierop lê in die program se naam: Weg Agterpaaie. Agterpaaie is deel van Weg-tydskrif se DNA. Ons hou daarvan om plekke te sien waar min mense kom, en dit dan bekend te stel aan ons lesers. Ja, ons besoek ook klassieke bestemmings soos Sossusvlei, Kolmanskop en die Visrivier-canyon in die reeks, maar dan probeer ons dit op ’n manier aanbied wat vars sou wees, nie dieselfde ou storie nie.
Erns: Ons is lief vir agterpaaie, en dit is noodwendig meestal grondpaaie. Namibië se grondpaaie is ’n plesier om te ry en ook in ’n beter toestand as baie teerpaaie in Suid-Afrika. En langs die agterpaaie loop jy altyd interessante mense raak wat sorg vir goeie stories en TV.

Rep: Wat pak ’n man in vir so ’n uitstappie?
Toast: Ek en Erns het maar ingepak wat ons gewoonlik sou pak: Klere, kameras, droë vrugte, biltong . . . Ons het nie baie gekamp nie, net een aand, maar die ­voertuie wat ons bestuur het, was toe­gerus met daktente en al die basiese kampgoed, dus was ons altyd gereed daarvoor.
Erns: Ons was ’n klein span: ek, Toast en twee kameramanne/regisseurs, Chris Kritzinger en Kobus Zietsman. Hulle het ook ’n Hilux-bakkie gehad, maar anders as ons moes hulle ’n magdom toerusting rondkarwei. Een van die belangrikste items was die “drone”, wat ons later Spikkels gedoop het. Spikkels het pragtige video’s uit die lug geneem.
Rep: Wat was die verkose padkos en wie moes maak en wie moes koop?
Toast: Hierdie toer was anders as ’n gewone Weg-joernalis-op-toer-trippie siende ons meestal by lodges en gasteplase oornag het. Kos was dus voorsien. Ek was gewoonlik in beheer van inkopies doen vir padkos, want Erns sou vir ’n halfuur in die winkel verdwyn en dan net terugkom met vier pakke skyfies. Die een aand wat ons gekamp het, was ek ook in beheer van die kospotte, Erns het darem help patats skil, maar dis nie sy sterk punt nie.
Erns: Nog iets wat ’n waarborg is wanneer jy in Namibië reis, is boere se gasvryheid. Ons was omtrent met elke besoek aan ’n plaas daar weg met biltong en droëwors en ander lekkernye. Wat ’n voorreg! Ek het wel vier kilogram opgetel in die maand in Namibië. Ons het dus meestal gepeusel aan southappies, hoewel ek soms vir ’n sjokolade of twee geswig het wanneer ons by ’n vulstasie gestop het.

Rep: Watter musiek luister julle, veral op die pad tussen Grünau en Keetmanshoop, Aus tot by Lüderitz? (’n Láááng pad kan ’n man vinnig laat sluimer!)
Toast: Ons het baie geluister na van die musikante wie se musiek ons ook in Weg Agterpaaie gebruik. En nee, dis rustige musiek! Die groep Benguela is ’n trio uit die Kaap, dan ook kitaarspeler Derek Gripper en die groep Red Earth & Rust.
Erns: Die musiek wat in die reeks gespeel word in die agtergrond was ons voorstel en dit is die tipe musiek waarna ons self luister wanneer ons reis vir Weg. Dit pas baie goed by die hipnotiese land­skap van Namibië.

Rep: Wat was die eerste land buiten Suid-Afrika wat julle elk op jul eie (nie deel van werk of ’n televisiespan nie) besoek het?
Toast: Lesotho. Dit was 1991 en ek was in standerd 6. Ek het vakansiewerk gedoen saam met ’n toergids wat skoolgroepe ingevat het Lesotho toe. Ek onthou hulle was toe nog besig om die Katsedam te bou.
Erns: Ek het einde 2002 vir die eerste keer ’n stempel in my paspoort gekry. Ek was 23 en het pas klaar gestudeer en moes saam met ’n vriend ’n ryk ou van Kampsbaai se Land Rover veilig in Windhoek besorg. Die suide van Namibië was dus my eerste buitelandse bestemming!

Rep: Watter plek het die grootste indruk op julle gemaak en waarom?
Toast: Vir my is die Kalahari en sy mense besonders. Die Kalahari op sy eie is harde wêreld, en om daar te boer, is om te verkies om klippe te kou. Maar die mense word getemper deur dié harde, warm plek – en die resultaat is van die hartlikste mense wat jy enige plek sal ontmoet.
Erns: Dit is ’n baie moeilike vraag om te antwoord. Dit klink dalk voorspelbaar, maar dit is altyd vir my besonder om die Visrivier-canyon te besoek. Manni Goldbeck van die Gondwana Collection het ons na ’n uitkykpunt geneem wat nie so gereeld besoek word nie. Om daar teen sononder te kon sit, was ’n heilige ervaring.

Rep: As ’n trotse Namibiër weet ek my land is spesiaal en wil ek net hier bly, maar wat doen die land vir julle?
Toast: Ek dink Suid-Afrikaners kom vir die ooptes, die stilte, die vrede wat die Namibiese platteland bied. Namibië het ’n natuurskoon wat geen ander land ter wêreld bied nie. Uiteindelik is dit sonder twyfel die goedhartigheid van sy mense wat ons weer en weer sal terugroep.
Erns: Namibië is ’n hartland met grens­lose gasvryheid en onvergelykbare land­skappe. Ons is diep lief vir Namibië en sy mense. Ek dink die meeste Suid-Afrikaners wat al die land besoek het, wil eintlik graag daar woon.

Rep: Vertel van ’n interessante staaltjie of gebeurlikheid van wat op jul agterpadreis gebeur het en waaroor die vervaardigers nie sal mor as ons dit publiseer nie!
Toast: Daar is eintlik soveel goed wat gebeur het wat dit nie op die program gemaak het nie, daar’s net eenvoudig nie tyd om alles in te sluit nie. Ek onthou byvoorbeeld (ten tyde van die skiet van episode 2) die aand toe ons wegry van Ai-Ais, het ons op ’n padkamp afgekom. Elke Namibiër weet hoe lyk dit: Die pad­skraper wat afgetrek het vir die nag, die ou karavaan, ’n vuurtjie wat brand waar die padskraperdrywer en sy agterloper (die ou wat die klippe uit die pad moet gooi) hande staan en warm maak. Ons het ’n ruk met hulle gesels en gekyk hoe hulle die nag deurbring. Ek het baie waardering vir dié ouens – jy ry elke dag verby ’n padskraper iewers op ’n agterpad in Namibië. Dankie aan dié mense wat so hard werk om die reis vir elk van ons makliker te maak.
Erns: Een van die lekkerste ervarings wat nie die TV gehaal het nie, was toe ons na aan die einde van die reis, ná byna 30 dae van volstoom werk, langs die C13 tussen Aus en Rosh Pinah by ’n piekniekplek gestop het. Dit was net ná sononder, ons was laat en onder druk om by Rosh Pinah uit te kom. Maar Toast het wyslik voorgestel dat ons summier aftrek en “padribbetjie” braai. Hy het vroeër die dag ribbetjies op Lüderitz gekoop. Dit was te donker vir die kameras om te rol, maar dit was ’n baie spesiale braai onder die sterre.
*Weg! Agterpaaie is elke Woensdag om 20:30 op die Afrikaanse leefstyl-kanaal VIA (DStv-kanaal 147) te siene.

Toast en Erns se roete

Episode 5: Kalahari (21 September)
Die Namibiese Kalahari is een van die mooiste dele van die land. In hierdie episode ontmoet ons van die mense wat in hierdie harde wêreld ’n lewe voer.

Episode 6: Kalahari (28 September)
Ons ry dieper die Kalahari in, oor die duinepad na die Auob-rivierbedding en tot by Kalahari Game Lodge. Ons besoek Sitzas, ry noord na die Nossob en eindig by Gochas.

Episode 7: Keetmanshoop tot Seeheim (5 Oktober)
Die fokus is op diere, drie sterk seksies uit die Keetmanshoop-­omgewing, eers prehistoriese diere, dan mak cheetahs en vlakvarke en ­laastens opgestopte diere en ’n papegaai.

Episode 8: Seeheim tot Klein Aus Vista (12 Oktober)
Van Seeheim tot by Klein Aus Vista, op die rand van die Namibwoestyn.
Episode 9: Klein Aus Vista tot Maltahöhe (19 Oktober)
Die mooiste grondpad (D707) in Namibië en ’n ontmoeting met ’n landskapkunstenaar in die Nambtib Biosfeer Reservaat.

Episode 10: Solitaire en Sossusvlei (26 Oktober)
Die fokus val op die klassieke dinge rondom Sossusvlei en Sesriem, maar ook ’n paar ongewones wat meeste toeriste na die streek misloop.

Episode 11: Sossusvlei tot Lüderitz (2 November)
Die eindbestemming is Lüderitz en daar is ’n besoek aan die Helmeringhausen-hotel.

Episode 12: Kolmanskop en Pomona en Bogenfels (9 November)
Toast en Erns in die Sperrgebiet, spookdorpe en ’n geologiese wonder.

Episode 13: Lüderitz tot by Amanzi River Camp (16 November)
Die twee reis suid in die rigting van die Oranjerivier.

WEN MET VIA
Die program Weg! Agterpaaie speel op Woensdae op DStv se nuwe kanaal VIA, wat staan vir Vars in Afrikaans (kanaal 147).
Tot en met die einde van die reeks kan een gelukkige DStv-intekenaar elke week ’n verkyker en kampeerlig met ’n gesamentlike waarde van N$600 wen.
Skryf die sleutelwoord “VIA” vooraan jou SMS en beantwoord die volgende vraag.
Noem enige van die Namibiese dorpe waar Erns en Toast in Weg! Agterpaaie aandoen.
Stuur jou antwoord na 53500 (elke SMS kos N$3).
Net intekenare op die Premium-, kompakte en gesinspakket kom in aanmerking vir die prys. Wenners word elke Maandag getrek en sal in die volgende uitgawe van Kollig aangekondig word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!