Bruin boekie staan vir paspoort in
Onderhandelinge met SADC-lande is onderweg om Namibiërs toe te laat om noodreisdokumente te gebruik.
Henriette Lamprecht – Die ministerie van binnelandse sake en immigrasie reik tans bruin reisdokumente aan Namibiese reisigers uit wat weens ‘n tekort aan groen paspoortboekies nie geholpe raak nie.
Volgens die minister, mnr. Frans Kapofi, is daar wel ‘n paar lande, veral in die Europese Unie, waar Schengen-visumvereistes geld, wat kommer oor die reisdokument uitgespreek het.
Die kommer is hoofsaaklik oor paragraaf 4 van die teks op bl. 24 van die reisdokument wat lui: “Die dokument is geldig vir die tydperk soos genoem op bl. 23. Sou die draer in ‘n land buite Namibië gaan woon, moet hy/sy, sou die persoon wou reis, by die owerhede van die land vir ‘n nuwe dokument aansoek doen.”
Kapofi het beklemtoon dit raak nie Namibiese burgers nie.
Volgens hom kan dit wel vlugtelinge en staatlose mense raak, sou hulle nie toestemming vra om hulle in lande buiten Namibië te vestig waar hulle regmatig wil woon nie.
“Ons doen daarom ‘n beroep op alle lande om die reisdokument te eerbiedig omdat die houers daarvan bona fide-burgers of inwoners van Namibië is.”
Kapofi het ook gesê die ministerie onderhandel tans met lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om Namibiërs toe te laat om noodreisdokumente te gebruik.
In die geval waar die dokumente nie aanvaar word nie, is die versoek om houers van Namibiese paspoorte in die onderskeie lande toe te laat vir ‘n geldige tydperk van ten minste die laaste week (7 dae) voor die paspoort verval.
Volgens Kapofi sal die publiek ingelig word wanneer ‘n ooreenkoms met SADC-lande bereik is. Hy het gemaan dit is net ‘n tydelike maatreël om tot ten minste 20 November vanjaar te geld wanneer die verwagte agterstand en verwerking van paspoorte weer op dreef behoort te wees.
Kapofi sê die reisdokument wat aan Namibiërs, vlugtelinge of staatlose mense uitgereik word, se geldigheid wissel van ses maande tot twee jaar en in beperkte gevalle tot vyf jaar. Volgens hom is planne in ‘n gevorderde stadium om die geldige tydperk van Namibiese paspoorte van vyf na tien jaar te verleng.
Kapofi het ook verwys na ‘n reisdokument wat voor die einde van die jaar spesifiek vir vlugtelinge en in ooreenstemming met die Verenigde Nasies (VN) se konvensie van 28 Julie 1951 uitgereik sal word. In die toekoms sal ‘n noodpaspoort of –reisdokument vir slegs Namibiërs en een vir staatlose mense ingestel word om enige verwarring en misverstand te vermy.
Kapofi sê die nuwe paspoortboekies word voor die einde van die volgende kwartaal (tweede kwartaal van die 2019-’20-boekjaar) verwag.
Volgens hom is die paspoortboekies verlede jaar van die buitelandse verskaffer bestel. Weens die duur van die proses vir die finalisering van die koopkontrak en vereistes om aan die verkrygingsproses te voldoen, is die verskaffing van die boekies egter volgens hom vertraag.
“Gevolglik het die behoefte ontstaan om ons klein beskikbare voorraad te rantsoeneer om in die behoeftes van die mees kritieke reise te voldoen,” het hy gesê.
“Ons doen ‘n beroep op die publiek om dit in hul reisplanne in berekening te bring. Ons vra verskoning vir enigiemand wat negatief deur die huidige situasie geraak word. Dit is ‘n ongelukkige situasie wat ‘n gevolg was van omstandighede buite ons beheer.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie