Bruin hiëna se sosiale lewe bekyk

Gewoonlik word bruin hiënas as alleenlopers beskou, maar hulle lei hoogs sosiale lewens in hul skuilplekke in die geheim.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Meer lig is on­langs op die ont­wykende bruin hiëna se sosiale lewe gewerp.

Dít danksy AfriCat se bruin hiëna-navorsingsprojek in die Okonjima-natuurreservaat buite Otjiwarongo, wat GPS-nekbande en versteekte kameras vir dié doel in­gespan het.

Die bruin hiëna se skuilplek, ofte wel die strandjut of strandwolf, word doelbewus weggesteek – dikwels in 'n ruie bos ver weg van paaie en mense, skryf AfriCat in 'n artikel getiteld “Brown Hyaena Den News” op hul webtuiste.

AfiCat het volwasse bruin hiënas met GPS-nekbande toegerus om hul skuilplekke makliker te vind.

“Hul skuilplekke is die kern van die bruin hiëna-samelewing met alle troplede wat dit besoek. Versteekte kameras is daar opgesit toe die ­volwasse bruin hiënas nie teenwoordig was nie,” lui die artikel.

Volgens AfriCat is die skuilplekke se hooffunksie om welpies, wat die eerste 12 tot 15 maande van hul lewens slegs in die skuilplek bly, beskerming te bied.

“Skuilplekke wat gekies word, is nou tonnels wat te klein vir volwasse bruin hiënas of ander karnivore is om in te pas. Die jong welpies sal net uit die skuilplek kom as 'n volwassene teenwoordig is, en gewoonlik bring die ma hulle uit die skuilplek uit waar sy saggies in die tonnel na hulle roep.”

Bruin hiënas grawe nie self hierdie tonnels nie, maar neem volgens AfriCat die ongebruikte gate van erdvarke, vlakvarke en ietermagôs oor.

Die dragtigheidstydperk duur drie maande en die welpies word gebore met toe oë en ore wat vorentoe gevou is.

Volgens AfriCat word die welpies in 'n klein lêplek weg van die trop gebore, en ná drie maande na die hoofskuilplek gebring.

“'n Gemiddelde welpie weeg by geboorte sowat 693 g, wat slegs 1,9% van 'n volwassene se gewig is. Werpsels kan tussen een tot vier welpies wees met 'n gemiddel van drie welpies,” sê AfriCat.

“Wanneer die welpies vier maande oud is, word hulle alleen in die skuilplek gelos met 'n gemiddeld van een besoek van die ma elke 24 uur. Wanneer hulle 10 maande oud is, bestee hulle meer tyd weg van die skuilplek en verlaat dit bedags.”

Op 30 maande word 'n bruin hiëna as volwasse beskou, en word die skuilplek verlaat.

Hulle lei dan óf 'n nomadiese lewe óf integreer in 'n nuwe trop.



DIEET

As sosiale diere help alle troplede om die welpies groot te maak deur vir hulle kos na die skuilplek te neem. As meer as een wyfie terselfdertyd welpies het, sal hulle mekaar se welpies soog.

Welpies se dieet sluit vleis in vandat hulle 12 weke oud is, hoewel hulle nie gespeen is tot hulle 12 tot 16 maande oud is nie.

Die teenwoordigheid van ou bene en velle om die ingang van die skuilplek is 'n sleutelkenmerk daarvan, volgens AfriCat.

“Tans monitor ons vier bruin ­hiëna-skuilplekke in die Okonjima-natuur­reservaat. Elkeen het welpies van ­verskillende ouderdomme wat aan verskillende troppe behoort.”

Die skuilplek in die noordweste van die reservaat het die oudste welpies, wat die meeste van hul tyd by die skuilplek naby 'n rivier bestee en gespeen is.

“Volwassenes van die trop bring gereeld vir hulle kos, wat steenbokke, gemsbokkalwers, volstruise, elandpote en selfs 'n dooie erdvark kan insluit. Wanneer 'n volwassene met kos opdaag, heers daar groot opwinding by die skuilplek; hulle hardloop na die volwassene toe met regop hare, gretig om die nuwe ete te ondersoek,” sê AfriCat.

Die skuilplek by die Poort-gebied het tans drie ouer en drie jonger welpies, wat almal aan Ed, 'n wyfie met 'n nekband, drink.

Dié skuilplek is op 'n berg geleë en die welpies soek in die grotte skuiling.

Volgens AfriCat is daar nóg 'n skuilplek aan die voet van 'n noordelike berg, waar drie groter welpies besig is om die omgewing te ontdek en dit lyk of hulle in die proses is om van een van die wyfies met nekbande te speen.

“Ons nuutste skuilplek behoort aan die noordoostelike trop, wat tans 'n klein welpie het wat een of twee keer per dag aan 'n wyfie drink, wat ook met 'n nekband toegerus is.”



BESOEK VAN ANDER SPESIES

AfriCat sê alle skuilplekke word deur ander spesies besoek.

“Dit is senutergend om foto's en video's van ander karnivoorspesies by skuilplekke te sien. 'n Gevlekte hiëna het die welpies van die noordwestelike trop in die tonnels in gejaag en self daar probeer inklim.”

Geen vrektes het voor­gekom nie, “maar dié voorvalle wys duidelik die risiko vir bruin hiëna-welpies om saam met ander groot karnivoorspesies in dieselfde gebied te bly”.

Deur die skuilplekke te monitor, kan welpie­groottes geanaliseer word, wat weer kan help met die skatting van bevolkingsgroeikoerse.

'n Doeltreffende bestuursplan vir bruin hiënas kan ontwikkel word, nie net vir ­Okonjima nie, maar vir alle ­reservate in Suider-Afrika, meen AfriCat.

Die Namibian Wildlife Conservation Trust het die versteekte kameras geborg, Varta ­Consumer Batteries Namibia het ­batterye vir die ­versteekte kameras verskaf en ­Okonjima Lodge die GPS-nekbande.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!